ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

SBBV en Raad gesels oor rekeninge

Date: 20 November 2014 By: 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het hul rekeningprobleme met die bestuurder van die Makhado Munisipaliteit bespreek en meen dat hulle op die punt van 'n ooreenkoms is.

“Ons het met die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, en van sy personeel oor beter prosedures gesels,” het SBBV voorsitter me. Inga Gilfillan, gesê. “Ons het tydens die vergadering op 23 Oktober ‘ooreengekom’ dat as ons ‘n saak uitgesorteer het, die persoon van die munisipaliteit wat ons gehelp het, op ons brief sal teken, sodat ons verslag kan hou. Dit gebeur dat hulle nie kan onthou wat hulle die vorige keer gesê het nie en hulle hou nie hulle eie rekord nie. Daar is ook baie verskillende persone by die afdeling met wie ‘n mens moet werk, ” het Gilfillan gesê.

In die verlede het dit dikwels gebeur dat ‘n bedrag wat verkeerdelik op ‘n rekening verskyn het, uitgesorteer is, net om weer ‘n paar maande later op die persoon se rekening te verskyn. “Dit het met ons ook gebeur dat daar R20 000 verkeerdelik op ons rekening verskyn en die krag dan afgesny word,” het Gilfillan gesê.

Die munisipale bestuurder het egter hierdie week gesê dat daar nie van 'n "ooreenkoms" met die SBBV gepraat kan word nie, aangesien 'n ooreenkoms iets is wat op skrif gestel is. "Ons het besprekings gehad. Om dit te bevestig, sou beteken dat dit standaard praktyk moet word. Alvorens dit sou kon gebeur, sou daar eers  'n memorandum opgestel moes word, na die by-wette gekyk word en dit deur die raad bekragtig word," het mnr. Mutshinyali gesê. Hy het bygevoeg dat die feit dat die SBBV namens 'n groep mense optree, die saak kompliseer. "Dit sal nie moeilik wees om instruksie te gee dat 'n amptenaar moet teken wanneer 'n kliënt individueel vir sy eie rekening kom nie," het Mutshinyali gesê.

Die geval van Kennington Lodge is vir hom genoem waar dit  'n individuele geval was. Op hulle rekening het ‘n bedrag wat uitgesorteer was, ná 12 maande weer begin verskyn. Dit het vir die bestuurder ‘n  wesenlike verlies aan werksure en gesondheid meegebring om weer ‘n maandelange geveg aan te knoop om iets wat lankal reggestel is, weer reggestel te kry. ‘n Knelpunt was die feit dat daar nie deur die munisipaliteit rekord gehou is van besluite rondom regstellings nie en dat dit ook nie aan ander afdelings gekommunikeer is nie. Mutshinyali het gesê dat in so 'n geval 'n individuele kliënt welkom is om die saak na hom te bring.

Me. Marie Peché van Kennington Lodge, wat hierdie jaar nog met die munisipaliteit gestoei het,  het bevestig dat niemand by die munisipaliteit bereid was om te teken nie. "Niemand wou teken en verantwoordelikheid neem nie, nie voor by ontvangs nie, nie by die rekeninge-afdeling nie. Die een hand weet nie wat die ander daar doen nie. Ek het ook nie terugvoer ontvang nie. Elke einde van die maand kon jy eers van die rekening aflei of die probleem nog bestaan of nie," het Peché gesê.

Waarnemende SBBV bestuurder mnr. Phillip Olivier het hierdie week gesê dat hy nie in die praktyk probleme voorsien nie. "Ek kry die meerderheid van die kleiner sake oor die telefoon uitgesorteer  en  vir die groter sake sal ek probeer om ‘n handtekening te verkry," het Olivier gesê.

 

 
 
 

Viewed: 121

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT