ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mev. Dawn Smit van Louis Trichardt het sommer twee skrywes, persoonlik aan haar geadresseer, van die 419-swendelaars in haar posbus ontvang. 

Swendelaars se fokus op Louis Trichardt

Date: 20 March 2015 By: Andries van Zyl

Dit wil voorkom asof swendelaars vir eers hulle visiere op Louis Trichardt gerig het.

Sowat twee weke gelede het die Zoutpansberger berig oor die “prokureursbrief” wat mev. Sarah du Toit ontvang het wat haar in kennis stel dat sy die gelukkige erfgenaam van ‘n boedel van digby die agt miljoen Britse pond blyk te wees. Sy het egter gou agtergekom dat die skrywe, onder die briefhoof van “Harrisons Attorneys & Conveyancers” in London, niks anders is as ‘n slim slenter om goedgelowige mense uit hul geld te verkul nie. Wat vreemd was, was dat sy die skrywe, persoonlik aan haar geadresseer, in haar posbus ontvang het, sonder dat die Suid-Afrikaanse seël daarop deur die Poskantoor gekanselleer is.

Sedertdien die berig verskyn het, is die dorp letterlik oorval met soortgelyke skrywes. Talle inwoners het, weereens in hul posbusse, kennis gekry dat hulle binnekort miljoenêrs kan wees. Mev. Dawn Smit van Pest Control Specialists het sommer twee skrywes ontvang. Die een was woord-vir-woord dieselfde as die skrywe wat Du Toit ontvang het, ook van  “Harrisons Attorneys & Conveyancers”. Al wat verskil het, was dat haar volle naam en van naam bo-aan die skrywe gestaan het. Op die koevert waarin die brief aan Smit was, was haar posadres, asook haar volle straatadres, met die hand geskryf.

Die ander skrywe aan Smit was van ‘n “mnr. Jack Ferro” wat homself verkoop as die “Director and Head of Investor and Vault Services at the Foreign Department of Santander Bank United Kingdom”. In die skrywe probeer hy haar oorreed om hom te help met ‘n transaksie waarin sy tot 80 miljoen Amerikaanse Dollars kan kry. “Wat vir my verbysterend is, is dat hulle soveel van jou persoonlike inligting het. Waar kry hulle dit?!” het Smit gevra.

Anders as die brief wat Du Toit ontvang het, was die seëls van beide briewe aan Smit wel gekanselleer deur Witspos in Johannesburg. “Ag, ek weet dit is ‘n slenter. Volg maar op, maar onthou  - as julle die geld kry, soek ek deel daarvan," het Smit geskerts.

Hierdie tipe slenter is beter bekend as die Nigeriese 419-slenter. Deur die jare het dieZoutpansberger al talle berigte gedra waarin inwoners vermaan word om geensins met die “skrywers” in korrespondensie te tree nie. Tot redelik onlangs is hoofsaaklik e-posse gebruik om slagoffers te lok. Dit wil egter voorkom asof e-posse nie meer die gewenste uitwerking vir die swendelaars lewer nie en het hulle begin met ‘n meer persoonlike aanslag deur middel van briewe.

Hoe die slenter werk, is dat goedgelowige mense,  asook geldgierige mense, glo dat hulle munt kan slaan uit die “transaksie”. Sodra daar met die swendelaars kontak gemaak word, word die slagoffer stelselmatig in die lokval ingetrek. Aanvanklik word daar gerapporteer dat die transaksie goed verloop en dat die slagoffer binnekort sy of haar geld sal ontvang. Dan volg die verskonings. Telkens moet die slagoffer ‘n bedrag betaal om òf ‘n bankamptenaar om te koop, òf een of ander fooi wat betaal moet word om die geld los te maak. Te laat kom slagoffers egter agter dat daar nooit enige geld oorbetaal gaan word nie, en teen daardie tyd het hulle reeds duisende rande aan “fooie” betaal.

Om die swendelaars vas te trek is ook nie so maklik nie. Waar daar van Suid-Afrikaanse rekeninge gebruik gemaak word, is die rekeninge telkens met vals persoonlike inligting oopgemaak. Alle fondse word ook dadelik uit die rekeninge deur die swendelaars getrek sodra betalings gemaak word. In die geval waar selfone vir kommunikasie gebruik word, is die selfoonnommer ook telkens met vals persoonlike inligting, ten spyte van die RICA-wetgewing, bekom. Om ‘n lokval vir die booswigte te stel, blyk ook moeilik te wees, want die blote skryf van die brief is nie ‘n oortreding nie.

Inwoners word weereens gewaarsku om nie te reageer op sulke skrywes of e-posse nie, veral nie op Gmail- of Hotmail-adresse nie.  Onthou: As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees.

 
 
 

Viewed: 254

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT