ADVERTISEMENT

 
 

 

Dit is die Internet - waar dit een vir almal, almal vir een en niemand vir iemand is.

Enigeen kan sê net wat hulle wil, oor wie hulle wil, waar hulle wil en wanneer hulle wil. Dit maak nie saak of dit waar of onwaar is nie. Skiet met die woorde; skiet om dood te skiet ... al skiet party mense katte soos wat hulle die derms ryg.

So is dit ook met die sogenaamde monster van ons tyd: RASSISME.

‘n Tipiese filosofiese gesprek (onlangs gelees op Facebook), met spelfoute en al, regverdig die haat van swartmense, omdat hulle nie sy naaste is nie. Derhalwe, redeneer die man verder, gee dit hom die reg om hulle almal te haat.

‘n Ander swartman meen op sy Facebook-blad dat hy weer op sy beurt alle witmense haat – hy is nie vreeslik duidelik hoekom nie – en dat hy hulle sommer almal wil stormloop en die lewe uit hul wil wurg.

Nog ‘n voorbeeld is ‘n tannie wat na swartmense verwys as dierasies. So kan daar baie voorbeelde genoem word, maar mens moet half verskoning vra vir die ander Suid-Afrikaners (van die reënboog) wat nie deel is van die groot RASSISME-gesprek nie.

En nee, hierdié gesprekke gebeur hier op eie bodem in Louis Trichardt!

Dit is ons Louis Trichardters wat hulle ware geure en kleure vir almal op sosiale media ten toon stel, soms in die kruuste van woorde moontlik denkbaar.

Nee, sies man!

Wanneer het ons morele waardes tot so ‘n mate in duie gestort dat ons nie skroom om mekaar oor en weer sleg te sê nie? Goeie maniere is dan tog nog gratis, verniet, mahala, of hoe?

Waarom nie eerder ons goeie maniere (en die mooi Bybelversies wat so dikwels geplaas word) eerder toepas, in stede daarvan om die hel uit mense te moker met vulgêre boodskappe?

As ons elkeen net begin om iemand (ongeag waar hy of sy in die reënboog val) met ‘n glimlag te groet, is ek seker dit kan ‘n verskil maak. ‘n Glimlag kan dalk moontlik net voorkom dat jy aangeval word in die supermark, ‘n moord begaan of name genoem word wat dalk seermaak.

Dalk sal ons aandag dan binnekort verskuif na die politici van die dag, sodat daar daadwerklik aandag gegee kan word aan die ware probleme in ons gemeenskap.

Miskien dan sal ons aandag nie verorber word deur ‘n monster nie, maar sal ons dalk kan dink aan oplossings...

- Anoniem,Louis Trichardt

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT