ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic Image
 

Streek bly vasgevang in erge misdaadgreep

Date: 26 September 2014 By: Isabel Venter

Geweldsmisdade is plaaslik aan die toeneem.

Dit is volgens die jongste misdaadstatistieke vir die tydperk vanaf April 2013 tot Maart 2014 wat Dinsdag deur Limpopo se polisiekommissaris, lt-gen. Fanie Masemola, bekendgemaak is. Vir hierdie tydperk is dit net die Musina-area wat ‘n afname getoon het in die totale hoeveelheid misdaadgevalle wat vir dié tydperk aangemeld is, met 34 minder gevalle as die vorige tydperk se 2 431.

In teenstelling met Musina het Levubu ‘n skerp toename gewys in die totale aantal misdade wat aangemeld is in hierdie tydperk. Die misdaadsyfer daar het gestyg van 1 318 gevalle tot 1 435. In Makhado (Louis Trichardt) het die aantal misdade van 2 520 tot 2 627 gestyg.  

Buiten vir seksmisdade, wat ‘n toename getoon het by al drie hierdie polisiestasies, het gewelds- en kontakmisdade kommerwekkend toegeneem.

In Levubu is daar dubbel soveel moorde gepleeg as in die vorige jaar. In Makhado het die aantal moordsake van 12 tot vyf verminder. Musina se moordsyfer het onveranderd gebly op nege.

Klagte van roof met verswarende omstandighede het by al drie stasies ‘n toename getoon . In die Makhado area het dié sake van 68 tot 161 toegeneem, in Levubu van 60 tot 73 en in Musina van 96 tot 174. Gewone roof het ook ‘n toename getoon. In Makhado het die gevalle gestyg van 59 tot 77 en in Musina van 47 tot 62. Levubu se syfers het onveranderd gebly op 19 gevalle vir die jaar.

Seksmisdade in Makhado het met ‘n ontstellende 40% gestyg, nadat dié stasie in die vorige jaar die enigste stasie was wat ‘n vermindering aangeteken het. Die gevalle van seksmisdade het gestyg van 63 tot 105, in Levubu van 71 tot 88, en in Musina van 168 tot 173.

Dit blyk ook dat die streek al hoe meer vasgevang word in die wurggreep van ‘n toenemend-gewelddadige samelewing. Huisbrake het wel ‘n geringe afname getoon in die streek. In teenstelling hiermee het diefstal, huis- en besigheidsrowe toegeneem.

In Makhado het huis- en besigheidsrowe onderskeidelik toegeneem van vyf tot 23 en van 15 tot 26. In Levubu het huisrowe afgeneem van 17 tot 9, maar besigheidsrowe het toegeneem van 13 tot 21. In Musina het huisrowe van 16 tot 51 gespring, terwyl besigheidsrowe verminder het van nege tot vier.

Huisbrake by woonhuise het weinig verminder, wat beteken inwoners sal steeds paraat moet wees en dalk ekstra veiligheidsmaatreëls moet tref. In Makhado het die gevalle van 270 tot 229 verminder; so ook in Musina van 307 na 282. In Levubu het die aantal huisbrake egter van 157 na 188 gestyg.

Die syfers vir plaasaanvalle is steeds nie as ‘n kategorie ingesluit in vanjaar se syfers nie. Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) se voorsitter vir veiligheid en sekuriteit, mnr. Doors le Roux, het kort voordat die statistieke bekendgemaak is, gesê plaasaanvalle vir die streek het verdubbel sedert verlede jaar.

Plaasaanvalle is ook nie die enigste misdaad wat ‘n toename in die Levubu area getoon het nie. Dwelmverwante misdrywe het daar van 152 tot 215 vermeerder, in Musina van 51 tot 135 en in Makhado onveranderd gebly op 136 gevalle. Openbare geweld het ook toegeneem in Levubu van nul gevalle tot 11 en  in Makhado van twee tot vier, terwyl Musina nul sake teenoor die vorige jaar se drie aangeteken het.

 

 
 
 

Viewed: 273

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT