ADVERTISEMENT:

 

 
 

Brian Jeffries ontvang tans behandeling in die Tzaneen MediClinic.Foto verskaf.

Sakeman ernstig beseer

Date: 15 May 2015 By: Isabel Venter

‘n Bekende sakesman van Louis Trichardt, mnr. Brian Jefferies (46), het ernstige beserings opgedoen in ‘n motorfietsongeluk Sondagmiddag op die N1, naby die Songozwistraat-kruising.

“Die dokter het vir ons gesê hy het nog nooit in sy lewe sulke slegte breuke gesien nie,” het Brian se broer, Michael, Dinsdag aan die koerant gesê. Hy het vanuit Tzaneen gepraat waar hy vir Brian ondersteun het in die hospitaal. Hy en Brian ry al van jongs af motorfiets en, sê Michael, Brian se motorfiets was sy trots gewees.

Brian was Sondag met sy Triumph Tiger 800XC motorfiets vanaf die Levubu-pad se kant af op pad terug huistoe. Hy het by die N1-kruising stilgehou, en was besig om regs te draai toe hy bots met ‘n silwer BMW wat ‘n U-draai gemaak het op die N1. Die bestuurder van die BMW het berg se kant toe gekyk voor sy die U-draai gemaak het.  

Mnr. Koos Botha, wat die ongeluk sien gebeur het, het vir Michael vertel dat hy nog Brian se motorfiets bewonder het, toe hy die slag gehoor het. Hy het dadelik gestop om te help.

Albei Brian se gewrigte is verbrysel met die impak van die ongeluk. Brian het ook etlike meters anderkant die BMW te lande gekom. “Daar was baie bloed gewees, maar genadiglik was Koos daar en hy het ‘n noodhulpkennis ... hy het kop gehou en nie Brian se helmet afgehaal nie, en deur die dorpswag gereël dat ‘n ambulans Brian vinnig hospitaal toe vat ... teen die tyd wat ek by die toneel gekom het, was Brian al op pad in die ambulans na die Zoutpansberg Privaat Hospitaal gewees,” het Michael gesê.

By die hospitaal is daar vasgestel dat die bloeding nie veroorsaak is deur ‘n hoofslagaar wat raakgesny is nie. Helaas was Brian se beserings baie ernstig – sy bekkenbeen was op drie plekke morsaf – en hy is gestabiliseer en na die Tzaneen MediClinic oorgeplaas per ambulans.  

Daar is Brian direk na die teater gehaas waar hy ‘n vier-en-‘n-half-uur operasie ondergaan het om die skade aan sy gebreekte gewrigte en bekkenbeen te herstel. “Ons is dankbaar dat hy nie skade opgedoen het aan sy lewensnoodsaaklike organe nie,” het Michael gesê.

Brian se dokters kon reeds die meeste skade herstel deur middel van ysters en skroewe. Deurentyd was Michael aan sy broer se sy gewees.

Maandagoggend, kort nadat Brian uit die teater gekom het, was daar ‘n paar benoude oomblikke toe sy bloeddruk skielik gedaal het. Daar is oorweeg om hom oor te plaas na die intensiewe sorgeenheid, maar voor dit nodig was, kon sy dokters Brian se bloeddruk weer regkry.

Teen Dinsdag het Brian se lang pad na herstel begin. “Die dokter sê daar is ‘n moontlikheid van nog opvolgoperasies, maar Brian moet nou eers gesond word,” sê Michael.

Intussen het boodskappe van ondersteuning en vinnige beterskap vanaf alle oorde gekom vir Brian. Baie inwoners sal hom herken as die eienaar van die De Graaf UnderCar franchise in Louis Trichardt.

Namens Brian het Michael vir drs. Alec Revelas, ‘n ortopediese chirurg, Emil Gaigher en Lappies Labuschagne van Louis Trichardt bedank. Hy het ook sy opregte dank uitgespreek teenoor Koos Botha, die Soutpansberg Dorpswag en Maud Myburgh wat Brian op die ongelukstoneel bygestaan het.

 

Vriende en familie het ook uit hul eie ‘n hulpfonds op die been gebring vir Brian, nadat die hospitaalrekeninge konstant begin inkom het teen Maandag. Sigrid Jeffries kan hieroor geskakel word by tel. 082 454 5886.  

 
 
 

Viewed: 514

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

null

Die silwer BMW wat 'n U-draai voor Brian gemaak het. Fotoverskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT