ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic Image

Nog geen klagtes oor “vermiste” geld - Kansa

Date: 16 April 2015 By: Andries van Zyl

Donateurs wat die afgelope Kansa Shavaton op Louis Trichardt ondersteun het, is hewig verontwaardig nadat gerugte die rondte begin doen het dat sommige donasies wat aan dié organisasie geskenk is, glo op ‘n oneerlike wyse deur ‘n sekere vrywilliger (wie se naam nie bekendgemaak mag word nie) ingevorder is.

Hierdie jaarlikse projek het op 28 Februarie weer op die dorp afgeskop en tot 13 Maart geduur, waartydens inwoners, teen ‘n bedrag, hul hare ten bate van kankerlyers kon laat skeer of kleur. Vrywilligers word jaarliks deur Kansa aangestel om die organisasie te verteenwoordig en word dan by inkopiesentrums gestasioneer. Plaaslike skole en ondernemings word ook besoek om die projek te ondersteun.

Die Zoutpansberger het met Kansa se streekbestuurder in Polokwane, Me. Adri Ras, gesels om vas te stel of daar waarheid in die bewerings steek. Volgens Ras het hulle sover nog geen amptelike klagtes van enige van die donateurs ontvang nie en is daar dus geen interne ondersoeke teen die betrokke vrywilliger ingestel, of ‘n saak van diefstal by die polisie gemaak, soos beweer word, nie. Sy sê dat daar rekenskap gegee kan word van alle donasies en skenkings wat tydens die afgelope Shavathon by Kansa inbetaal is, maar indien ongelukkige donateurs hul klagtes teen die spesifieke vrywilliger direk aan Kansa rig, dit beslis ondersoek sal word.

Ras nooi alle donateurs wat onseker is of hul donasies ontvang is om haarself of Sharon Stander (Shavaton koördineerder) direk te skakel vir bevestiging by tel. 015 297 1268/9.

Intussen word daar ‘n vergadering met alle organisasies van belang gereël waartydens Kansa sal verduidelik hoe die fondse wat ontvang is, bestee en aangewend sal word. Die gemeenskap word vriendelik uitgenooi om dit by te woon. ‘n Datum sal later bevestig word.

Dirk Meissenheimer, voorsitter van die plaaslike Kansa Relay for Life op Louis Trichardt, vra dat inwoners nie die Kansa Shavaton met die Kansa Relay moet verwar nie. “Dit is twee verskillende projekte vir Kansa wat afsonderlik bestuur word,” het hy gesê.

Meissenheimer sê dat hy wél ook verneem het van die bewerings teen die betrokke vrywilliger en dat hy van plan is om saam met Kansa Limpopo se bestuur om 'n tafel te sit, sodat alle kwessies rakende vrywilligers wat tot ongerymdhede mag lei, uitgestryk kan word om te verhoed dat ontevredenheid in die toekoms in die gemeenskap ontstaan.

 
 
 

Viewed: 193

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT