ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nictus, in Kroghstraat, is maar net een van vele besighede waarby onlangs ingebreek is. 

Misdaad ruk handuit

Date: 23 November 2015 By: Isabel Venter

Soos wat Desember en die Kersseisoen nader kom, word misdaadsyfers in Louis Trichardt tot nuwe hoogtes gedryf deur gewetenlose kriminele.

Inwoners was geskok om te hoor dat daar Maandag sommer vyf gewapende rooftogte in en om Louis Trichardt aangemeld is. Vier van die rooftogte het by besighede plaasgevind, waarvan drie in ‘n kwessie van ‘n halfuur uitgevoer is.

Die eerste besigheid wat Maandagmiddag deurgeloop het, was die CheckU-winkel in Songozwistraat. Hulle is beroof deur “polisiemanne”.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het twee rowers die sekuriteitswag genader by CheckU se pakhuis. Hulle was aangetrek in polisie glimbaadjies, en het die wag onder die indruk gebring dat hulle daar was om ‘n arrestasie uit te voer. “Die rowers was gewapen gewees en het die wag aangehou, sy selfoon afgevat en ‘n onbekende bedrag kontant gesteel,” het Radzilane Dinsdag gesê. Die rowers het gevlug in ‘n wit Toyota Hilux bakkie met vervalste nommerplate.  

Later die aand is drie besighede binne ‘n halfuur beroof.

Die eerste slagoffer was Snappy Snacks in Eltivillas en kort hierna is die FireFly Kafee en Drankwinkel in Meyerstraat beroof. In altwee gevalle was die modus operandi  bykans dieselfde. Volgens Radzilane het twee mans Snappy Snacks beroof. Een het ‘n pistool by hom gehad en het ‘n skoot afgetrek wat in die muur vasgeslaan het. Die rowers het die kasregister gegryp en op die vlug geslaan.

Die FireFly Kafee is ook deur twee mans, wat gewapen was met ‘n pistool, beroof.  Twee skote is afgetrek, wat gelukkig niemand getref het nie, en die rowers het met kontant op die vlug geslaan.

Hierna is een van die drinkplekke naby die treinstasie in Groblerstraat ook beroof deur twee gewapende mans. Radzilane het egter gesê dié geval is nie by die polisie aangemeld nie.

In die laaste voorval op Maandag is twee sekuriteitswagte by die Schoemansdal Navorsingsentrum aangehou en beroof. Twee rowers het die wagte genader en met ‘n pistool aangehou. Een van die wagte kon daarin slaag om te ontsnap, maar die rowers het nog steeds die oorblywende wag se vuurwapen en koeëlvastebaadjie by hom gesteel.

Radzilane het bevestig dat die polisie die moontlikheid ondersoek dat Maandag se gevalle verwant is aan mekaar. Maandag se vlaag rooftogte is die naweek voorafgegaan deur talle ander geweldsmisdade.

Verlede Vrydag (13de) is die personeel van Nictus begroet met ‘n voordeur se glas wat uitgeslaan is met ‘n massiewe klip. Die diewe het weggekom met ‘n verskeidenheid elektriese ware.

Saterdag is daar ‘n wit Mercedes Benz gekaap deur twee onbekende mans, wat die bestuurder gedreig het met ‘n pistool. Radzilane het Dinsdag gesê die polisie het Dinsdag nog nie die voertuig teruggekry het nie. Daardie selfde aand is die polisie se hulp weer ingeroep nadat twee rowers toegeslaan het by ‘n privaatwoning in Rissikstraat en die eienaar beroof het van ‘n onbekende bedrag geld en sy selfoon.

Teen Maandag het inwoners se vrees hoog geloop, en het die Soutpansberg Dorpswag in ‘n drastiese stap ‘n massa byeenkoms gereël. Dit het behels dat hulle besighede opgepas het wat nog in die aande oop was. Lede het dié aksie Dinsdagaand herhaal en seker gemaak besigheidseienaars kom veilig by hulle huise.

Radzilane het Dinsdag gesê dat die nuutste misdaadaanslag op inwoners die polisie diep bekommerd het en dat die Makhado Polisie alles in hul vermoë doen om die verantwoordelike mense voor stok te kry. 

 

 
 
 

Viewed: 427

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Nictus, in Kroghstraat, is maar net een van vele besighede waarby onlangs ingebreek is. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT