ADVERTISEMENT

 
 

 

Sowat drie weke gelede het drie seuntjies – tussen die ouderdomme van vyf en ses – by die skoolhekke van Laerskool Louis Trichardt uitgestap. Die feit dat die seuntjies gedurende skool­tyd by die hekke kon uitkom het ‘n groot opskudding veroorsaak en die skoolbestuur genoop om veiligheidsmaatreëls op te skerp. Die volgende brief, wat meer lig werp op die situasie, is ontvang:

So staan ek met my rug na die deur, hard besig om te werk. Hoor en sien kan vergaan. Buiten vir die lawaai van die revue-oefening in die saal kan jy verder in die kantore ook die musiek hoor van vingers wat oor die sleutelborde se sleutels rondspring in ‘n poging om notules en briewe betyds uit te kry. Dis hier waar die storie begin.

Die stilte word met ‘n warboel kinderstemme­tjies verbreek van drie seuns wat baie opgewonde voortbabbel en ‘n pragstuk van ‘n tekening word in die een se hand gewaar. Ongelukkig moet die kantoortannie hulle meedeel dat die skoolsielkundige waarna hulle soek nie vandag by die skool is nie.  Die manne verstaan en is flink by die sydeur uit en pyl reguit op die Graad 1-stoep af, wat met ‘n skerp 90-grade draai na die Graad Nulle se klasse gaan. Voor jy die breë weg verlaat vir die nouer weg na die Graad Nulle se klasse is die grondpad van verleiding so 10 meter lank; onder aan die pad sit die poorte van bevryding en aanvaarding vir ‘n woelige seun. Ons kunstenaar se meesterstuk het bewondering nodig, en die kunstenaar besluit sy huis is net oorkant die skool, so hy gaan gou sy ma wys. 

Hy vat die pad van versoeking en snel vinnig voort met twee maters wat nog probeer keer voor die beskermingsdrang oorneem en hulle nou maar vrywilliglik saamhardloop om seker te maak hulle maat kom nie iets oor nie (jy sien, drie is altyd beter as een). Die kunstenaar pyl op die hek af, wat se ketting en slot ooglopend nie ingehaak is nie, en ‘n vinnige ondersoek word ingestel en die omgewing word met flink oë gefynkam, ‘n plan van aksie word vinnig gemaak deur Picasso, die vindingryke jong man. Die grondwerker wat met sy rug na die trio al teen die buitekant van die grensdraad werk, is salig onbewus van die “great escape” wat besig is om hier neffe hom plaas te vind.  Die vreeslike vin­dingryke kunstenaar en vriende is vinnig oor die pad by die naaste systraat af om die oë van die werker vry te spring, maar o wee, ons kunstenaar is nou die pad byster en bevind hom in die vallei van doodskaduwee (eintlik is hy nou verdwaal) en hy kom gou met ‘n blink plan vorendag. Hy  lui die eerste deurklokkie.  Hy sal van huis tot huis loop vandag, want juffrou het gesê hierdie meesterstuk het bewondering nodig!

Intussen word die stilte in die kantoor weereens verbreek deur die klank van ‘n vinnige voet­­val van die trio se juffrou, en as jy nie aan die klank van die stap kon hoor hier is fout nie, kon jy maar net opkyk of luister want daar is ‘n  frons tussen die oë en die stemtoon is iets tussen tranerig en operasopraan.  Sy probeer vasstel waar die manne hulle bevind, wie van ons hulle gesien het, hoe lank terug, watter kant toe hulle uit is? Sy reken hulle draai te lank, hulle moes al lankal terug gewees het. Sy het hulle gestuur om die klein kunstenaar se eerste meesterstuk vir die spesiale tannie te kom wys, nou is hulle skoonveld. Almal help kinders soek, maar die trio lyk of hul spoorloos verdwyn het. Die een na die ander afkondiging word gemaak waarmee die kinders by die naam versoek word om dadelik terug te keer klas toe, en enige iemand wat hulle dalk gewaar het moet dadelik by die kantoor kom rapporteer waar en wanneer dit was.  Elke sentimeter word ondersoek en deursoek, maar die trio is skoonveld!

Die tweede huis se klokkie word gelui en die derde huis en so gaan hulle af tot in Rissikstraat, waar hulle tot stilstand kom.  Dit is waar ‘n ver­by­gaande motoris snuf in die neus kry, want waar het jy gesien ‘n trio manne loop in skooltyd langs die hoofstraat?  En nadat hy gestop het vir verde­re ondersoek en die kunswerk bewonder het, het hy die manne in die motor gelaai.  Omdat hulle geswyg het oor waar hulle nou eintlik moet wees, het die motoris toe maar van skool tot skool gery en hulle klokkies gelui totdat hy die skool waarin die drie manne moes wees opgespoor het.

Die kinders is veilig terugbesorg aan die juffrou, wat nog steeds kringe om die oë het van die skok. So het ons almal ‘n dure les geleer.  Moet nooit ‘n man met soveel geesdrif en ‘n honger na aanvaarding kantoor toe stuur nie. Jy sien, as die honger eers in die are begin brand, gaan redelikheid skoon verlore, soos in ons kunstenaar se geval.

Triegies het dadelik ‘n plan van aksie in wer­king gestel en die nodige stappe geneem teenoor die grondwerker wat nie die hek agter hom gesluit het nie. Die kinders se ouers is ingeroep en die situasie is hanteer om enige soortgelyke oortre­dings in die toekoms hok te slaan. Alle hekke by Triegies moet ten alle tye gesluit wees en slegs die boonste hek aan die bokant van die skool by die kantore word oopgelos vir ouers wat persoonlike sake by die skool moet kom afhandel. Geen buitestaanders word gedurende skooltyd op die terrein toegelaat nie en ouers moet buite die hekke wag totdat die eerste grade uitkom. (Vanaf twaalfuur vir die Graad Nulle).  Ouers mag net die kind kom kry en moet dan dadelik weer die terrein verlaat.  Die volgende groep kom om 13:00 uit en die hekke word dan weer oopgemaak en oop gelos totdat die volgende groep om 13:30 uitkom. Ons kyk na die gebeure as ‘n fratsongeluk wat baie slegte gevolge kon gehad het. 

Triegies was en sal altyd ‘n plek van veiligheid wees. Ná die insident poog ons nog harder as ooit om die gemeenskap se kosbare kinders veilig te hou.

Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om veiligheid by die huise met hulle kinders te bespreek en die nodige dissipline toe te pas, sodat kinders nie kanse vat soos in die geval met ons eie Picasso nie. Bespreek veral dinge soos om saam met ‘n vreemdeling in ‘n motor te klim of om met hulle te praat, lekkergoed te vat en die algemene gevolge wat hardhorendheid en ongedissiplineerdheid in vandag se tyd vir hulle as kinders inhou.
(Brief verkort)

- Lizette Kotzee (Triegie Personeellid en Triegie ouer)

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT