ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle dr. Piet Loock (60). Foto verskaf.

Soutpansberg verloor ‘n ware jintelman

Date: 08 February 2016 By: Andries van Zyl

Ná weke van saam bid en hoop op beterskap, het die nuus van die afsterwe van die Soutpansberg se beminde dr. Piet Loock (60) vir baie as groot skok gekom.

Dr. Loock, in lewe een van die streek se ware jintelmans, is op 27 Januarie oorlede. Hy het oor ‘n tydperk van meer as drie dekades op sy eie stil manier diep spore in die harte van Soutpansbergers getrap.  

“My lief … jy is te vroeg weg - so sonder koebaai. Ai, ons twee wou nog soveel paaie reis, nog soveel memories saam gemaak het. Maar ek glo jy vlieg nou oor die rooi duine van die Kalahari, dans in die Namib en lag op die Makgadigadi panne. Soveel dankies vir jou liefde vir my en die seuns. Jy het ons wêreld baie mooi ingekleur,” was die hartseer afskeidswoorde van sy vrou en sielsgenoot, Marissa.

Dr. Loock se eerste kennismaking met die streek was toe hy tydens sy diensplig veeartsjare gewerk het in die destydse Gazankulu (Giyani) . Dit is ook waar hy vir Marissa in 1980 ontmoet het. In daardie stadium was sy werksaam as radiografis by Nkensani Hospitaal. Van hier is hy verplaas as staatsveearts na Vryheid, Natal, waarna hy in 1982 aangestel word as staatsveearts in Louis Trichardt. Hy was hoof van veeartsenydienste in die voormalige Venda en is later aangestel as direkteur van veeartsenydienste in Louis Trichardt. Plaaslik sal meer mense hom egter onthou vir sy na-ure praktyk, Soutpansberg Dierekliniek, wat hy saam met dr. Tersius Bergh as vennoot in 2000 begin het. Meer onlangs het hy met dr. Nada de Villiers van Nada’s Ark kragte saamgesnoer.

Die gemeenskap was saam met die Loock-gesin hartseer en verslae toe hy in September 2014 gediagnoseer is met stadium vier kanker wat hoofsaaklik die skelet aantas. Met dié nuus het hy besluit om op alles af te skaal, alhoewel hy steeds tot kort voor sy dood nog vir die staat gewerk het en hulle van raad voorsien het. “Hy was onbaatsugtig en gelief onder sy familie, vriende en kollegas,” sê Marissa.

Dr. Loock het vir bykans een-en-‘n-halwe jaar met die kanker geworstel. Hy het talle behandelings ontvang, wat kort-kort die hoop laat opvlam het. Die laaste paar weke het sy gesondheid egter dramaties agteruit gegaan. Dit was ‘n moeilike tyd van Marissa en die egpaar se drie seuns Igmar (30), Marnus (28) en Nato (25) en skoondogter Rachelle. “Hy het nooit regtig gekla nie. Hy was altyd die een wat jou wou help en vertroos,” sê Marissa.

“Ek mis die wyse woorde en raad, maak nie saak hoe klein die probleem nie. Ek mis die laatnag wynglas klink. Ek mis in stilte sit en die woorde van die musiek te luister, sonder om self ‘n woord te fluister. Ek mis die stories en die volgende avontuur beplannings. Ek mis die saam kos maak en resepte deel. Ek mis my financial advisor, my voice of reason, my kalmte in die storm, my vriend, my alles, my pa. Lief Paps!” skryf Igmar in ‘n pragtige huldeblyk aan sy pa in die begrafnisbrief.

Eweneens onthou Marnus al die goeie tye en lewenslesse wat sy pa hom geleer het. “Pa, ek het nie woorde wat kan beskryf hoe goed pa vir ons was en al die mense waarmee Pa in aanraking gekom het nie. Al wat ek kan sê is dankie, dankie vir als wat pa vir ons gedoen het. Dankie vir die inspirasie wat Pa vir ons was. Dankie vir al die moed wat Pa vir ons kon inpraat. Dankie vir die tye wat ek met Pa gepraat het oor die dinge wat ek wil doen en net Pa wou hoor sê ‘Nou dan doen dit, seun’. Dankie vir die lekker vakansies wat ons kon saamhou, en dankie vir die laaste spesiale tye wat elke een van ons op ons eie saam met Pa kon spandeer. Ek gaan Pa baie mis. Lief vir Pa,” skryf Marnus in sy afskeidsgroet.

Ook Nato bring hulde aan sy pa. “Baie keer sê mense dat daar nie woorde is om te beskryf hoe ons voel ná die dood van ‘n geliefde nie, maar in hierdie geval is dit heel die teenoorgestelde. Daar is te veel woorde om te beskryf. Ek gaan vir Paps verskriklik verlang, elke dag van my lewe. Pa het gemaak dat ek die man is wat ek vandag is, en ek sal vir die res van my lewe streef om die man te wees wat Paps was. Pa was altyd daar wanneer ons hulp nodig gehad het en sou uit Paps se pad gegaan het om ons te help. Dankie vir al die goed wat Paps my geleer het en mee reggehelp het waar nodig. Pa was absoluut ‘n voorbeeld vir ons almal. Daar is ‘n sêding: ‘A great mind produces great men, but only the heart is able to guide them on the best ways.’ Paps het absoluut Pa se kop gebruik in situasies, maar geweet wanneer om Paps se hart te volg. Ek is lief vir Pa,” was Nato se afskeidsgroet.

Te midde van die hartseer onthou die gesin egter die goeie tye saam met ‘n glimlag. Dr. Loock het nooit ophou leer nie. Hy was ‘n man van min woorde, welbelese en ‘n kundige in talle velde van die veeartsenykunde. Tog het hy nooit geskroom om sy kennis met mense te deel nie en kon hy met enige iemand praat oor enige iets.  “Hy was my Dokter Google. Jy kon hom enige iets vra,” sê Marissa met ‘n glimlag. Soos wat hy altyd vir sy seuns gesê het: “Gaan doen dit!” so ook was dr. Loock sy uitkyk op die lewe. Moenie dinge te oorgekompliseerd maak nie. Dit is juis oor hierdie manier van dinge doen wat die familie saam lag oor hoe hy altyd inkopies gaan doen het. “Hy het altyd gesê as hy gaan shop is dit groot, vinnig en duur,” lag die familie.

Dr. Loock was baie lief vir sy “hartseer” musiek. “Maar hy het altyd gesê: Moenie dink dit is vir jou geskryf nie – luister net na die woorde,” sê Marissa. So ook was hy baie lief vir fotografie en veral die woestyn.

‘n Roudiens is Dinsdag vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente vir dr. Loock gehou. Die diens is waargeneem deur past. Leonie Meyfarth. Hy word oorleef deur sy vrou, seuns en skoondogter. “Ons wil graag die hele gemeenskap bedank vir hulle ongelooflike bystand tydens Piet se siekte en afsterwe. Baie, baie dankie vir al julle gebede,” sê die familie.

 
 
 

Viewed: 2122

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT