ADVERTISEMENT

 
 

 

Vir baie jare sien ek elke jaar dat die uitslae van die leerlinge van ons land daal. Wat is die probleem en hoekom gebeur dit?

My beskeie mening is dat mense verskillend geskape word. Die een is taalkundig aangelê en die ander is wiskundig aangelê. Dan nog ‘n hoogs intelligente groep - die wat albei die taal en wiskunde kan hanteer.

Vir die persoon wat taalkundig is, gee vir hom/haar ‘n vel papier en vra hulle moet ‘n opstel skryf. Maklik, die woorde vloei uit die pen, interessante dinge word beskryf en hulle kan velle vol skryf, want hulle hou daarvan.

Die persoon wat wiskundig aan­gelê is, gaan sit, skryf ‘n sin of twee, dan byt hulle die pen se agterkant, het geen idee wat om verder te skryf nie, want hulle is wiskundig aangelê.
Die hoogs intelligente groep het geen probleem nie. Hulle is die 20%. Dit is nie oor hulle wat ons bekommerd is nie, dit is die 80% wat druip of lae persentasies bereik.

Die taalkundige persoon wat verplig word om wiskunde te neem, spandeer die meeste van sy tyd om in wiskunde te slaag. Jy doen daardie persoon ‘n onreg aan, want die vak waarvoor hy lief is, word nou afgeskeep. Hy of sy kan taalkundig baie doen om die liefde vir tale uit te brei, maar nou moet hy worstel met wiskunde wat hulle nooit in hulle loopbaan gaan gebruik nie. Omdat hulle so sukkel met wiskunde, gee dit vir hulle ‘n minderwaardige gevoel, want hulle punte word afgebring, deur die swak wiskunde punt, hulle voel geen vreugde om skool toe te gaan nie, ongekende skade word aan die kind se opvoeding gedoen.

Die persoon wat weer goed is in wiskunde, ondervind dieselfde pro­bleem. Hy of sy moet nou opstelle en briewe skryf, waarvoor hy min punte kry en dit bring sy jaarpunt af. Dit maak hulle teësinnig om skool toe te gaan. 

Al die jare was dit verpligtend om twee tale te neem. Rekeningkunde behoort ook verpligtend te wees, want dit leer ’n persoon om met geld te werk, wat baie belangrik is. Natuurwetenskap is belangrik, geskiedenis is uiters belangrik, nie net die hedendaagse geskiedenis nie; mens moet tog iets van die wêreld af weet. Gesondheidsleer is net so belangrik.

Om die hele saak op te som. Bepaal heel eerste of die leerling taalkundig of wiskundig aangelê is.
Enige onderwyser wat sy sout werd is, sal binne een maand kan sê, die kind is taalkundig, wiskundig of in staat om albei te doen. Dan bou jy om daardie kennis die vakke wat by die leerling sal inpas. 

Met groot oortuiging sê ek dat 80% van leerlinge NOOIT  wiskunde in hulle WERK  gaan nodig kry nie. Waarom ‘n LAND se skoolgaande kinders verplig om ‘n vak te neem wat so min vir sy toekoms gaan beteken? Die redenasie is, ons het baie wiskundiges nodig. Trek hulle dan uit die groep wat wiskundig aangelê is.

- Makkie de Beer (Louis Trichardt)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT