133. Daisy sê koebaai aan almal (... vir oulaas)

Bernard was slim. Baie slim.

Hy het geweet om nie vir Daisy baie tyd te gee om te broei oor die trekkery Holland toe nie. Solank sy oorweldig is deur die details en logistiek, bly sy haar energieke, skertsende self. Aan die ander kant het hy geweet dat die uitnodiging aan Ousus en Jacobus om saam te gaan Holland toe vir die eerste ruk, ‘n heerlike vakansie-atmosfeer gee. Daar is nie regtig te veel om te trek nie. Hoogstens ‘n tas met persoonlike goed – die huis (wanneer hulle ‘n geskikte een kry) sal Daisy en Ousus vinnig genoeg inrig.

Vier aande voordat hulle avontuur begin, braai hulle vir oulaas. Daar is omtrent nie een bekende gesig van Waterpoort wat nié daar is nie. ‘n Geroesmoes van kinders, die mans met Klippies en Coke om die vuur en die vrouens wat saamkloek en kontreistories en hekelresepte uitruil. Bernard en Daisy staan handomdielyf eenkant en beskou die byeenkoms.

“Ek gaan hierdie macho spulletjie mis,” sug Bernard. “Hulle wil almal net weet hoe naby ons aan Walletjestraat gaan bly en of ons hulle na die Bulldog toe sal vat in Amsterdam vir ‘n twakkie wanneer hulle kom kuier!”

“Jy sal hulle gou opvoed oor al die aantreklikhede van Nederland as hulle regtig kom kuier,” lag Daisy. “Daar is ook maar bitter baie wanpersepsies oor Suid-Afrika in Europa ... Kom ons gaan kry ons mak leeu en renostertjie om die kos te bedien!”

Toe almal weg is (redelik vroeg – die kinders het skool môre!) sit hulle saam met Jacobus en Ousus om die vuur.
“Daisy – het jy nou al gaan groet in die dorp?” wil Ousus weet.
“Moet ek regtig?” wil Daisy weet. “Ons het mos nou die bure gegroet.”
“Jy prokrastineer, Daisy. Dis onaangenaam, nou wil jy dit nie doen nie,” betig Ousus. “Ek sal saamgaan. Ten minste moet jy vir Tannie Patel en Marinda van die katte gaan groet en die Griekse boeties van die winkel en die mense van Mountain Inn en daai antie van die kwekery en die boer waar jy altyd jou lietjies op Levubu gekoop het...” Ousus begin huil.

“Gmpf. Mens sou sweer dis jy wat trek, Ousus. Hier is ‘n tissue vir jou neus.” Daisy probeer hard dat Ousus nie sien haar eie lip bewe nie.

“Nou toe – as jy so ernstig is daaroor dat ek al hierdie mense moet gaan groet, moet jy dan maar saamkom.” Ousus praat nie teë nie.

“Ja – ek kan maar netsowel. My tasse is klaar gepak. Ek het gedink ek gaan meer tyd nodig hê om te pak, maar dis mos somer daar. Dis makliker.”

Die volgende dae is ‘n warrelwind van aktiwiteite. Daisy en Ousus gaan drink tee en groet en ruil tussendeur stories uit oor hulle kinderjare. Daisy gaan vir oulaas Musina toe; gaan groet haar skoolvriende en sê koebaai vir die skool. Sy en Ousus vat blomme na die Haantjiekerk se muur van herinnering toe. Hulle vertoef ‘n rukkie in stilte by hulle ouers se gedenkplaatjies.
“Dis darem nie asof ek nooit weer hiernatoe sal kom nie, nê Ousus?” soek Daisy haar sus se versekering. “Hierdie wêreld is vasgeanker in ons bloed. Mens sal nooit, ooit ophou om die roep daarvan te hoor nie.”

“Maar dit sal nie dieselfde wees nie, Daise. Volgende keer as jy kom, het jy dalk ‘n baba en dan is jy klaar in jou hart ‘n bietjie van ‘n Hollander. Jy sal ‘n besoeker wees, nie meer ‘n inwoner nie. Jou huis en jou vriende en jou lewe gaan radikaal verander...” Ousus kyk by die karvenster uit sodat Daisy nie die trane kan sien nie.

“Ja, toe-toe. Jy raak oud en sentimenteel, Ousus. Kom ons ry. Daar is nog baie laaste­minuut goedjies wat ons moet doen. En ek het ‘n beesstert in die oond en Bernard het opdrag om stampmielies te kook. Vir ons, vir oulaas.”

“Vir oulaas,” herhaal Ousus.


Baie dankie vir die lesers van die Zoutpansberger wat die dae en dinge van Daisy gevolg het. Wie weet – miskien maak sy weer eendag ‘n draai. Ek gaan haar mis. - Die skrywer.