ADVERTISEMENT:

 

 
 

Annelize Pauer, ‘n Graad 11-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, het twee van haar gedigte ingestuur vir die McGregor-gedigtefees. Sy is een van 12 finaliste wat genooi is na die prysuitdeling Saterdag in McGregor in die Wes-Kaap.

Digtersbloed vloei deur jong Annelize se are

Date: 27 August 2015 By: Linda van der Westhuizen

Vir ‘n ontluikende digter is ‘n besoek aan die McGregor-gedigtefees ‘n aanloklike gedagte. Vir Annelize Pauer (16) van Louis Trichardt is dit ‘n werklikheid. Sy gaan dié geleentheid by McGregor in die pragtige Robertson-vallei in die Wes-Kaap bywoon, nadat sy as een van 12 finaliste in die kategorie 14 tot 17 jaar na dié unieke gedigtefees uitgenooi is.

Die prysuitdeling vind op 29 Augustus plaas, met ‘n hele naweek vol verrigtinge om by te woon. Annelize sal onder meer geïnspireer word deur digters soos Antjie Krog, Petra Muller en Gert Vlok Nel, wat hul gedigte gaan voorlees, asook deur kundiges se lesings. Die fees fokus hoofsaaklik op poësie en is ‘n geleentheid waar bekende digters saam met opkomende digters, meer as 50 in totaal, hul gedigte kom aanbied. Dit is die derde jaar dat McGregor se mense regstaan vir dié jaarlikse gedigtefees.

Annelize, ‘n Graad 11-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, het twee gedigte vir die fees ingestuur. “Altwee my gedigte gaan oor lewenskrisisse en oor die uitdagings van die lewe.Merlot was haar lot gaan oor die uitdaging van eensaamheid en drankverslawing. Die vrou in die gedig verloor haar eie identiteit in haar worstelstryd om vir haarself ‘n uitkoms te skep te midde van ‘n ondraaglike bestaan. ‘n Tuiste in die hemel gaan oor die verbeeldingsvlug van ‘n klein dogtertjie wat met die dood van ‘n ouer gekonfronteer word,” sê Annelize.

‘n Uittreksel uit Merlot was haar lot lui so: “Sy bekyk met haar dik oë die glas agterna asof dit ‘n verlore muntstuk is wat op die sypaadjie lê. Sy tel dit op, vryf dit skoon, sommer met haar rok se flenterpunt…”

Annelize gaan op 6 Oktober ‘n ATKV Blits-Gedigtewerkswinkel bywoon by Aardklop. Daar gaan sy onderrig word deur digter Danie Marais, asook prof. Bernard Odendaal van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Dit is ook hier waar Annelize ná skool wil inskryf vir 'n BA-graad in taal- en literatuurstudie.

“Die skryfkuns was van kleins af my passie. My droom is om eendag die redaktrise van 'n vrouetydskrif te wees. My digter-rolmodel is Ingrid Jonker, want haar lewensverhaal fassineer my en haar gedigte is vir my van die beste,” vertel Annelize, wat ook in November aan Die POORT-Skryfkompetisie, ‘n projek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, gaan deelneem. Hul doel is om skeppende skryftalent in Afrikaans te ontdek, aan te moedig en aan ‘n groter gehoor bloot te stel.

 

 
 
 

Viewed: 309

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT