ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 34-jarige Cameryn Jackson, afgeneem saam met haar dogtertjie Storm. Cameryn het op 12 Januarie in ‘n koma ingegaan en nog nie weer haar bewussyn herwin nie. Foto: Facebook.

Ma veg om lewe

Date: 25 January 2016 By: Andries van Zyl

‘n Ma van Louis Trichardt veg tans om haar lewe in die Zoutpansberg Privaathospitaal, nadat sy op 12 Januarie in ‘n koma ingegaan het.

Teen druktyd is die 34-jarige ma van vyf kinders, Cameryn Jackson, se toestand steeds as uiters kritiek bestempel.

Vir haar verloofde en tans die enigste broodwinner, Heinrich Volschenk, is dit ‘n baie moeilike tyd. Daagliks hardloop hy tussen sy voltydse werk, die skool en die hospitaal. “Mens moet maar aangaan met mens se daaglikse take,” sê Heinrich. Nie alleen is hy uiters bekommerd oor sy verloofde nie, maar ook oor die kinders. “Die kinders is maar baie emosioneel, veral die twee kleintjies. Hulle kan nie verstaan hoekom mamma so lank kan slaap nie,” sê Heinrich.

Cameryn het ‘n paar jaar gelede saam met haar drie kinders, seuns Donovan en CJ en dogter Storm, na Louis Trichardt verhuis ná haar man se dood. Hier het sy vir Heinrich ontmoet en die paartjie het nog twee seuns, Riaan en Lance, ryker geword. Haar drie kinders is leerlinge by Laerskool Louis Trichardt, terwyl die twee jongstes nog in die kleuterskool is.

Cameryn het in September/Oktober verlede jaar serebrale malaria opgedoen. Hoe sy hierdie parasitiese siekte opgedoen het, was vir haar en Heinrich duister. Hulle was in geen stadium uit Louis Trichardt gewees nie en die vermoede bestaan dat sy deur ‘n “taxi-muskiet” besmet is wat in ‘n voertuig vanuit ‘n buurstaat haar pad tot in Louis Trichardt gevind het.

Cameryn het vanweë die serebrale malaria by die dood omgedraai. In totaal het sy nege dae in die hoësorgeenheid in die Letaba Hospitaal deurgebring. In die proses het sy lewerskade opgedoen. Sy het gesukkel om te eet en het baie gewig verloor. “Toe ons teruggekom het vanaf Tzaneen, was sy baie beter gewees. Die laaste paar weke het sy begin kla van hoofpyn. Die dokters het voorskrifte gegee, maar haar gesondheid het nie verbeter nie,” sê Heinrich. Cameryn het Dinsdag, 12 Januarie, by haar huis flou geword en is sedertdien in ‘n koma. Teen druktyd was dit steeds nie bekend wat die oorsaak van die koma was nie, en was medici steeds besig met toetse.

Wat tans verdere stremming op Heinrich plaas, is die feit dat hulle nie oor ‘n mediese fonds beskik nie. Intussen het die rekeninge begin ophoop en beloop Cameryn se behandeling reeds ‘n aansienlike bedrag. Hierdie bedrag sal aanhou styg, aangesien niemand weet hoe lank dit Cameryn gaan neem om te herstel nie. “Dit is ‘n onbepaalde tyd in hierdie stadium,” sê Heinrich.

Te midde van sy bekommernis oor sy verloofde se toestand, die kinders se welstand en die groeiende mediese koste, was daar egter talle ligstraaltjies vir Heinrich. Soos wat die nuus van Heinrich-hulle se benarde situasie versprei het, het mense se harte en hande oopgegaan. “Die kinders is uitgesorteer. Iemand by Laerskool Louis Trichardt het tot gereël dat hulle boeke oorgetrek word,” sê Heinrich. Hy is ook baie dankbaarheid teenoor Riana Claassens, eienaar van Saryna Kiddi Care. Sy kyk tans gratis voldag na klein Riaan en Lance. Riana kyk egter nie net gratis na die twee kleintjies nie. Sy is ook ‘n gekwalifiseerde suster en het Woensdag begin met gratis fisioterapie op Cameryn. “Die bystand en ondersteuning is oorweldigend,” sê Heinrich.

Daar was ook talle weldoeners wat finansieel bygedra het om te help met die mediese koste. “Baie dankie aan hierdie wonderlike gemeenskap wat ons so bystaan – van die mense wat reeds finansieel bygedra het, tot die gemeentes wat steeds vir ons bid. Ek kan nie vir julle sê hoe waardeer ons dit nie,” sê Heinrich.

Een van die organisasies wat ook ingespring het om te help, was die vroue van Ladies Circle 4. Tans hanteer die voorsitter, Riana Otto, die reëlings ten opsigte van mense wat graag finansieel wil help. Soos genoem, raak Cameryn se rekening elke dag net meer. “Mense moet my asseblief skakel by 084 400 9941 indien hulle finansieel kan help. Die gesin het die hulp broodnodig. Buiten vir geld, kan mense ook op ander maniere help om die gesin se nood te verlig,” het Riana gesê.

Intussen het die plaaslike musiekgroep Comet D Strings aangekondig dat hulle eerskomende Vrydag, 22 Januarie, vanaf 19:00 ‘n konsert ten bate van Cameryn gaan hou by die rugbylapa in Louis Trichardt. Toegang behels ‘n kontant donasie aan Cameryn-hulle, alhoewel dit nie verpligtend is nie.

Daar het die afgelope week op Facebook gerugte die rondte gedoen dat Cameryn uit die privaathospitaal ontslaan sou word indien haar agterstallige rekening nie vereffen word nie. Heinrich sê dat dit glad nie waar is nie en die verwarring toegeskryf aan wankommunikasie. “Ek besef die mense het die beste van bedoelings en probeer net help. Ek moet egter vir die privaathospitaal om verskoning vra hiervoor,” sê Heinrich.

 
 
 

Viewed: 7420

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT