ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die verhoor van Dr. Philip Venter, voormalige dominee van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente, het Maandag begin, nadat sy vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging om alle klagte teen hom terug te trek, misluk het.

Dominee se vertoë misluk, Staat begin verhoor

Date: 16 May 2014 By: Isabel Venter

Die verhoor van ‘n dominee van Makhado (Louis Trichardt), wat onder meer teregstaan op klagte van bedrog, het hierdie week begin.

Dr. Philip Arnoldus Venter (57), voormalige leraar van die NG Kerk Soutpansberg, wat intussen sy eie kerk (Veritas-gemeente) gestig het, het Maandag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn. Buiten die klagte van bedrog word hy ook aangekla op drie ander klagte wat verband hou met oortredings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000).

Venter het op 5 Julie verlede jaar vir die eerste keer vlugtig in die hof verskyn op dié klagte. Sy saak is verskeie kere uitgestel, terwyl sy regspan nadere besonderhede rakende die polisie se ondersoek vanaf die Staat aangevra het. Venter se regsverteenwoordiger, mnr. Jaco Venter, het intussen ook ‘n vertoë gerig aan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) dat alle klagte teen dr. Venter teruggetrek moet word.

Dié vertoë het misluk en die DOV het Maandag aangedui dat dr. Venter verhoor moet word op een klag van bedrog en die oortreding van die Vuurwapenwet. Volgens dr. Venter se klagstaat hou die klag van bedrog verband met ‘n voorval in April 2006. Hy het na bewering valslik en met die opset om te bedrieg en tot nadeel van mev. Cecile Steyn aan haar voorgegee dat hy die nodige magtiging gehad het om van haar vuurwapens in besit te neem.

Die ander klagte, wat in terme van die Vuurwapenwet geformuleer is, behels dat dr. Venter nie die nodige tydelike permitte gehad het om die wapens in sy besit te hê nie, nie Steyn se skriftelike toestemming gehad het om die wapens in sy besit te hê nie, en hom wederregtelik as ‘n wapenhandelaar voorgedoen het sonder die nodige lisensies. Dr. Venter het onskuldig gepleit op al die klagte.

Steyn was die eerste getuie wat deur staatsaanklaer mnr. Charlie du Plessis geroep is tydens Maandag se hofverrigtinge.

Du Plessis het in die hof gesê dat die Staat sal bewys, deur middel van getuienis en dokumente, dat dr. Venter gedurende 2006 drie vuurwapens van Steyn bekom het en dat hy haar in 2010 onder ‘n wanindruk gebring het dat hy nog die wapens by hom het. Volgens Du Plessis kon dr. Venter nie bewys lewer van die wapens toe sy huis deur die polisie daarvoor deursoek is nie. Die Staat sal ook poog om te bewys dat dr. Venter nie die nodige dokumentasie voltooi het om in besit van die vuurwapens te wees nie en ook nie die wapens aan die polisie oorhandig het nie.

Steyn het getuig dat sy die vuurwapens aan dr. Venter oorhandig het in April 2006, omdat hy aangedui het dat hy sou “kon plan sien daarmee.”  Sy het gesê sy was bang die wapens kon in die verkeerde hande beland, omdat sy in daardie stadium gevrees het vir inbrekers by haar huis. “Ek het vir hom gesê ek het die vuurwapens en ek wil nie die vuurwapens hê nie … Ek wou die wapens vir die polisie gee om vernietig te word,” het Steyn getuig.

Steyn het getuig dat sy die wapens aan dr. Venter gegee het, omdat hy sou gesê het dat hy wapens kan deaktiveer, dat hy in die proses was om ‘n wapenhandelaarsbesigheid oor te koop, dat hy ‘n stigterslid was van die Soutpansberg Polisiëringsforum en omdat hy ‘n predikant was.

“Ek ken vir dominee Venter lank ... ek het vir dominee Venter vertrou, ek meen dis ‘n dominee … daar was geen rede hoekom ek hom nie sou vertrou het nie. Hy was ‘n gesiene man in die dorp ... en as ek hom nie vertrou het nie, sou ek nie die vuurwapens aan hom oorhandig het nie,” het Steyn onder meer getuig.

Dr. Venter het later, in ‘n ongedateerde brief, ontvangs erken van die drie wapens –  twee .22-rewolwers en een 9mm pistool. Hierdie brief is as ‘n bewysstuk deur die Staat ingedien.

Ná ontvangs van die brief, het Steyn getuig, het sy nie weer iets van dr. Venter gehoor nie. Sy het getuig dat sy aan die begin van 2010 vir dr. Venter geskakel om te sê dat sy nog in besit is van die wapens se lisensies. Hierdie lisensies het dr. Venter volgens haar skriftelik versoek op 6 Februarie 2010. Steyn het getuig dat sy met haar kollega, me. Ena Viviers, gereël het om die lisensies vir dr. Venter te gee as hy dit by haar kantoor kom afhaal omdat sy in daardie tyd met vakansie sou wees. Steyn en Viviers werk saam by die prokureursfirma Coxwell, Steyn, Vise en Naudé in Makhado (Louis Trichardt).

Drie jaar later, het Steyn getuig, in Maart 2013, was sy geskok om uit te vind dat die wapens nog steeds in haar naam geregistreer was. Dr. Venter sou haar telefonies meedeel dat hy die wapens aan ‘n vriend van hom, mnr. Tewie Wessels, oorhandig het om gedeaktiveer te word. “En al wat ek toe gesê het, was dat Tewie oorlede is, en dit was die einde van die gesprek gewees,” het Steyn gesê. Wessels, ‘n parapleeg, is in 2009 oorlede.

Volgens Steyn het sy en dr. Venter nie verder die saak bespreek nie, omdat hy te emosioneel was te midde van ‘n ondersoek teen hom deur die NG Kerk se Ring van Louis Trichardt. Sy het egter op 29 April 2013 ‘n klag by die polisie gaan indien “omdat sy nie ‘n idee het waar die wapens is nie, en hulle nog op haar naam is en nie weet of daar ‘n misdryf met die wapens gepleeg is nie.”

Dr. Venter het by monde van sy advokaat, mnr. Niel Duvenhage, aangedui dat hy nie met Steyn se weergawe saamstem nie. Volgens Duvenhage sal dr. Venter getuig dat gesprekke oor die aankoop van die vuurwapenonderneming eers in 2008 in werking gekom het – nie in 2006 nie.  “Dan sal hy [dr. Venter] sê ... dit is nou ‘n verloop van tyd, maar hy is bykans oortuig daarvan dat hy die vuurwapens by Jas Brummer gaan haal het,” het Duvenhage aan Steyn gesê toe hy haar kruisondervra het.

Duvenhage het ook verder aangedui dat sy kliënt sal getuig dat hy Steyn gaan sien het oor die wapens en ‘n ondertekende polisie magtigingsvorm van haar gekry het voordat hy die wapens by mnr. Jas Brummer gaan haal het en polisiestasie toe gevat het. Volgens dr. Venter was Wessels ook in besit van ‘n magtigingsvorm waarin Steyn hom toestemming gegee het om haar wapens te deaktiveer.  “... dit is ons probleem met hierdie hele saak van die begin af, dat die Staat se dokumentasie nie in orde is nie,” het Duvenhage aan Steyn gesê. Brummer is 'n plaaslike wapenopleidingsbeampte.

Steyn het dié weergawe Maandag ontken. “Ek kan nie onthou dat ek ‘n vorm onderteken het nie, maar as ek die vorms kan sien en my handtekening daar kan sien, sal ek dit nie betwis of ontken nie ... ek het nie eens geweet hoe lyk die Tewie Wessels nie en sou sekerlik onthou het as ek hom ontmoet het,” het sy gesê.

Na Steyn getuig het, is die verhoor uitgestel tot Donderdag, 15 Mei. Die Staat sal dan na verwagting nog getuies roep.

 
 
 

Viewed: 1104

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT