ADVERTISEMENT:

 

 
 

Brandbestryders van die Makhado Brandweer te midde van die vlamme, besig om 'n brand Saterdag by LTT Algemene Handelaars te blus.

Vuurgeveg

Date: 11 July 2014 By: Isabel Venter

Vir die tweede keer in net minder as ‘n maand het ‘n brand ‘n onderneming in Makhado (Louis Trichardt) in puin gelê.

Die verwoestende brand het Saterdag, 5 Julie, by LTT Algemene Handelaars Waste Recyclers in Industriastraat uitgebreek en inwoners en reddingsdienspersoneel het skouer-aan-skouer geveg om die vlamme te bestry.

LTT Algemene Handelaars grens aan Afrox, ‘n handelaar in gasprodukte, en daar is geskarrel om te verhoed dat die brand na Afrox se perseel versprei. In ‘n stadium was die situasie so kritiek dat die polisie omstanders en helpers moes vra om die area te ontruim. Intussen het dit gegons op die sosiale mediafront, met inwoners wat seker was dat dit Afrox was wat gebrand het.

Die brand het ongeveer 16:00 uitgebreek. “Ek het swart vonke gesien, mense hoor skreeu en toe sien weghardloop van daai plek [LTT Algemene Handelaars]. Toe was daar ‘n ontploffing – dit was die trokke wat aan die brand geraak het. Ek was baie bang en het die brandweer gebel,” het ‘n sekuriteitswag by Afrox vertel. Afrox het glo die dag voor die brand ‘n vol bestelling gas ontvang wat hulle stoor in ‘n groot industriële tenk – ‘n klipgooi van die brand af.

LTT Algemene Handelaars is die familiebesigheid van die Lee-gesin. Tienie Lee en sy vrou, Ina, was Saterdag op hul plaas gewees. Werner, wat na sy pa se aftrede die besigheid begin bestuur het, was op Vaalwater gewees om ‘n wildveiling by te woon. Derhalwe het vriende en familie self ingespring om die Lee’s te help in hul afwesigheid.

Hulp het van orals gekom. Terwyl die Makhado Brandweerstasie aan die Afrox-kant die gasbottels deurlopend natgespuit het, het privaat voertuie wat toegerus is met watertenks die vlamme binne-in die perseel in toom probeer hou. Die hulp van LMB Makhado se brandweer is ook ingeroep.

Twee vragmotors van die Lee’s het tydens die brand ontplof. Vriende van Werner en sy pa kon egter daarin slaag om hulle kantoorinhoud te red deur die kantoordeur met ‘n bakkie af te ruk. Belangrike dokumente, gereedskap en rekenaars is uitgedra en op bakkies gelaai.

Die vuur is na ‘n paar uur se gespook uiteindelik onder beheer gekry. Teen Maandag was die Lee’s besig om op te ruim. Die presiese omvang van die skade kon nie gegee word nie, omdat ‘n versekeringsassessor nog besig was met ‘n ondersoek. “Ons weet nie hoe die brand ontstaan het nie,” het Tienie Maandag aan die koerant gesê.

Tienie kon nie die sekuriteitswag se storie bevestig dat die brand moontlik by die vragmotors ontstaan het nie. “Ons wag ook maar vir die ondersoek om afgehandel te word.”

Hy het almal bedank wat gehelp het om die brand te blus. “Baie dankie dat julle (daar is te veel om almal se name te noem) julle middag afgestaan het om ons te help,” het hy gesê.

Saterdag se brand by LTT Algemene Handelaars volg minder as ‘n maand ná nog ‘n vernietigende brand by ‘n onderneming. CheckOut, ‘n groothandel maatskappy, het op 8 Junie in die sentrale sakegebied afgebrand. Dit het intussen aan die lig gekom dat hierdie brand moontlik deur ‘n elektriese kortsluiting veroorsaak is.

 
 
 

Viewed: 659

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Vriende en familie van die Lee's het Saterdag alles net so gelos om hulle te help om 'n brand by hulle besigheid te blus. Janus Muller was een van die vrywilligers wat met sy mobiele watertenk ook kom help het. 'n Brandweerman van die Makhado Brandweerstasie besig om die vlamme te bestry. Brandweermanne van die Makado Lugmagbasis se hulp is ingeroep om ook te kom help om die brand onder beheer te kry. Die Makhado Brandweer moes verwoed keer dat Afrox, 'n verskaffer van industriële gas, nie ook aan die brand raak nie. 'n Straataansig van Industriastraat, waar 'n vernietigende brand LTT Algemene Handelaars Waste Recyclers in puin gelê het.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT