ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Chris Olivier (61).

Streek neem afskeid van toerismeman

Date: 16 April 2015 By: Andries van Zyl

Nuus van die welbekende Chris Olivier (61) van Louis Trichardt se skielike dood het veral vir vriende en kennisse in die plaaslike toerismebedryf as groot skok gekom.

Chris is Saterdagaand, 11 April, in die hoësorg eenheid van die Wilgers Hospitaal in Pretoria na ‘n kort siekbed oorlede. Dit vanweë komplikasies wat ingetree het ná hy sowat ‘n maand gelede ‘n hartaanval gehad het en ‘n stent en pasaangeër ontvang het.

In lewe was daar min mense wat soveel passie vir die plaaslike toerismebedryf gestraal het soos Chris. “Sy woorde was altyd: ‘Ons het vyf jaar om die Soutpansberg op die kaart te sit!’ Hy was ‘n besonderse mens wat die waarde van toerisme raakgesien het en hard gewerk het om die Soutpansberg ‘n gewilde toerismebestemming te maak. Hy het ‘n ongelooflike kennis van die streek en die Venda-kultuur gehad,” sê Inga Gilfillan, wat vir jare as voorsitter van die Soutpansberg Bemarkings- en Toerismevereniging saam met Chris gewerk het.

Chris was ‘n boorling van die Soutpansberg. Hy is op 23 Maart 1954 hier in die Moedersbond in Louis Trichardt gebore. As jong seun het sy ouers Bronkhorstspruit toe getrek. Albei van hulle was onderwysers.

Omdat sy grootouers hier in die Soutpansberg was, by Soekmekaar en Mopane, het Chris egter gereeld skoolvakansies hier deurgebring. Van Bronkhorstspruit is Chris-hulle later Ogies toe waar hy in 1971 aan die Hoërskool Ogies matrikuleer.

Direk na matriek het Chris by die destydse Bantoe Administrasie en Ontwikkeling begin werk vir ‘n paar jaar. Tussendeur het hy sy militêre diensplig gedoen, waarna hy onderwys gaan swot het by Tukkies. Hy het sy graad in 1979, met Afrikaans as hoofvak, verwerf.

Hy begin sy onderwysloopbaan in Pretoria by Hoërskool Voortrekkerhoogte. Daarna werk hy vir drie jaar by die Glenmore veldskool aan die Natalse Suidkus. Vir nog twee of drie jaar was hy ook verbonde aan die Sommerreg Veldskool by Delmas, en in 1985 word hy hoof van die Departement van Opvoedkundige Leiding by Standerton Hoërskool.

In 1988 keer Chris weer terug na die Soutpansberg met sy aanstelling as senior dosent in Opvoedkundige Leiding en Jeugweerbaarheid by Ramaano Mbulaheni in Service Training Centre in Tshakuma (Venda). Hierdie pos beklee hy tot in 1993, toe hy sy werk vanweë regstellende aksie verloor het.

Kort hierna het Chris die geleentheid gehad om sy passie vir toerisme te begin uitleef, nadat hy in Desember 1994 aangestel is as inligtingsbeampte vir die Soutpansberg Bemarkings- en Toerismevereniging. Met die tot niet gaan van die vereniging se kantoor het Chris voortgegaan om die streek as toerismebestemming te bemark. Vele plaaslike en ook oorsese toeriste het deur die jare insae gehad in sy kennis van die streek met sy toeragentskap, Face Afrika, wat hy begin het. Vele sal hom onthou vir sy kenmerkende bosbaard en groen kombi waarin hy die streek deurkruis het.

Chris is nooit getroud nie en het geen kinders gehad nie. Sy enigste direkte familielid, ‘n suster, is tans ook ernstig aan kanker siek in die Wilgers Hospitaal. Om haar kans te gee om vanweë haar verswakte toestand afskeid te neem van haar broer, sal daar Donderdag, 16 April, slegs ‘n roudiens om 15:00 vir Chris in die kapel by die Wilgers Hospitaal gehou word.

 
 
 

Viewed: 587

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT