ADVERTISEMENT

 
 

 

Ek sal graag met hierdie skrywe twee staatsinstellings net so ’n bietjie onder die loep wil neem, terwyl daar nog persvryheid in die land is.

Die twee instellings is die staats­hospitale en die poskantoor.

Uit gedrukte en elektroniese media blyk dit dat beide instellings maar redelik ver tekort skiet wat dienslewering op alle vlakke aanbetref. As daar vir die een nie brandstof beskikbaar is nie, het die ander een nie anti-retrovirale medisyne nie. So tussen al die probleme deur is beide dan ook nog aan stakings vir hoër lone onderwerp.

Uit die kamp van die hospitale verneem jy veral vanaf bejaardes, wat noodgedwonge van staatshospi­tale gebruik moet maak, dat jy soms ’n jaar en langer kan wag vir ’n operasie bloot omdat daar nie dokters is wat bevoeg genoeg is om die operasie te kan uitvoer nie. Ander hospitale is weer bekend vir babasterftes, terwyl ander bekend is vir uiters swak diens en pasiënt-versorging. By sommige moet daar tot drie dae gewag word, voordat jy gehelp word, en in daardie tyd is die pasiënt totaal aan sy eie lot en die genade oorgelaat.

Dit is dan ook nie meer snaaks dat pasiënte in staatshospitale hulle eie beddegoed, soms selfs ‘n matras ook moet saambring om op te slaap en warm te  slaap nie. As jy “redelik” wil eet is jy van jou naasbestaandes afhanklik vir kosvoorsiening. In een van die groot hospitale is die dieet droë pap, twee snye droë brood en ’n beker swart tee sonder suiker. Praat nie eens van medisyne nie. Ek verneem van ’n kankerpasiënt wat onlangs huistoe gestuur is met ’n handvol Panado pynpille en ’n pakkie lakseermiddel.

Die poskantoor? Sjoe, dit gebeur gereeld dat daar in ’n ry van drie tot vyf persone vir tot 45 minute gestaan word voordat daar enige hoop is om deur die toonbankklerk gehelp te word.

Die oplossing vir die probleem? Sover dit die poskantoor aanbetref, sluit hom. Daar is genoeg privaat inisiatief daar buite wat reeds die­selfde dienste duisend keer meer effektief lewer.

Maak ’n wet dat alle staatsampte­nare vanaf NOMMER EEN tot by die laagste besoldigde arbeider slegs van staatshospitale se dienste mag gebruik maak (Dit gebeur dan in die sosialistiese lande). Kom ons klink ’n glasie daarop. (Brief verkort – Red)

- Carel Breytenbach (Louis Trichardt)

 

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT