ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die dorp se bestaande rioolaanleg is afgeskakel, ten spyte van R11,5 miljoen wat in 2011 daargestel is om opgraderings te doen.

Nuwe aanleg in gevaar

Date: 19 June 2015 By: Isabel Venter

Meeste inwoners van Louis Trichardt is seker nie daarvan bewus dat die dorp se nuwe rioolaanleg onlangs stil-stil in gebruik gekom het nie.

Hierdie veelbesproke tweede aanleg, net suid van die bestaande rioolaanleg, is sowat drie maande gelede in gebruik geneem. Die stand van sake by hierdie moderne multimiljoen-rand aanleg laat egter veel te wense oor en staan op die rand van totale ineenstorting indien daar nie vinnig en drasties ingegryp word nie.

Vier jaar gelede is daar dringend begin bou aan dié aanleg as volhoubare oplossing vir die dorp se kroniese rioolprobleme. Die Demokratiese Alliansie (DA) op Louis Trichardt het egter verlede week hul afgryse uitgespreek oor hoe dinge gedoen word by die aanleg.

Alhoewel die aanleg veronderstel is om riool vanaf Tshikota te hanteer, ontvang dit tans net riool van die industriële gebied en die maksimum sekuriteitsgevangenis. Die pyplyn vanaf Tshikota en die westekant van Louis Trichardt is nog nie gekoppel nie. Volgens plaaslike wyksraadslid mnr. Brian du Plooy, moet die pyplyn oorgebou word omdat daar ‘n hoogteverskil van 300mm tussen die pyp en die konneksie is.

In die drie maande wat riool by die aanleg verwerk word, is daar ook motorolie, onverwerkte plantolies, bloed en diervette opgemerk in die rou rioolwater. “Dit is duidelik dat besighede in die dorp nie besef die onherroeplike skade wat hulle, nie net op die nuwe stelsel nie maar ook op die omgewing, teweegbring nie,” het Du Plooy gesê.

Hy is tans besig om ondersoek in te stel na die oorsprong van die vette en olies om te keer dat dit in die stelsel beland. Die vette, veral noudat dit winter is, word hard en verstop die stelsel. Met die koerant se besoek verlede Donderdag aan die aanleg kon daar duidelik gesien word hoe die vette om die meganismes van die skeidingsdamme saamkoek. “Ons kan nie bekostig dat dié aanleg breek en tot stilstand kom nie,” het Du Plooy gesê.

Die nuwe aanleg, wat ‘n kontrakwaarde van R46.3 miljoen gehad het toe daar met bouwerk begin is in 2011, staan oop vir Jan Alleman. Daar was geen sekuriteitswagte in sig verlede Donderdag nie, en die hekke het wawyd oopgestaan.  Kort voordat die bouwerk voltooi is, het die munisipaliteit se raadgewende kontrakteurs aan die Zoutpansberger bevestig dat die elektriese komponente wat by die aanleg geïnstalleer is se waarde geskat word op bykans R22 miljoen. Hulle het ook bevestig dat die totale waarde van die hele kontrak (siviel, meganies en elektries) R68 miljoen is.

Dit is nie seker hoeveel nog spandeer sal word om die nuwe aanleg ten volle operasioneel te kry nie. Die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM), wat verantwoordelik is vir die bestuur van die aanleg, het teen druktyd geen navraag van die koerant beantwoord nie.

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat die dorp se bestaande rioolaanleg afgeskakel is. Daar is terselfdertyd as wat bouwerk aan die nuwe aanleg aangekondig is, bekendgemaak dat daar R11.5 miljoen beskikbaar is vir opgraderings aan die bestaande stelsel. Beide die VDM en die Makhado munisipaliteit het toe ook aangedui dat hulle probleemareas geïdentifiseer het waar disfunksionele pompstasies kroniese rioolstortings veroorsaak.

Dié aanleg het reeds vir etlike jare nie meer oor die kapasiteit beskik om die hoeveelheid riool wat die dorp genereer te hanteer nie. Die aanleg is oorspronklik ontwerp om 7,5 megaliter riool daagliks te hanteer, maar moes met tye tot 12 megaliter per dag hanteer.

Met dié aanleg buite werking, sal die nuwe aanleg nie die mas opkom nie. Die nuwe aanleg het ‘n ontwerpkapasiteit van 5 megaliter per dag. Die kapasiteit kan verdubbel word tot 10 megaliter indien daar by die inlaatwerke twee primêre besinktenks gebou word om die lading op die biologiese reaktor te verminder en die twee sekondêre besinktenks vermeerder word na vier. Hierdie projek met die nuwe besinktenks, addisionele chloorkontak-kanale en opgradering van toerusting, sal ongeveer R15 miljoen kos.

Rou rioolwater vloei nou bloot reg deur die ou stelsel tot in die vleiland agter die aanleg. Aanmekaargeflanste tralies in die stelsel se afvoerkanale dien as ‘n powere poging om die gemors uit die inkomende riool te sif. Bykans al die munisipale boorgate, wat gebruik word om die dorp se drinkwater aan te vul, is direk in die vleiland geleë. 

 
 
 

Viewed: 270

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Motorolie is onlangs deur die DA opgemerk in die rioolwater wat behandel moet word by die dorp se nuwe multimiljoen-rand rioolaanleg, wat sowat 3km buite die dorp geleë is. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT