ADVERTISEMENT

 
 

 

Hierdie week wil ek graag hulde bring aan ‘n man, pa en oupa wat vir ons as familie soveel beteken het en soveel diep spore in die samelewing getrap het. Die lewenslesse wat hy ons geleer het, sal ons altyd bybly. Die volgende is ‘n stukkie wat hyself ‘n paar jaar gelede, op laat lewensjare, geskryf het. Dit het hom as natuurkind so mooi beskryf, maar ook daarin kon ek sien die lewensles wat hy met ons wou deel: Soms moet mens bietjie stilstaan en waardeer wat jy om jou het. Ek deel graag my pa, Gert van Zyl wat Maandag oorlede is, se woorde met ons lesers. Hy het die stukkie getitel: Spore van gister...

Hulle sê dis ‘n ongenaakbare, harde land van vele uiterstes. Hier net kliprante en klipbanke, daar net sand, miskien die twee tesame met yl, dorstige plantegroei tussenin of soos baie dit dikwels buite sy grense sien ... somtyds net mooi niks!

Hierdie “niks” bestaan nie in die woordeskat van enige ordentlike Namibiër nie. Hetsy oud-Suidwester of dan ook Namibiër sal dit altyd ‘n voorreg bly om in die “niks” altoos “iets” te vind wat jou vol bewondering laat. Daardie “iets” waarin jy aanhoudend die vraag teenoor jouself vra:
Hoe is dit moontlik dat in die totale Heelal, selfs binne jouself as menslike skepsel, ‘n Almagtige Opperwese altyd, altyd ‘n raadsplan vir elke uithoek van sy skepping het? Dat in hierdie raadsplan die suide van Namibië, die Karasberge waar die suiderson kastaiings uit die klipbanke brand, nie vergete gebly het nie? Dat Hy hier in ‘n arm reënvalstreek vir enige natuur­kind, die ghaap, kambro en jakkalskos laat groei het? Dat die dankbaarheid van ‘n paar druppels reën, ‘n lekseltjie van vyf tot agt millimeter, daarin weerspieël word dat boerbokke, Karakoelskape en springbokke hulself besimpeld hardloop, van bos tot bos, op die bloeisels van Gabba- en Driedoringbosse?
Wanneer jy daar op Uis se vlakte in die Namib woestyn in verbasing die skoonheid, die edelheid van die seldsame Namiblelie aanskou, dan weet jy ... Job het regmatig God se besondersheid verdedig.

Jou oë dwaal oor die uitge­strekte woestynvlaktes en jy sien die troppe springbokke, gemsbokke, sebras en volstrui­se. Ook hier op die “niks” vlaktes verraai vele wildspore dat daar lewe deur die Liewen Here onderhou word.

Manhaftig hang ‘n yl miskleed oor die kruin van die Brandberg. Dié sal weldra vinnig deur skerpstygende dagtemperature verslind word. Op die windverweerde rots waarop jy sit, kuier akkedisse met rooi, blou en geel sterte ongestoord om jou heen. Vanaf die vlaktes kom twee bakoorjakkalse op ‘n draffie na hulle dagskuiling tussen kliprante aan.

Wanneer sewe-agt uur sa­wens die woestynwindjie, selfs later in die nag die woestyn­koue, vir afkoeling na snikhete dagtemperature welbehaaglik oor jou waai, op die bries gedra word die geluide van ‘n jakkalskoor, die gedrom van ‘n volstruismannetjie en jy kyk op vanaf die kampbed na die kristalhelder sterrehemel bo jou, dan word jou totale wese gevoed deur ‘n enkele gewaarwording: Hier wil ek wees en nêrens anders nie.

In die nagdonker deurklief dartelende weerligstrale op verre einders in die rigting van Omaruru, die blye boodskap tot jou: Namibië beleef vanjaar ‘n ongekende reënseisoen. Jy hunker daarop of dit miskien die aanvang van die belofte ... woestyne tot lushowe mag wees? Die Visrivier vreet in donderende bruisende watermassas die Visriviervallei al dieper en dieper, al meer aanskoulik uit. Die Omaruru- en Skedelkusriviere het die kus bereik. Woestynolifante, renosters, leeus, gemsbokke en springbokke trap modderspore in die genade van die Skepper. Die Kuisebrivier wil-wil deur die duine breek by Walvisbaai.

Hoe graag jy ookal wil, jy kan nie langer tyd op een plek verspeel nie. Jy moet aanstoot, by Epupa- en Ruacana watervalle gaan staan en ervaar hoe verkwikkend die misreën teen jou wange aanstuif. Miskien self daardie bietjie terugverlang ... En hoor jy die magtige dreuning?
Wanneer die son in die weste kort bokant die horison hang en jy oor die Okavango­rivier tuur, die visarend jou tot werklikheid terugroep, bewonder jy die aangrypende sonsondergang in ‘n heilige oomblik waarin net die Skepper ‘n kaleidoskoop van kleure so volmaak kon vermeng.
Môre wil jy so oneindig graag jou toentertyd spore by Tamsu, Sikeretti en Karakuwi­sa gaan opsoek. Jy wil opnuut die Boesman spoorsnyer se waarskuwing daardie nag in die Omatako omaramba in oordenking neem: “Basie ... as julle witmense se duiwel sy vuur met hierdie Kameeldo­ringhout brand ... ek en jy moet liewers reguit loop!”

Twee dae gelede het beskikbare tyd reeds leeggeloop. Tog besluit jy om langer te verwyl, want ook die Kalahari het reën gekry en die Auobrivier is in vloed. Jy ry oor Aroab en Gochas, oornag onder ‘n groot kameeldoring langs die gruis hoofpad. Dis ‘n martelende nagrus met tampanne wat jou soos aasvoëls toesak.

Eindelik sit jy op die maan­haar van ‘n rooi sandduin en kyk op en af met die straat tussen die duine. Jy sien die gemsbokbul stap-staan, stap-staan met die straat in jou rigting kom en jy weet ... Die bul stap-staan om telkens windop te snuif, deur sy neus­vleuels die ekstase ten volle te benut want ... nêrens anders ter wêreld ruik reën soos in Kalahari nie.

Oor die nat duinsand, orals om jou, sien jy hulle beweeg, die fluweelagtige rooi Kalahari-reënspinnekoppe. Jy skrik jouself boeglam wanneer eens­klaps jou mymeringe versteur word deur die supersoniese suisgeluid van ‘n silwervalk wat vanaf hoë hoogtes afswiep op sy prooi tussen gemsbokgraspolle. Verlangend tot ‘n lewensmaat draal die kras geroep van ‘n korhaan oor die duinestrate. Die heerser van die Kalahari lugruim, die groot vaal kuifkoppou kom grasieus aangesweef en voer ‘n volmaakte landing uit in die kaal sandkol tussen vier erdvarkgate. Die weemoedige koer, koer van tortelduiwe vermeng met die eentonige sang van sonbesies, vervolmaak die simfonie want vriend ... Hier in die ou Kalahari sing ons soms so!

Hier, Hemel Vader, hier vanaf die maanhaar bo-op die sandduin wil ek graag sê dat U sal weet ... laat lewensjare het onverwags en vinnig my ingehaal. Wil u nie asseblief ‘n bietjie meer reën van seën in tyd my vergun nie? Hiskia-genade soos daar in 2 Konings 20 ...

Andermaal tyd sodat ek stil kan staan ... waar ek voorheen verby gehardloop het?

- Andries van Zyl, Louis Trichardt

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT