ADVERTISEMENT

 
 

 

Kort-kort lees ‘n mens van die waterprobleme in Louis Trichardt in die Zoutpansberger, maar daar is nie net waterprobleme waarmee die munisipaliteit sukkel nie.

Die laaste paar weke is daar omtrent daagliks kragonderbrekings vir lang ure. Dit is spesifiek vir ons as boere baie nadelig. Om sonder ligte of televisie in die huis te wees, is die minste van die probleme - dit kan ook probleme met veiligheid veroorsaak.

Die groot, groot probleem is met die boerdery. Waterpompe staan, met geen water vir mens, die­re en gewasse nie, te midde van die teenswoordige hitte en droogte. Sekere pompe moet dag en nag loop. Met die vrugte- en neutoes is daar ook masjiene wat moet loop – sorteer, verkoel en droog.

Dikwels is daar nie eens antwoord as mens [die munisipaliteit] skakel om ‘n kragonderbre­king te rapporteer nie. Dit lyk of die onderhoud van die kragnetwerk veel te wense oorlaat. Wat het van die kennis en werksvermoë van die munisipaliteit se elektrisiëns geword? Dit was vroeër nie so nie.

Van die elektriese hooflyne groei toe in die bos. Die munisipale beamptes behoort met die boere in die gebied saam te werk om elektriese probleme op te los tot voordeel van almal. Maar dit gebeur net nie.

Ek en van my bure wil dringend weet wie is die verantwoordelike beampte wat die gemors moet oplos, met ons hulp waar nodig en moontlik. Ons betaal dan elke maand duisende rande vir elektrisiteit, en dan moet ons nog vir ons rekeninge ook bedel by hulle kantoor. Vroeër het ons dit maandeliks per pos ontvang. Selfs dit kry die munisipaliteit nie meer in tyd reg nie.

Ons verwag van die verantwoordelike munisipale beampte om verskoning te vra en, in die openbaar in die koerant, te verduidelik hoe hy/sy die gemors gaan opklaar, sodat almal dit kan lees. Op die ou einde betaal ons ook sy/haar salaris.

- Pieter Agrens, plaas Berghof-Sterkstroom 

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT