ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die ietermagog wat die K9 honde-eenheid van die Makhado SAPD verlede week gered het. Die ietermagog was skugter vir die kamera, en is kort ná die neem van die foto weer in die natuur vrygelaat.

Ietermagog in sak kan man duur te staan kom

Date: 17 October 2014 By: Isabel Venter

‘n Ietermagog mag dalk klein wees, maar is baie meer werd as ‘n renoster.

Dit het die 36-jarige Mulalo Victor Ratombo van Thohoyandou verlede Woensdag eerstehands uitgevind. Die Makhado Polisie se K9 honde-eenheid het hom vasgetrek, nadat hy daarvan verdink is dat hy gesteelde goedere in sy bakkie vervoer het. Agter op sy bakkie, toegemaak in ‘n meelsak, het die polisie die skaam-skubbige, en uiters skaars, soogdier ontdek.

Daar word vermoed dat Ratombo die ietermagog probeer smous het hier in Makhado (Louis Trichardt).

Ratombo is op die plek gearresteer en die ietermagog is by hom gekonfiskeer. Voor die ietermagog vrygelaat is, het die plaaslike Dierebeskermingsvereninging (DBV) dit na die Zoutpansberger se kantoor gebring vir ‘n vinnige foto. In daardie stadium was die ietermagog al vir die hele dag lank in die warm son, en baie getraumatiseerd. Plaaslike DBV diere-inspekteur mnr. Lawrence Khodobo het later bevestig dat die ietermagog op ‘n natuurreservaat vrygelaat is. Dit was vir hom, in al sy jare by die DBV, die eerste keer wat hy ‘n ietermagog moes red.

Buiten dat ietermagogs baie skaars is, is hulle ook meer bedreig as renosters. Die waarde van ‘n ietermagog, op die swartmark, word geskat op sowat R150 000. ‘n Ietermagog word ook, so ver moontlik, lewendig verkoop of gesmokkel.

Plaaslik word daar onder meer geglo as ‘n persoon ‘n ietermagog doodmaak en eet, dit sal kom reën. Die harde skubbe hou ook baie muti-waarde in. Dit kan blykbaar ‘n persoon beskerm teen heksery. In Asiatiese lande soos China en Indonesië is ietermagogvleis baie gewild en word daar baie geld betaal vir ‘n lewendig een. Sommige Chinese glo ook dat die skubbe van die ietermagog medisinale eienskappe het en dat dit byvoorbeeld kan help met swak bloedsomloop.

Die Wêreldbewaringsunie (WBU) het in Julie vanjaar aangekondig dat die agt ietermagogspesies wêreldwyd nou as kwesbaar op die rooidatalys aangetoon is. Volgens prof. Ray Jansen van die departement van omgewing-, water-, en aardwetenskappe aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) beteken dit die ietermagog is op die rand van uitwissing. Jansen, wat ook betrokke is by die bewaringsinstansie Afrika Ietermagogwerksgroep, het gesê dat, in terme van Limpopo se bewaringswette, die ietermagog gelys is as ‘n spesiaal beskermde dier.

Volgens die WBU se webblad is die ietermagog ook die mees gestroopte dier, selfs meer as olifante en renosters, in die wêreld - ‘n feit waarvan Ratombo nie bewus was nie. Hy het Maandag ‘n borgaansoek gebring in die Louis Trichardt Streekshof, nadat hy die naweek agter tralies spandeer het.

Ratombo se verweer was dat hy nie geweet het dis onwettig om ‘n ietermagog te besit nie. Ratombo het tydens sy borgaansoek vir die hof gesê hy het nie doelbewus gepoog het om die ietermagog te vang nie. Volgens hom het hy die dier in die veld gesien, opgetel en besluit om as troeteldier aan te hou.

Ratombo het aangedui dat hy sy eie verdediging sal hanteer, en sal weer op 6 November in die hof moet verskyn vir verhoor. Hy is op R1 000 borg vrygelaat.

 

 
 
 

Viewed: 947

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Victor Ratombo (36) sê hy het nie geweet dit is onwettig om 'n ietermagog te besit nie.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT