ADVERTISEMENT:

 

 
 


 

47. Daisy se teatrale plan om liefdesvure te stook

Date: 02 October 2014 By: News Correspondent

“Carla, jy skuld my big time na daardie vernedering van die belly dansery. Hierdie keer is dit ek wat bietjie hulp nodig het en jy is die enigste een wat my kan help!”

“Ja? Dit klink vrek interessant, Daisy. Vertel bietjie...”

“Jy weet mos van die vreemde ooreenkoms wat ek en Bernard het om so veel moontlik tyd saam te spandeer sodat ons mekaar beter kan leer ken? Dis nou so bietjie van ‘n verleentheid om jou al hierdie persoonlike goedjies te vertel, maar kom ons sê net dat Bernard nog die hele tyd die perfekte gentleman is. Gmf. Heeltemal te ordentlik.”

“Haai, Daisy, wat vertel jy my? Komaan, wil jy nou regtig hê dat ek moet glo dat julle al hierdie tyd blyplekke deel en die hele wêreld vol rondrits sonder dat julle lakens deel? Hei, ons is beste pêlle en ons is ook nou nie meer sestien nie; moenie met sulke feëverhaaltjies by my aankom nie – ek kén die lewe!” Carla is skoon uitasem van verontwaardiging.

“Dis heeltemal waar, Carla. Maar al rede vir dié ontboese­ming is omdat ek jou hulp nodig het om hom so ‘n stootjie in die regte rigting te gee. Jy weet mos, die duiwel is eintlik ‘n vroumens – ons moet slim wees omdat ons nie sterk is nie,” babbel Daisy, soos sy gewoonlik doen wanneer sy senuweeagtig raak.

“En ek moet vinnig ‘n plan maak voordat ons weer iewers die vreemde infoeter en sy aandag net op besigheid is. Hier op die plaas is dit rustiger en het ons baie meer tyd vir mekaar...”

“Ek byt nog steeds nie so gulsig aan daai storie van jou nie, Daisy. Maar toe – dis waar dat ek jou ‘n groot guns skuld. Hoe pas ek in hierdie verleidelike prentjie in? Of wou jy gehad het ek moet plaas toe kom en vir jou eerstehands kom verduidelik hoe dié dingetjies nou weer werk?”

“Nee dankie. Ék onthou nog heeltemal goed en jy hou jou gemanikuurde handjies ver weg van my geliefde af!” lag Daisy. “Maar ek het ‘n plan. Eintlik is dit meer as ‘n plan, dis ‘n hele toneelstuk. Die script is reeds daar, die rolverdeling is maklik ... Dis nou net die stelin­kle­ding waarmee ek jou hulp nodig het. Kan ek asseblief vir jou ‘n lys van goed gee wat ek by julle wil huur vir die naweek? Dan kan Plore dit sommer saambring wanneer hy die naweek kom en weer Maandag terugbring. Hy moet juis by Kathy ook ‘n draai gaan maak om ‘n paar swart kantgoedjies vir my saam te bring...”
Carla lag lank en lekker. “Klink my asof daardie man geen wegkruipplek gaan hê teen die tsunami wat jy vir hom beplan nie! Ek wil details hê na die naweek, dolla, details!”

Maandagoggend, voor Daisy nog die werfhoenders kan oopmaak om te gaan skrop, lui haar foon.

Dis Carla.

“Watse sondes het jy op jou gewete dat jy my so vroeg bel? Ek het nog nie eers my tweede beker koffie in nie! Of is daar iets verkeerd met die goed wat ek vir jou teruggestuur het?”

“Ek is nog nie eers by die werk nie, Daise. Maar ek kan dit nou net nie langer uithou nie. Vertel asseblief wat gebeur het, ek het skoon die ritteltits van nuuskierigheid!”

“Dis persoonlik, Carla,” grom Daisy.

“Ag toe, wat’s jy nou so inkennig? Ons weet alles van mekaar, jy kan nie nou skaamte kry nie! Vertél, Daisy. Kom, kom. Wat het gebeur? Is die koeël deur die ... uh ... kerk, of liewers die teater, by wyse van spreke?” giggel Carla.

“Weeeel...” beproef Daisy haar vriendin se geduld. “Ek weet nie van kerke en teaters nie, maar daar wás wel vuurwerke...”

“Om mee te begin het ek gedink dis heeltemal te ordinêr om kos by ‘n tafel te bedien.  Buitendien het ek nie beplan om my doodmoeg te kook nie – net Medittereense peuselhappies uitgestal op daardie mooi silwer borde van jou, saam met vars kruie en blomme. Ek het eintlik ‘n prentjie in my kop gehad om dinge die Romeinse manier te doen ... Jy weet, waar ek vir Bernard stukkies hemelkos en druiwe voer? Toe drapeer ek daardie kleurvolle lappe van jou bo-oor die tafel en maak ‘n Bedoeïen-tent vol kussings en lanterns en kerse en feëtjieliggies. Sprokiesmooi.”

“Natuurlik was alles klaar reg toe hy huis toe kom Saterdag, maar ek het ‘n tafeldoek oor die tafel gegooi en vreeslike kuis klere oor die kantnommertjies aangetrek. Hy het niks vreemds vermoed nie, tot hy begin kriewelrig word oor ons sit en wyn drink en na Noord-Afrika musiek luister en daar is geen teken van aandete nie.”

“Toe nooi ek hom om gou na iets te kom kyk onder die tafel ... En siedaar! Iets uit ‘n Arabiese Nag tref hom tussen die oë! Jy kon die vuurwerke in sy kop hoor afgaan. Maar dit was eers toe ek die kuise rokkie begin oopknoop dat hy heeltemal vergeet van al die kerse en lanterns ... Dis toe dat die mou van sy kakiehemp in die kers beland!”

“O hêl, Daisy, en toe?” vra Carla geskok. “Dis mos ‘n grasdakhuis...”

“Ag nee wat, Carla, moenie stres nie. Jou lappe het ook ongedeerd daarvan afgekom. Maar ek het nog nooit daai groot man so vinnnig sien beweeg nie. En amper was die hele eetkamertafel ook daarmee heen.” Daisy lag onbedaarlik.

“Binne oomblikke was Bernard met klere en al in die stort en ek het die ergste van die omgedopte kerse en lanterns uitgedoof en die blaffende honde kalmeer. Daar was groot opwinding op die werf; Elvis en sy trawante het sommer spontaan aan die kraai geraak...”

“En toe is Die Groot Verleiding seker ook daarmee heen?” vra Carla afgehaal.

Daisy giggel.

“Laat ek dit só stel, Carla. Koffie in die bed op ‘n Sondagoggend met varsgemaakte plaatkoekies het enige tyd net soveel afroditiese kwaliteite soos oesters en sjampanje...”

 
 
 

Viewed: 397

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT