ADVERTISEMENT:

 

 
 

Stoffel Joubert van Levubu, wat 'n tweedeplek verower het in die TLU SA Jongboerkompetisie. Foto verskaf.

Stoffel is TLU SA se tweede beste jongboer

Date: 19 September 2014 By: Isabel Venter

Levubu se eie Stoffel Joubert het ‘n tweedeplek verower in die gesogte TLU SA Jongboer van die Jaar Kompetisie.

Vanjaar was die 10de agtereenvolgende jaar wat die TLU SA (Transvaalse Landbou-Unie van Suid-Afrika), in samewerking met Agri SA, Mutual & Federal en Manitou, die kompetisie aanbied. Stoffel se prestasie is verlede Woensdag, tydens die TLU se jaarkongres by die WNNR in Pretoria, bekendgemaak.  Hierdie toekenning word gemaak aan boere wat 35 jaar en jonger is.

Hierdie prestasie het egter nie net sommer in sy skoot geval nie. Stoffel, wat op Levubu groot geword het, het na skool gedroom daarvan om eendag te kan boer op sy eie plaas. Sy ouers was egter nie grondeienaars nie en ná skool het hy op ‘n plaas gaan werk waar hy die kwekery en boord bestuur het. Boerdery was in sy bloed en kort hierna het hy Levubu vir Londen verruil, sodat hy genoeg geld kon spaar vir ‘n eie stukkie grond.

Die begeerte het hom aangespoor om dag en nag te werk, waarvan hy die vrugte gepluk het met sy terugkeer na Levubu. Na sy terugkoms het Stoffel sy neef se plaas gekoop en ‘n vennootskap met sy oom, wyle Dries Joubert, aangegaan. Saam het hulle, met Dries se kennis en Stoffel se energie, ‘n wenspan gemaak.

Voorsitter van die SDLU (Soutpansberg Distrikslandbou-unie) mnr. Stephan Hoffman het Stoffel genomineer as jongboer, omdat hy ‘n boer is wat doelgerig die landbou leerskool se trappies van onder af geklim het. Hy was baie beïndruk dat Stoffel as een van die top drie finaliste van die kompetisie aangewys is.

Die kompetisiebeoordelaars, wat die drie finaliste se plase besoek het, het Stoffel gekomplimenteer vir sy passie wat hy vir landbou het.

Stoffel boer hoofsaaklik met makadamias en avokados in die Levubu Vallei. Hy staan ook aan die stuur van die onderneming wat hy saam met sy oom Dries begin het.  

Hoffman het Stoffel op die skouer geklop en gesê hy is ‘n aanwins vir die gemeenskap. “Stoffel is ‘n voorbeeld vir enige jongman om hulle te laat glo in hulself en hul vermoë om hul droom te vervolmaak.”

 

 
 
 

Viewed: 255

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT