ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jacques Mouton, besig om 'n deuntjie uit te tokkel op sy gunsteling kitaar. Foto: Comet D Strings.

Beurs kan Jacques se drome bewaarheid

Date: 15 September 2015 By: Isabel Venter

Die droom om ‘n beurs van die Nedbank Kuns en Kultuur Trust, of ACT soos dit alombekend staan, te wen kan ‘n werklikheid word vir een van Louis Trichardt se belowende jong kunstenaars. Jacques Mouton het plaaslik amper geen bekendstelling nodig nie. Hierdie 22-jarige sanger word gereeld gevra om op te tree by plaaslike funksies. Soos dit dan nou enige jong kunstenaar betaam, mik hy na die sterre en het hy die kans vir ‘n Nedbankbeurs met albei hande aangegryp.

Jacques het, soos dit sy gewoonte is, in die tou gestaan by Louis Trichardt se Nedbank toe ‘n advertensie vir die beurs sy oog gevang het. “Ek het eers gehuiwer, en toe later besluit om dit ‘n kans te gee,” sê Jacques.

Nedbank se beurs, wat al vir die sewende jaar aangebied word, bied die kans vir opkomende kunstenaars tussen die ouderdomme van 18 en 25 om die kunste voorgraads te gaan studeer. Finaliste word uit al nege provinsies van die land gekies om aan ‘n nasionale kompetisie deel te neem.

Daar is ses finaliste, waarvan Jacques een is, gekies om vanaf 6 tot 12 Oktober in dié finale nasionale kompetisie in Johannesburg te gaan deelneem. Die vooraf oudisies sou enige introvert die bewerasies gegee het. Jacques moes buiten vir twee monoloë wat hy voorgedra het (een voorbereid en een wat hy self geskryf het), ook ‘n voorgeskrewe liedjie uitvoer én ‘n dans wat hy self choreografeer het.

Die beoordelaars het sy passie raakgesien en kon nie uitgepraat raak oor sy vermoëns as liedjieskrywer nie. Hulle was ook beïndruk met die feit dat Jacques meer as net die kitaar kan speel. Hy het ook die tromme en klavier bemeester, en kan ook dans. Sommer omdat hy kan, is Jacques nou ook besig om die viool by te leer.  

“Die beoordelaars het ook gesê ek moet nooit moed opgee nie, want die industrie het meer mans soos ek nodig,” sê Jacques.

Indien Jacques as een van die top drie finaliste aangewys word, kan hy ‘n beurs van R150 000, R105 000 of R60 000 ontvang om sy studies by enige geakkrediteerde Suid Afrikaanse tersiêre instansie te voltooi.

Kom Oktober sal baie van sy Louis Trichardt-bewonderaars vir hom duim vashou, want die kompetisie is straf. Daar is nog net een ander kandidaat wat van Limpopo afkomstig is. Dit tel darem in sy guns dat hy al 'n liedjieskryfkompetisie gewen het en 'n paar jaar gelede deelgeneem het aan die Idols-sangkompetisie.

Sy plan, as hy die beurs kry, is om moontlik drama te gaan swot. “...dalk by Tukkies ... ek sal nog sien,” sê Jacques.

WIE IS JACQUES MOUTON?

Jacques is 22-jarige blondekop sanger, met ‘n styl wat hy beskryf as ‘n kombinasie tussen die konvensionele bespeling, tapping en perkussie op die kitaar.

Oorspronklik is Jacques afkomstig van LMB Makhado, waar hy op laerskool was en toe sy hoërskoolloopbaan klaargemaak het as ‘n Triegie by die Hoërskool Louis Trichardt. Hy het begin sing toe hy 13 jaar oud was.

Verder het Jacques ook gestudeer by ‘n Christelike musiekkunstenaar en drama geswot by die Bloemfontein dramasentrum, Creare. Sy gunsteling kunstenaar is Niel Patrick Harris, omdat hy so goed is met sang, dans en drama. “Dit is die drie velde waarin ek ook graag wil presteer in die vermaaklikheidsbedryf,” sê Jacques.

Op die oomblik luister Jacques na Bach en Calum Graham, maar ander kunstenaars wat hom inspireer sluit in John Gomm, Michael Bublé, Dave Grohl, Frank Sinatra, Chad Kroeger, John Mayer, Andy Mckee en Mike Dawes. Sy helde in die vermaaklikheidsbedryf is Mike Dawes, Justin Timberlake, Thomas Lang en Bobby van Jaarsveld.

Behalwe vir die verhoog is Jacques ook ‘n adrenalien verslaafde. Hy klim gereeld berg of ry bergfiets op die minder algemene paadjies, speel verfbal, hokkie en sokker. Jacques glo voorbereiding en gebed is twee uitstekende teenvoeters vir gehoorvrees.

 

 
 
 

Viewed: 2031

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT