ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 62-jarige mev.Sophia Botha (62) van Vivo. Haar linkerarm is vergruis en haar duim afgekap tydens 'n barbaarse plaasaanval. Sy het byna doodgebloei na 'n wrede plaasaanval verlede Donderdag. Foto verskaf.

Panga-aanval skok

Date: 05 September 2014 By: Isabel Venter

‘n Vrou van die Vivo-omgewing is in ‘n plas van haar eie bloed vir dood gelos, terwyl ‘n aanvaller rustig haar huis leeg gedra het.

Die 62-jarige mev. Sophia Botha se linkerarm is vergruis en haar regterduim afgekap toe ‘n aanvaller haar herhaaldelik met ‘n panga gekap het. Volgens Botha se seun, Jan, het sy verlede Donderdag ongeveer 17:30 by die huis aangekom. Haar aanvaller het reeds vir haar gewag. Hy was gewapen met 'n mes, 'n panga en het ook ‘n tou by hom gehad.

Botha, het haar seun Dinsdag telefonies aan die Zoutpansberger gesê, werk by ‘n gifmaatskappy in Vivo en huur ‘n huis op die plaas van mnr. Gert Pretorius naby die Vivo-polisiestasie.

Die rower het glo die diefwering van ‘n venster oopgeforseer, sodat hy vir Botha binne-in die huis kon voorlê.

Hy het Botha vasgebind en haar herhaaldelik met sy panga oor haar lyf gekap. Haar linkerarm is plek-plek tot op die been oopgekloof soos wat sy die houe probeer afweer het. Volgens Jan het die aanvaller ook gedreig om sy ma te verkrag, maar het die plan laat vaar toe hy nie ‘n ereksie kon kry nie.

Die rower was ongemaskerd en het in Engels met Botha gepraat. Hy het geld, juwele en wapens gesoek. “My ma het vir hom gesê daar is nie geld in die huis nie, want haar salaris is nog nie uitbetaal nie, maar die man het haar bly kap met die panga,” het Jan vertel.

Later het die aanvaller begin om van Botha se elektrieseware in haar motor te laai. Hy het ook haar selfoon en bankkaarte gesteel, terwyl Botha vasgebind op die vloer lê en bloei het.

Die voorsitter van die Bobrak Boerevereniging, mnr. Japie van der Goot, het aan die Zoutpansberger gesê hy het nog nooit so ‘n grusame misdaadtoneel beleef nie. “Daar was bloed orals ... die hele huis was vol bloed. Die tannie het, terwyl ons gewag het vir die ambulans, ‘n paar keer haar bewussyn verloor,” het Van der Goot gesê.

Botha se aanvaller het te voet gevlug toe hy nie haar motor aangeskakel kon kry nie. ‘n Huishulp van die Pretoriusse het die gesukkel met die motor gehoor en gaan ondersoek instel. In daardie stadium het Botha al amper vir twee ure lank op die vloer gelê en bloei. Die huis was gesluit en die huishulp het hulp gaan ontbied, waarna die plaaswag en polisie in kennis gestel is.

Daar is gesukkel om ‘n ambulans te reël vir Botha en sy is inderhaas eers na die Zoutpansberg Privaathospitaal oorgeplaas. Van hier is sy oorgeplaas na die Polokwane MediClinic, waar sy ‘n ses-uur-lange operasie moes ondergaan om die skade aan haar arm te herstel. Jan het gesê haar linkerhand is met skroewe geheg, en dat sy ook diep snye aan haar kop, regterbeen en op haar rug het.

“My ma is baie getraumatiseerd en ontvang nog behandeling in die waakeenheid,” het Jan Dinsdag gesê. “As als goed gaan, behoort sy later dié week ontslaan te word, waarna sy by haar dogter sal aansterk. Ek dink nie sy sal terugkeer na haar huis toe. Daar lê nog ‘n lang pad van herstel vir haar voor.”

Van der Goot het bevestig dat die polisie ‘n spesialis-eenheid gestuur het om die saak te ondersoek en tans besig is om goeie leidrade op te volg. Hy was vol vertroue dat ‘n arrestasie binnekort aangekondig sal word.

 
 
 

Viewed: 686

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT