ADVERTISEMENT:

 

 
 

Johannes (links) en Renier sink 'n melk as deel van Renier se neknominasievideo. Voor die tyd het Renier en sy vrou, Anri, vir Johannes 'n winterpakkie vol kos en klere gegee. Renier het die video aan die Zoutpansberger beskikbaar gemaak en lesers kan daarna gaan kyk op www.zoutpansberger.co.za

Nuwe drink-gier hier

Date: 21 February 2014 By: Isabel Venter

Neknominasies het hulle opwagting hier in die Soutpansberg gemaak.

Maar wat is ‘n neknominasie, of ‘n Neknomination soos dié gier beter bekend staan? Is dit ‘n prettige, dog gevaarlike speletjie, of kan dit dalk gebruik word om goed te doen aan andere?

Die Zoutpansberger het ‘n vinnige aanlynsoek gedoen om agter die kap van die byl (of dan die bottel) te kom. Dit het sommer vinnig geblyk dat meeste van die jonger inwoners van Makhado (Louis Trichardt) nie net gewéét het wat ‘n neknominasie is nie, maar ook met ene op hulle kerfstok kon spog.

Vir die wat nie weet nie, ‘n neknominasie is die nuutste gier op sosiale media. Dit is eintlik ‘n drink-neiging wat behels dat ‘n persoon wat benoem is ‘n video van homself maak waar hy ‘n alkoholiese drankie vinnig sink, twee ander mense dan benoem en die video op die Internet laai. Dikwels word die video opgelaai op sosiale netwerke soos Facebook, Twitter of direk op Youtube. Die mense wat benoem is deur die eerste persoon het dan 24 uur kans om hulle eie neknominasie te prakseer en aanlyn op te laai.

Hierdie gier het glo in Australië ontstaan, maar Suid-Afrikaners was die eerstes wat neknominasies gebruik het om liefdadigheidswerk te doen.

Só het die gier wêreldwyd versprei – oorwegend deur mense wat volhou met die drinkspeletjie.

Die Zoutpansberger het tientalle video’s opgespoor van plaaslike mense wat ‘n neknominasie doen – party meer kreatief as ander. Plaaslike inwoners, wil dit voorkom, verkies Facebook bo ander sosiale media om hulle video’s te versprei.

Een jong man het gemaak of hy by ‘n drankwinkel inbreek, sy vriende bedank wat hom genomineer het, en toe ‘n bottel brandewyn gesink. (Die koerant verneem betroubaar dat die inhoud van hierdie bottel ietwat aangepas was).

Dié nuwe gier in die dorp lok egter gemengde gevoelens uit. Volgens ‘n vinnige meningspeiling wat die koerant op sy Facebook-blad gedoen het, dink die meeste inwoners dat die gier sommer ‘n platvloerse gebruik is. “Dis vreeslik kommen, nee man die mense kan iets beters met hul tyd doen as om te suip en dit op [die] internet te versprei, hul gee duidelik nie om wat hul kinder[s] daar van sal sê of VERSPREI by die skool nie. SIES,” het Elsie Brandt geskryf.

Heinrich Booysen het weer ‘n waarskuwing gehad. “Wonder net wat sal die jong persoon se toekomstige baas daarvan dink. As jy ‘n student is, is dit snaaks vir die oomblik, maar sou jy klaar swot en werk begin soek, gaan jou FB profile jou werkgewer ‘n uitstekende idee gee watter tipe persoon jy is. So pasop wat julle post,” het hy geskryf.

Divan van Ryneveld het gedink dis “net ‘n bietjie pret. Daar’s niks fout daarmee nie ... Niemand word gedwing om dit te doen nie,” was sy mening.

Cherise Gamble, bestuurder van Die Grasdak Gastehuis in Makhado (Louis Trichardt) dink die nuwe gier is goed vir besigheid. “Kyk, ek hou van hierdie Neknominations hoor! Almal kom down-down net hier by my,” het sy Dinsdag gesê toe die koerant haar gebel het. “Maar, ek hou meer van die nominasies waar mense goed doen aan ander – die inisiatief wat die mense gebruik is fantasties.” 

Sy het verwys na Renier Fourie, nog ‘n inwoner van Makhado (Louis Trichardt), wat iets besonders en uniek met sy neknominasie gedoen het.

Renier het aan die koerant verduidelik dat hy en sy vrou, Anri, saam besluit het om eerder die ding op ‘n ander manier te pak en iets positiefs te doen. Hulle het ‘n neknominasie gesien waar iemand iets goeds doen teenoor ‘n behoeftige persoon, en besluit dit is wat hulle eerder wil doen.

So gesê, so gedaan en saam het hulle toe besluit om ‘n winterpakkie op te maak vir die rolstoelboemelaar wat tans in die omgewing van Mount Fuji Motors op die sypaadjies bly.

Op die video, wat Renier beskikbaar gemaak het aan die koerant, staan hy saam met Johannes, wat ook bekend staan aan almal in die dorp as Regional. Voor Renier die pakkie aan Johannes oorhandig, bedank hy eers vir Walter Gilfillan vir die nominasie, en wys dan die klere en kos wat in Johannes se pakkie is voordat hy dit aan hom oorhandig.

Hierna klink Renier en Johannes ‘n halfliter melk, voordat hulle dit saam sink. Renier sluit sy video af deur vir Philip “Neutkraker” Potgieter, Chris “Bonsmara” Erasmus en Barend “Radio” le Roux te nomineer. 

“Ek dink op hierdie manier kan mens ‘n groot verandering  bring in ons dorp en ek daag almal uit om iets soortgelyks te doen,” het Renier gesê.

 
 
 

Viewed: 522

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT