ADVERTISEMENT:

 

 
 

Net ‘n heksejag?

Date: 31 October 2014 By: Isabel Venter

Aanklagte van die Amerikaanse regering teen Dawie Groenewald en sy broer is net nog ‘n heksejag.

Só het Groenewald se prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, vandeesweek gesê rondom die nuwe klagte wat Groenewald en sy broer, Janneman Groenewald (44), in die gesig staar.

Die broers is verlede Donderdag (16de) daarvan aangekla dat hulle saamgesweer het om onwettige jagtog pakkette  (van renosters) te verkoop aan Amerikaanse jagters, van geldwassery, en dat hulle in die geheim handelgedryf het met renosterhorings. Die klagte spruit uit ‘n jaarlange ondersoek van die Amerikaanse Departement van Visse en Natuurlewe, wat daarvoor verantwoordelik is om die onwettige handel in plante en diere te ondersoek.

Verder word Dawie en Janneman ook aangekla van sameswering, e-pos bedrog, geldwassery en die oortreding van die Amerikaanse Lacey Wet, wat bepaal dat dit ‘n misdryf is om onwettige jaggeleenthede of diere daar te verkoop.

Janneman het glo gedurende 2005 tot 2010, terwyl hy in die Amerikaanse staat Alabama gewoon het, jagpakkette verkoop op Dawie se Musina wildsplaas. Dawie, wat Out of Africa Safaris bedryf vanaf sy plaas, sou ook gereeld na Amerika reis om ook pakkette te verkoop by jagkonvensies.

Jagters het tussen $3 500 en $15 000 betaal, waarna hulle geregtig was om ‘n renoster te skiet, ‘n trofeefoto te neem en ‘n rekordboekinskrywing te maak. Jagters is glo vertel dat hulle dikwels gehelp het om van ‘n probleemdier ontslae te raak.

Die ondersoek het 11 beweerde onwettige jagtogte gedokumenteer wat glo in detail vertel hoe Dawie die renosters wat gejag is se horings afgesaag het. In een geval moes ‘n renoster glo uitgesit word nadat dit herhaaldelik gewond is deur ‘n boogskut.

“Hierdie mans het Amerikaanse burgers om die bos gelei deur vir hulle te lieg, sodat hulle kon voordeel trek uit onwettige renosterjagte,” het Alabama se prokureur-generaal, George Beck, in ‘n persverklaring gesê. “Nie net het hulle die Suid-Afrikaanse wette verbreek nie, maar het hulle ook hulle onwettige winste hier by ons banke 'gewas',” het hy bygevoeg.

Hy is van die mening dat hulle saak ‘n sterk waarskuwing uitstuur aan Suid-Afrikaners wat na Amerika reis met die uitsluitlike doel om onwettige jagkonsensies daar te verkwansel.

Intussen het Erwee die vermoede uitgespreek dat die nuwe klagte nie sal water hou nie. “Dawie is ‘n toonaangewer in die plaaslike wildbedryf – hy is een van dié grootste wildboere in die Musina-omgewing. Daar is baie ander professionele jagters en wildboere wat by hom aanklop vir raad,” het Erwee Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Erwee het verder bevestig dat die broers nie in hierdie stadium uitgelewer sal word aan Amerika alvorens sy hofsaak hier afgehandel is nie. Dawie en nog 10 ander beskuldigdes staan tereg in die Pretoriase Hooggeregshof op meer as 1 000 klagte wat verband hou met die onwettige jag op renosters. Hierdie saak sal in Augustus 2015 voortgaan. 

 
 
 

Viewed: 676

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT