ADVERTISEMENT

 
 

 

Ná ontvangs van die NG Kerk Ring se verklaring ten opsigte van dr. Philip Venter, is ‘n afskrif van die skrywe aan dr. Venter gestuur en hy is gevra om kommentaar daarop te lewer. Dr. Venter het Maandag gereageer, maar sy kort skrywe is Dinsdag vervang deur die volgende skrywe van die kerkraad van die Veritas Gemeenskapskerk:

Hierdie kommentaar word gelewer na oorlegpleging met Dr. Philip Venter:
Die NG Kerk Ring van Louis Trichardt opper ongegronde aantygings wat elemente bevat van strafregtelike laster teenoor Dr. Philip Venter en die Veritas Gemeenskapskerk. Die Grobler-Kommissie het in Oktober/November 2013 Dr. Philip Venter onskuldig bevind op al die aanklagte teen hom, en dat sy beweerde wangedrag in aanklag 1 voldoende aangespreek en afgehandel was. Die Ring het vroeër in daardie jaar Dr. Philip Venter skuldig bevind aan aanklag 1, waarna die Sinode op appél aangedui dat die Ring van Louis Trichardt verskeie prosedurele reëls oortree en buite hulle bevoegdheid opgetree het.  Die appél was gehandhaaf wat beteken dat die Ring, Sinodale Kommissie of Appélkommissie nie kan omdraai en sê hy was skuldig nie.

Die Grobler-kommissie het die Ring oor die vingers getik oor hulle hantering van die saak teen Dr. Philip Venter en uitgelig dat die Ring se optrede bygedra het tot die spanning in die kerk wat tot kerkskeuring gelei het. Hierdie stelling is nie net “inligting” wat versprei word nie, dit is vervat in die Grobler kommissie se verslag, wat in Dr. Philip Venter se besit is. Uiteraard sou die Ring nie hulle fout erken nie, en het die saak op appél geneem om die skade te probeer beperk. Die Appélkommissie van die Noordelike Sinode het teen hulleself uitspraak gelewer deur die bevindinge van sy eie Grobler-kommissie tersyde te stel. Hierdie flater doen nie veel vir die geloofwaardigheid van die Sinodale ondersoekkommissies van die NG Kerk nie. Die eerste kommissie vind Dr. Philip Venter onskuldig in sy teenwoordigheid en die tweede kommissie bring ‘n naskrif en vind hom skuldig in sy afwesigheid. Dit lyk te veel na ‘n gekonkel binne die NG Kerk.
Met die bystand van sy regsverteenwoordigers het Dr. Philip Venter na sy onskuldigbevin­ding tot en met Februarie 2014 gepoog om die Kerkraad van NG Kerk Soutpansberg te oortuig om sy dienste as predikant voort te sit sodat hy saam met die kerkraad kan werk om die spanning in die gemeente aan te spreek en versoening te bring. 

Die kerkraad, by monde van hulle hoof­ouderling, het dit duidelik aan Dr. Philip gestel dat geen moontlikheid bestaan dat hy weer as predikant in die NG Kerk Soutpansberg sal werk nie. Dit het hom met geen keuse gelaat as om ‘n proses te begin waardeur ‘n billike skeidingspak­ket vir hom beding moes word en wat daartoe gelei het dat hy na 28 Februarie 2014 nie meer in diens van die NG Kerk was nie. Die NG Kerk se “skorsing” en latere “ontslag” van Dr. Philip Venter omdat hy betrokke was by die stigting van ‘n nuwe kerk was ‘n futiele oefening en tydmors, die nuwe kerk is in Maart 2014 gestig nadat die NG Kerk Soutpansberg hom op 28 Februarie 2014 uit diens ontslaan het. Die veronderstelling dat hy ‘n gelegitimeerde predikant was is bloot ‘n administratiewe konsep wat dalk betekenis sou gehad het as Dr. Philip Venter na 28 Februarie 2014 nog ‘n salaris en voordele van die NG Kerk ontvang het, wat nie die geval was nie. Hy het in elk geval later sy bedanking uit die NG Kerk skriftelik ingedien, die NG Kerk kan nie aanspraak maak daarop dat hy nog verbind was aan die reëls van hulle kerk nie.

Derhalwe maak dit nie saak wat die Sinodale Kommissie op appél bevind het nie: Dr. Philip Venter en die ander ses stigterslede van die Veritas Gemeenskapskerk het nie die NG Kerk se toestemming of goedkeuring nodig gehad om ‘n nuwe kerk te begin nie, of mense te doop of die nagmaal te bedien nie. Dr. Philip Venter se status as Kommissaris van Ede en sy bevoegdheid om huwelike te voltrek is tans ‘n saak tussen hom, die kerkraad van die Veritas Gemeenskapskerk en die Departement van Binnelandse Sake, waar hy aansoek doen om sy status te herstel. Derhalwe is Dr. Philip Venter vry en geregtig om lidmate vir die nuwe kerk te werf soos, waar en wanneer hy wil. Die stelling van die Ring dat Dr. Philip Venter diakonesse gekies het vir die nuutgestigte gemeente is onwaar, daar is nie ‘n diakonesse op die kerkraad nie.

As die Ring van Louis Trichardt die gemeenskap van Suid-Afrika wil inlig dat hulle nie die Veritas Gemeenskapskerk as ‘n kerk erken nie, is dit hulle eie keuse. Die feit is dat die Veritas Gemeenskapskerk amptelik as ‘n kerk by die owerhede geregistreer is, naam en logo inkluis, en die dokumentêre bewys daarvan beskikbaar is vir enigiemand wie die waarheid van die stelling wil bevestig. Dr. Philip Venter was tydens die stigtingsvergadering deur die stigterslede as predikant beroep en aangestel, en het nie die NG Kerk se toestemming of goedkeuring nodig gehad nie.
Dit blyk dat die Ring van Louis Trichardt besig is om aan suur druiwe te kou nadat die NG Kerk Soutpansberg ‘n bloutjie geloop het met die uitbetaling van diensbeeïndigingsvoordele waarop Dr. Philip Venter volgens wet geregtig was. Om te beweer dat hy homself ten koste van die kerkraad bevoordeel het, en die kerkraad finansieël gevange geneem het, is nie waar nie. Dit was nie ‘n bevinding van enige van die kommissies nie, maar bloot ‘n ongegronde afleiding wat die Ring van Louis Trichardt vir hulleself gemaak het. Geen van die bewerings dat Dr. Philip Venter homself onbehoorlik sou bevoordeel het ten koste van die kerk was bewys nie. Om Dr. Philip Venter in ‘n slegte lig te probeer stel vir hulle eie tekortkominge deur hulle aantygings en hulle voorneme om die bepalings van die Arbeidswetgewing van die land te probeer omseil, gaan niks help nie. Dit gaan nie gebeur nie, tensy die wetgewing verander word. Dit is ook opvallend dat die wangedrag van ander NG Kerk dominees uit dieselfde Ring van Louis Trichardt, wie voorheen aangekla was vir onder andere alkoholisme, pornografieverslawing en bediening van die be­keringsdoop, subtiel uit die openbare media gehou was, maar dat die aantygings teen Dr. Philip Venter aan die groot klok gehang word.

Die Veritas Gemeenskapskerk is ‘n volwaardige, geregistreerde, onafhanklike gereformeerde kerk wat nie ‘n afstigting van die NG Kerk is nie, en geen affiliasie met die NG Kerk het nie. Die lidmate van die nuwe kerk bestaan uit voormalige lidmate van die NG Kerk, wie hulle grondwetlike reg op vrye godsdienstige assosiasie uitgeoefen het, en ook ander persone wie nie noodwendig voormalige NG Kerk lidmate was nie.

Die Veritas Gemeenskapskerk onder leiding van Dr. Philip Venter beklaag die aanslag teen ons integriteit deur mede-christene en sal eerder wou sien dat die kerk van Jesus Christus nie haarself skade aandoen deur vuil wasgoed in die openbaar uit te hang nie, maar uitreik vir versoening en samewerking.

Die uwe,

- Ronnie van Niekerk, namens die kerkraad, Veritas Gemeenskapskerk

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT