ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 27-jarige Rose Kemp was Dinsdag terug by die huis om verder te herstel, presies 'n week nadat sy deur een van haar telery se njalabulle deurboor is. Foto: Facebook.

Vrou wat deur bok deurboor word reeds tuis

Date: 05 October 2015 By: Andries van Zyl

Presies 'n week nadat die 27-jarige me. Rose Kemp van Vivo deur een van haar eie njalabulle deurboor is, is sy weer terug op die plaas om daar verder te herstel.

Rose teel ondermeer met njalas op die familieplaas Spitskop. Sy was verlede Dinsdag besig om een van haar njalabulle in ‘n boma in te jaag om na ‘n ander kamp geskuif te word. Skielik het die bul haar bestorm waar sy agter die boma se deur gestaan het. Die bul het die deur oopgestamp, waarna Rose teruggesteier het. Sy het probeer om die bul weg te stamp, maar in die proses het die bul haar met sy horing deurboor.

“Rose is gister [Dinsdag] uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by haar huis op die plaas aan,” het haar aanstaande, mnr. Walter Gilfillan, Woensdag gesê. Hy sê dokters is tevrede met haar herstel, alhoewel sy steeds baie pyn het. “Sy moet Dinsdag teruggaan vir ‘n opvolgbesoek. Haar infeksietelling [vanweë die bok se vuil horing wat haar deurboor het] is vanaf 300 op dag een af na 40 gister,” het Walter gesê.

Die voorval verlede Dinsdag het vir die familie ‘n paar benoude oomblikke besorg en so byna Rose se lewe gekos. Sy is inderhaas van die plaas deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal, waar haar toestand gestabiliseer is, voordat sy deur Walter en haar ma, Alida, deurgejaag is na die MediClinic in Tzaneen. Hier moes sy ‘n twee-uur lange operasie ondergaan om die skade aan haar dikderm te herstel. Almal was dit eens dat sy baie gelukkig was om nog te leef. Die horing het rakelings haar nierpyp en een nier gemis.

“Alhoewel sy al bietjie loop, moet sy maar heeltyd baie stil lê en stampe en stote vermy,” het Walter gesê.

Oor die lot van die njalabul wat haar deurboor het, het Walter gesê hy wou aanvanklik die bul van kant maak. “Maar Rose wil niks daarvan weet nie. Sy het bloot vir my gesê 'Dit is ‘n wilde dier – dit is nie sy skuld nie',” sê Walter.

Te midde van haar noue ontkoming, sê Walter, het Rose geen planne om haar telery met die diere te staak nie. “Sy het gesê sy gaan ander reëlings en metodes in plek sit sodat sy nie haar eie lewe weer in gevaar stel nie,” sê Walter. Dit sluit onder meer in om eers die diere te verdoof voordat hulle verskuif word. “Maar vir die volgende maand sal sy dit maar rustig moet vat,” sê Walter.

 
 
 

Viewed: 346

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT