ADVERTISEMENT:

 

 
 

4. Daisy bou ‘n hoenderhok en begin boer ...

Date: 24 October 2013 By: News Correspondent

Die hoenders kom met ‘n stowwerige geleent­heid agterop ‘n groen Mahindra by Daisy aan. Vir Daisy is dit Krismis - sy verwelkom elkeen van die agt geveerdes asof hulle die vreemdelinge is waarna sy elke Sondag sesuur verlang.

Voor Die Groot Trek het Daisy verstom ver­neem dat hoenders nie soos hulle wilde neefs en niggies hulle toevlug na bome neem nie en snags in veilige hokke moet slaap. Daisy het inderhaas ‘n interior tydskrif geraadpleeg wat stap-vir-stap wys hoe om ‘n hoenderhok vir ‘n stadstuin te bou. Eintlik het die artikel gegaan oor daktuine wat orals in stede mode word en die planne was vir ‘n klein konserwatorium waarin jy ontwerpersblare en -kruie kon groei. Met geringe aanpassings kon dit egter omskep word in luukse akkommodasie vir eksotiese pluimvee ...

Daisy het met primitiewe gereedskap, twee­de­handse boumateriale en baie feministiese durf die projek aangepak. Vir dae aaneen spartel en timmer sy, tot groot vermaak van die Bosbewo­ner, onder die Mashatuboom in die stof.

“Jy weet, Daisy, as jy nou nie so hardekwas was om alles self te wil doen nie, was die werk al klaar. Dis nou al die derde dag wat ek ons aan die lewe moet hou met jaffles en koffie en die enigste vordering is die kleurvolheid van jou woordeskat wanneer jou vingers in die pad van die hamer kom!” mor hy.

“Kyk jy maar net uit vir daai slang wat gister­aand in jou Landcruiser ingeklim het,” kap sy terug. “Ons moet môre Seinheuwel toe ry om e-posse te stuur en oproepe te maak en ek is heel­temal te jonk om noual die Pêrelpoorte te betree!”

Uiteindelik staan die hok. Daar is min aan die konstruksie wat herinner aan die oorspronk­like planne, maar uiteindelik moet selfs die Bos­bewoner toegee dat dit die basiese doel sal dien. Tot Daisy se verbasing is hy die een wat trots vir die hoenderkarweier vertel dat sy die hok heeltemal alleen gebou het en kyk net hoe snoesig lyk die neste!

Daisy verlustig haar aan die bont skrophoen­ders. Opgewonde betrek sy die Bosbewoner en die karweier by die uitkies van die name. Elkeen onthou uit hulle kinderjare ‘n geliefde troetelhoender en dit ontaard in ‘n prettige, lawwe aktiwiteit. Die henne is maklik – daar móét ‘n bruin Bessie wees en ‘n histeriese Hester. Dan kom angstige Antjie, gevolg deur Dowwe Dolla en Suzuki. (Moenie vra nie nie, g’n mens weet hoe werk ‘n man se kop nie!)

Die hane verg sober denke, hoofsaaklik omdat hulle net twee is en omdat dit algemene kennis is dat mens ligkens met enige man se naam en reputasie moet werk. Daar word koffie gedrink en jaffles geëet terwyl die hoendertjies hulle nuwe stellasie uittoets. Een na die ander naam word uitgeryg net soos in die storie van Repelsteeltjie. Uiteindelik is daar twee name – die haan met die Chuck Norris houding en die vere langs sy gevaarlike spore word Drachma gedoop. Net omdat dit so ‘mean’ klink. Die ander haan se kam is deurslaggewend – hy loer agterdogtig onder die formidabele rooi gedoente uit en dadelik sien Daisy hom in ‘n blinkerwit kostuum met bell bottoms en hoor sy die polsende klanke van ‘Blue Suede Shoes’. Elvis, sonder enige twyfel.

Met ‘n hart wat oorloop van blydskap oor die nuwe troeteldiere gaan voer Daisy die hoenders teen sononder. Sy sing in die skuimbad, bekyk haar gebreekte naels en blou duime ongestoord en ewe blymoedig maak sy ‘n gangbare weer­gawe van ‘n pizza vir aandete. Kort na agt skakel sy haar rekenaar af en rol sy haar wit beddegoed oop op die bank. So ‘n lekker produktiewe dag, glimlag sy behaaglik toe die Bosbewoner die ligte afskakel ...

Kwart oor agt begin ‘n haan kraai. Toe nog een.

Ligte gaan aan en die Bosbewoner gaan loop ‘n draai by die hoenderhok. Maar die henne is rustig, daar is nie gevaar nie.

Halftien begin ‘n haan kraai. Toe nog een. Die eerste een ken al die rympie, die tweede een spring goed weg maar halfpad deur raak hy uit stoom uit.

Net voor een begin die proses van vooraf. Die tweede haan klink vaak. Vieruur word Daisy wakker toe die eerste haan met entoesiasme die vyfde keer ‘n nuwe dag aankondig. Sy raak nie weer aan die slaap nie.

Teen dagbreek maak Daisy die Bosbewoner wakker met koffie. “Het jy lekker geslaap, Daisy?” glimlag hy.

“Al wat ek by jou wil weet,” sê Daisy met stywe lippies, “is of jy geroosterde hoender of hoenderpastei wil eet vanaand?”

 
 
 

Viewed: 1924

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT