ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 34-jarige Cameryn Jackson, afgeneem saam met haar dogtertjie Storm. Cameryn het op 12 Januarie in ‘n koma ingegaan en nog nie weer haar bewussyn herwin nie. Foto: Facebook.

Cameryn wakker, maar nie uit gevaar *Opgedateer*

Date: 06 February 2016 By: Andries van Zyl

Die nuus dat die 34-jarige Cameryn Jackson van Louis Trichardt ná bykans drie weke in ‘n koma Maandagmiddag haar oë opgemaak het en selfs bietjie kon eet, is uit alle oorde met groot blydskap en vreugde begroet.

Hierdie ma van vyf het op 12 Januarie vanjaar by haar huis flou geword en in ‘n koma gegaan. In September/Oktober verlede jaar het sy serebrale malaria opgedoen. Alhoewel sy herstel het, het haar lewer ernstige skade opgedoen. Kort voordat sy in ‘n koma ingegaan het, het sy gekla van erge hoofpyne.

Cameryn se verhaal het ongekende reaksie uit die gemeenskap ontlok met bekendes en onbekendes wat fisies en finansieel bygedra het om te help om haar mediese koste te help dek. Sy en haar verloofde, Heinrich Volschenk, beskik nie oor ‘n mediese fonds nie. Vir die hulp uit alle oorde is die paartjie baie dankbaar.

Alhoewel nuus van Cameryn se beterskap wyd en syd verwelkom is, het Heinrich Woensdag by navraag gesê dat haar toestand egter steeds kritiek is. Die paar happies kos wat sy Maandag kon eet, was die enigste kos wat sy nog self kon inneem teen druktyd. “Sy is baie swak en kommunikasie is ‘n groot probleem,” het Heinrich gesê.

Intussen moes Heinrich Dinsdag reël dat Cameryn oorgeplaas word na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal. Dit nadat hul beskikbare fondse, veral in die vorm van finansiële bydraes, opgedroog het. Cameryn sal ook ‘n breinskandering moet ondergaan – iets wat derduisende rande kos en in Polokwane gedoen moet word. Uit nood is die besluit geneem om haar dan eerder na ‘n staatshospitaal oor te plaas, sodat sy die skandering as staatspasiënt kan kry. As privaatpasiënt sou slegs die ambulanskoste vanaf Louis Trichardt na Polokwane etlike duisende rande beloop.

“Die mense moet asseblief aanhou bid!” het Heinrich gevra. Hy het ook gesê dat enige verdere finansiële bystand baie, baie waardeer sal word. “Daar sal definitief kostes bykom wanneer sy herstel. Alhoewel sy fisioterapie gratis kry, sal haar rehabilitasie proses geld kos,” het Heinrich gesê.

Mense wat graag die gesin wil bystaan kan die plaaslike voorsitter van Ladies Circle 4, Riana Otto, skakel by tel. 084 400 9941.

“Baie dankie aan almal wat sover gehelp en ons ondersteun het. Ek wil spesiaal dankie sê aan die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal wat Cameryn so goed versorg het,” sê Heinrich.

 
 
 

Viewed: 720

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT