ADVERTISEMENT

 
 

 

Die “anonieme” brief oor fiksheidsentrums verwys.

Ek weet nou nie mooi of objektiwiteit die regte woord is om te gebruik hier nie, want as `n mens mooi lees is daar dalk `n groen baadjie wat hier gedra word. Interessante en insiggewende feite word in die brief genoem en ek neem aan die verskeie instansies waarna verwys word is noodwendig professionele instansies met genoegsame wetenskaplike en akademiese wortels om opsigself ook geregtig te wees op die opinies en waardes wat hulle van ander sou verwag.

Die verwysing na die 38-jarige vrou is in swak smaak en behoort nie eers geplaas te gewees het nie. Erkende mediese menings is ingewin oor haar baie ongelukkige afsterwe en bevestig dat geeneen haar tot hulp sou kon wees nie vanweë die aard van haar mediese/fisiese kondisie wat aanleiding tot haar dood gegee het. Veral nie sertifikate of ingelyfdheid by sogenaamde akkrediteringsinstansies nie.

Om na ander mense se morele waardesisteme te verwys in verhouding tot geld as oënskynlike motivering vir hulle aktiwiteite is totaal bevooroordeeld en bewys die gebrek aan objektiwiteit. Dit plaas ook ‘n groot vraag oor die soge­naamde anonimiteit van die brief.

Hoe groot of klein is ons in hierdie gemeenskap teenoor mekaar, veral waar mense mekaar ken? Staan op, staan jou man en maak die afspraak met die betrokke partye waar jy dan konstruktief kan bydra tot `n verbeterde stelsel vir almal, sonder om mense se waardestelsels onder verdenking te plaas of aan te val.

Die eienaars en instrukteurs wat in die brief na verwys word is na my mening baie professioneel, bevoeg en het opleiding ontvang in dit wat hulle aanbied. Hulle is baie betrokke by hul atlete en is nie van geaardheid “slawedrywers” wat mense bo hulle vermoëns dryf nie. Soos met enige oefensisteem kan ‘n atleet wanneer hy/sy oefen net gaan tot by sy/haar eie limiete.

Graag wens ek hulle geluk met prestasies reeds bereik en moedig ek hulle aan om so voort te doen. Ek moedig ook die leserspubliek van die Zoutpansberger aan om hulle te ondersteun aangesien hierdie mense ‘n kwaliteit diens lewer met die regte gesindhied en hart. Graag plaas ek die kommentaar sonder die begeerte om anoniem te bly. Ek staan vir wat ek sê.

- Willem Botha (Makhado / Louis Trichardt)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT