ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Dorp in misdaadgreep

Date: 21 September 2015 By: Isabel Venter

Misdaad in die dorp was die afgelope naweek buite beheer gewees, met twee moorde wat binne ure van mekaar aangemeld is. Die dorp en omgewing het sedert Junie vanjaar ‘n styging in misdaad ervaar. Dit is veral die stygende gewelddadigheid wat met die voorvalle gepaard gaan wat inwoners diep bekommerd maak.

Gedurende die wintermaande was dit veral ondernemings en inwoners wat deurgeloop het onder die booswigte. Daar het amper nie ‘n week verby gegaan waar daar nie ten minste by ‘n besigheid of huis ingebreek, of gepoog is om in te breek nie.

Die afgelope naweek, het die polisie bevestig, is twee inwoners vermoor en nog ‘n vermeende inbreker doodgeskiet. Soveel doodslag in so ‘n kort tydjie is ongehoord vir Louis Trichardt.

In die eerste voorval is ‘n vermeende inbreker doodgeskiet op die kleinhoewe van mnr. Dennis en mev. Jana Smit net buite die dorp. 

Die volgende dag het mnr. George Schempers van die Vondeling-plotte (naby die vullisterrein) ‘n gru-ontdekking gemaak, toe hy sy plaasvoorman gaan opklop het. Hy het die jongman se lyk in ‘n plaaspaadjie gekry, nie ver van sy huis nie. 

Etlike ure later is die polisie uitgeroep na nog ‘n moordtoneel in die industriële gebied van Louis Trichardt.

Die 48-jarige Maggie Castleman is Saterdagaand dood aangetref langs haar voertuig in Presidentstraat. Sy is vermoedelik doodgeskiet vir haar tabletrekenaar en handsak se inhoud. 

Saterdagaand het die Swanepoel-gesin, wat op een van die Ledig-plotte woon, ook deurgeloop onder booswigte. Hulle was gelukkig nie by die huis gewees nie. Ongelukkig was hulle klein hondjie by die huis, en dié is nie ontsien deur die skelms nie. Die hondjie is doodgekap en hulle huis geplunder. Die Swanepoel-gesin is gekontak vir meer besonderhede, maar het aangedui dat hulle verkies om eerder nie te praat oor hul traumatiese ervaring nie.

Die vlaag misdaad is in die week voorgesit toe die personeel van Adam’s Apple aangehou is deur ‘n groep gewapende rowers. Drie mans het toegeslaan op die hotel en geld is uit die kluis gebuit. 

Ná afloop van die naweek se misdaadvoorvalle het die plaaslike polisie gesê dat hulle ontsteld is oor die gewelddadige aard van die voorvalle. Polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het bevestig dat die polisie ‘n span senior speurders aangestel het om al die sake te ondersoek.

Teen druktyd is daar nog geen arrestasies gemaak nie.

 
 
 

Viewed: 1625

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT