ADVERTISEMENT

 
 

 

So blaai ek bietjie deur my albums uit toeka se dae, asook van die goeie ou tye van so 70 jaar gelede, en kom ek tot die slotsom dat kinders nie juis stouter geword het nie.

Uit die klagteboek of strafboek uit die jare 1925 tot 1945 van die destydse Louis Trichardt se Laerskool, kom gegewens wat dui dat ons pa’s en ma’s van destyds ook maar die kat in die donker geknyp het.

In ‘n omsendbrief (no. 35 van 1931 en 1965) kry ek die volgende: Die departement ontvang van tyd tot tyd klagtes van ouers dat onder­wysers, teenstrydig met departementele regulasies, liggaamstraf toedien. In gevalle is klagtes by die polisie aanhangig gemaak. Die departement het te kenne gegee dat hulle onderwysers in die toekoms gaan vervolg. Onderwysers word ook daarop gewys dat liggaamstraf slegs streng volgens Regulasie 5 van Openbare Skole vir blanke kinders toegedien mag word, asook vir kleurlinge en asiatekinders. In die strafboek is die lys as volg saamgestel (afskrif van 1931 - Datum, kind se naam, ouderdom, standerd, aantal houe, rede en onderwyser se handtekening).

Baie insiggewend is die redes vir straf:
* In die meeste gevalle was dit vir stokkiesdraai. Een kind het self vir meer as 30 dae stokkies gedraai. (Vir die oningeligtes - stokkiesdraai was die term wat verwys het na afwesigheid sonder verlof - Red)
* Rook was soos nou ook taboe en baie houe is uitgedeel vir skelm rook.
* Houe is ook uitgedeel vir ongehoorsaamheid, stout, lui en let nie op nie.
* Baklei op speelgrond – dit was ‘n vername tydverdryf.
* Loer meisiekinders af in die badkamers (was dit ses houe werd of nie?)
* Seuns lê aan by onderwyse­resse (daar was seuns van 16 en 17 jaar in die skool). Onderwyseresse was kroonwild en net vir onnies beskikbaar. Ten minste ses houe vir vryeriges.
* Parmantig en praat terug.
* Doen nie huiswerk nie.

Die aantal houe wat toegedien mag word het gewissel van twee tot ses na gelang van die oortre­ding. Kinders se vanne het ek liefs uitgelaat, want nasate woon steeds op Louis Trichardt.
Besluit self of vandag se kinders stouter is?

- Hansie Uys (Makhado / Louis Trichardt)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT