ADVERTISEMENT:

 

 
 

Gereformeerde Kerk

Verskeie hoogtepunte vir Musina gemeente

Date: 24 July 2015 By: Wikus Lee

Ná die 60-jarige bestaan wat onlangs feestelik gevier is, beleef die Gereformeerde Kerk in Musina vanjaar verskeie hoogtepunte.

Die jaarlikse Bergdiens, wat onlangs op die plaas Njalaskop naby Tshipise aangebied is, is deur bykans 100 Swaeltjies - winterkampeerders by die gewilde warmbron - bygewoon.

Daar is groot opgewondenheid oor die kerkgebou in die buurgemeente, Musina Nancefield, wat voltooiing nader. Die nuwe gebou word op 25 Oktober tydens ‘n gesamentlike erediens van die twee gemeentes amptelik in gebruik te neem. ‘n Graniet hoeksteen, geskenk deur mnr. Fritz Peens van Mariba Graniet in Mokopane, sal dan onthul word.

Die gebou sal gedurende die week as nasorgsentrum gebruik word. Verder word ‘n boekie bekendgestel wat die geskiedenis van die Kranspoort Sendingstasie wes van Louis Trichardt beskryf. Verskeie lidmate van die Nancefield-gemeente is oud-inwoners van Kranspoort. Die boekie is ook in Venda vertaal deur ds. Peter Moshapo van Mokopane.

Die jaarlikse sustersaamtrek vir Venda- en Sepedi-sprekende kerke in hierdie deel van Limpopo is onlangs in die nuwe kerkgebou aangebied. Aan die begin van Oktober vind daar ook ‘n saamtrek vir die kerkjeug van hierdie gemeentes plaas.

Met Bulawayo 340 km ver as ‘n wyk van die Gereformeerde Kerk Messina, gaan die gemeente se bediening in Zimbabwe ook steeds voort. Daar word eersdaags vir die derde keer vanjaar besoek aan lidmate daar gebring, ook aan die gemeente Chinhoyi, wat lidmate in Harare insluit. So strek die bedieningsveld van die gemeente wyd en is daar ook vrug op die bediening.

Om fondse vir die bediening te versterk, bied die gemeente eerskomende Saterdag, 25 Julie, weer sy jaarlikse môremark en losgoedveiling op die kerkterrein aan. Dit is skuins agter die Spur restaurant te Wilsonlaan 1 geleë. Keurig-verwerkte vleis soos rolle, “spare ribs”, gerookte vark, sosaties asook braaisnitte en biltong word aangebied. Ook groente en vrugte, plante, gebak en ‘n verskeidenheid etes.

Besondere opgewondenheid heers oor ‘n Outydse Tafel vol interessante oudhede soos witgatkoffie, sultvleis (brawn), kaiings en konfyt, granate en wat nog alles uit toeka se tyd. Ook keurige geluksê kaartjies vir geliefdes, gediggies en gesegdes vir die muur en die yskas en vele meer. ‘n Geleentheid vir lidmate om hul kreatiwiteit deur bydraes tot ‘n mooi, vrolike môremark uit te leef.

Die trompoppies van Laerskool Messina gaan om 10:00 optree. Daarna begin die losgoedveiling, waartydens ‘n verskeidenheid huishoudelike toerusting, elektriese handgereedskap, kragopwekkers, opblaasmatrasse en vele meer teen drasties-verminderde pryse beskikbaar sal wees.

 
 
 

Viewed: 950

 

 
 

Wikus Lee

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT