ADVERTISEMENT:

 

 
 

Muhammed Rasool van Cycle Centre in Louis Trichardt bekyk van binne hul winkel die skade wat deur die inbrekers aangerig is. Ondermeer is een van hul groot vertoonvensters deur die inbrekers uitgeslaan. 

Booswigte ontsien niemand nie, nie eers familie in tyd van hartseer

Date: 13 March 2015 By: Andries van Zyl

Terwyl hulle nog worstel met die hartseer van hul pa se dood, het die ongeluk weereens die Rasool-familie van Cycle Centre in Louis Trichardt getref.

Dié familiebesigheid was vroeg Maandagoggend die teiken van ‘n groep inbrekers wat geen moeite ontsien het om toegang tot die perseel te kry nie.

Volgens Mehboob (Bobby) Rasool, wat nou saam met sy broer Muhammed en ma Shahida die winkel bedryf ná die hartseer dood van eggenoot en pa Mohamed op 12 Februarie, kom die inbraak op ‘n baie slegte tyd. Hulle was Maandagoggend steeds stomgeslaan oor die duisende rande se skade wat deur die inbrekers aangerig is, in teenstelling met die skrale beloning wat hulle vir hul moeite ontvang het. Op die ou einde is net meer as R300 se kleingeld uit een van die kasregisters gesteel.

Die Rasools se nagrus is net na 04:30 Maandag deur ‘n oproep van hul sekuriteitsfirma versteur. Dié het hulle ingelig dat die alarm by hul winkel geaktiveer is. Die sekuriteitsmaatskappy het dadelik gereageer en drie inbrekers in die perseel gewaar met hul aankoms. Ongelukkig kon die drie misdadigers arrestasie ontglip deur haastig in verskillende windrigtings te laat spaander.

By nadere ondersoek het dit geblyk dat die booswigte via die buurperseel se dak toegang tot die winkel probeer verkry het. Die sinkplate op die winkeldak is geknip, reg bokant een van die sekuriteitsogies. Dié is stukkend geslaan. “Hulle kon blykbaar nie deur die dak inkom nie, want dit was te hoog,” sê Bobby.

As ‘n plan B het die inbrekers toe maar deur die agter- en voorkant van die winkel toegang probeer bekom. Agter het hulle ook gesukkel, maar voor was hulle meer suksesvol. Die groot slotte wat die swaar rol-diefwering voor die vertoonvensters vashou, is voor een van die vensters geknip. Daar is die vertoonvenster met geweld uitforseer. Toe hulle eers in die perseel is, het die diewe reguit na die kantoortjie gegaan waar die alarmstelsel se senter en beheerbord was. Dié is stukkend geslaan. Teen dié tyd het die sekuriteitsmaatskappy gelukkig reeds ‘n alarmsein ontvang.

“Ons vermoed hulle het net te min tyd gehad, want ons sekuriteitsmaatskappy was baie vinnig op die toneel,” sê Bobby. Hy is dankbaar dat die diewe nie meer tyd gehad het om skade aan te rig nie. Hul voorraad blyk alles daar te wees. “Met die tyd sal mens agterkom wat weg is,” het Bobby gesê.

Volgens Bobby is hulle nog altyd baie gelukkig gewees om nie inbrake te hê nie. “Dit is seker 25 jaar laas dat so iets gebeur het,” sê Bobby. Hy is egter bekommerd oor die huidige misdaadsituasie in Eltivillas. “Vanaf Desember het misdadigers redelik aktief begin raak. Daar was die laaste paar maande ‘n hele paar gevalle van diefstalle en inbrake in Eltivillas,” sê Bobby. 

 
 
 

Viewed: 283

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT