ADVERTISEMENT:

 

 
 

Konst. Mpfariseni Moses Mudzusi (44). Foto: SAPD

Knou vir polisie

Date: 12 December 2014 By: Isabel Venter

Verskeie van Limpopo se geregsdienaars, getaak met die publiek se veiligheid en sekuriteit, het die naweek agter tralies spandeer as verdagtes.

Altesaam 19 polisielede, waarvan drie in diens is van die Makhado Polisie, is verlede Vrydag gearresteer nadat hulle na bewering ‘n “ekstra inkomste” verdien het deur omkoopgeld te ontvang. Die nasionale polisiehoof, genl. Riah Phiyega, was verlede Vrydagoggend by toe die polisiebeamptes by vier polisiekantore in hegtenis geneem is.

Die lede, volgens nasionale polisiewoordvoerder lt.genl. Solomon Makgale, word daarvan verdink dat hulle omkoopgeld ontvang en dan vragmotors vol onwettige sigarette begelei het sodat hulle nie deur ander polisie- of verkeersbeamptes voorgekeer sou word nie.

Phiyega en Makgale het Vrydag die media toegespreek by die Morebeng-polisiestasie waar die meeste arrestasies plaasgevind het.

‘n Spesialis-eenheid van die polisie se inteligensie-eenheid het twee jaar lank ondersoek gedoen na die gearresteerde polisielede. Ses van die lede is adjudant-offisiere en 13 konstabels.

Van die 19 is drie afkomstig van Makhado. Die res is van die Morebeng- (Soekmekaar), Maleboho en Botlokwa-polisiekantore.

Daar is tydens die 19 se arrestasie op verskeie selfone beslag gelê en by hulle huise besoek afgelê om te bepaal of hulle nog in besit is van onwettige sigarette of omkoopgeld. Die ondersoek duur steeds voort.

Intussen het die drie Makhado-polisiemanne Maandag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn. Konst. Robert Mabala (43), AO Thifhelimbilu Edward Mudau (44) en Konst. Mpfariseni Moses Mudzusi (44), het vlugtig, en onder groot belangstelling van die publiek en plaaslike polisielede, verskyn op klagte wat verband hou met die aanvaarding van omkoopgeld. ‘n Aanklaerspan vanaf Pretoria het die verskyning hanteer.

Die drie is glo, volgens inligting verskaf deur die polisie, gevang nadat hulle na bewering geld van polisie-agente ontvang het tydens ‘n lokval wat daar vir hulle gestel is as deel van die ondersoek.

Mabala staan tereg op 'n tweede klag, nadat hy glo twee keer uitgevang is. Hy en sy medebeskuldigdes kan later ook aangekla word van korrupsie, dwarsboming van die gereg en geldwassery.

Die plaaslike stasiebevelvoerder, kol. Francis Ramovha, was vlugtig teenwoordig in die hof. Hy het nie gebly vir sy drie lede se verskyning nie. Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het gesê die bevelvoerder is teleurgesteld in sy lede en dat die gereg nou sy gang moet gaan.

Mabala en die ander 18 lede is almal geskors, sonder betaling. Hy is op R15 000 borg vrygelaat en Mudau en  Mudzusi op R5 000 elk. As deel van hulle borgvoorwaardes moet hulle twee keer ‘n week by die Mphephu-polisiestasie aanmeld, alle reisdokumente inhandig en nie uit die Vhembe-distrik reis sonder die toestemming van die ondersoekbeampte in die saak nie.

Al drie se saak is uitgestel tot 16 Februarie volgende jaar, sodat die ondersoek afgehandel kan word.

 
 
 

Viewed: 1814

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

AO Thifhelimbilu Edward Mudau (44). Foto: SAPD

Konst. Robert Mabala (43). Foto: SAPD

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT