ADVERTISEMENT:

 

 
 

generic image

Gesin gemartel

Date: 14 March 2016 By: Isabel Venter

Lanklaas was daar so ‘n wreedaardige en barbaarse aanval op ‘n gesin van Louis Trichardt soos verlede naweek.

Die gesin, wat bestaan uit ‘n ouma van 77 jaar, haar twee kleinseuns (30 en 23), en die oudste kleinseun se vrou (24), is die Sondagoggend omstreeks 03:00 by hulle huis in Presidentstraat aangehou deur ‘n bende rowers en genadeloos gemartel. Die familie word nie geïdentifiseer nie, omdat die jong vrou herhaaldelik deur die rowers verkrag is tydens die aanval.

Die Zoutpansberger het Maandag die ouma by haar huis gekry, net voor haar kinders haar sou kom haal het vir haar opvolg doktersafspraak. Sy het deurentyd  haar linkerwang vasgehou, terwyl sy vertel het van hul nagmerrie. ‘n Mens kon duidelik sien hoe sy verniel is deur die aanvallers.

Nadat die tannie teruggekeer het van die dokters af, kon die onderhoud hervat word in die teenwoordigheid van haar twee kleinkinders en die jong vrou. Gedurende die gesprek ontvou die gebeure geleidelik en die wreedheid van die ervaring kom duidelik na vore.

Die ouma neem die leiding, terwyl sy bietjie lê op die bank – haar lyf, sê sy, is oraloor seer, wat dit moeilik maak vir haar om te beweeg.

Die huis was stil, vertel die ouma, want almal was in die bed en het geslaap. Die emosies oorval haar egter, as sy probeer verder vertel. “Hierdie drie kinders ... ek sorg maar vir hulle ... as ek my oë toemaak, dan sien ek hoe dit voor my gebeur ... hoe hy met ‘n strykyster gebrand word ... hóór ek hoe word hulle met die sambok geslaan,” sê die ouma.

“Toe ek wakker word, toe staan daar ses mans om ons bed. Een het ‘n vuurwapen teen my man se kop gedruk,” neem die jong vrou die vertelling oor. Van die rowers het sambokke by hulle gehad wat hulle gevat het in die kombuis.

Die rowers het die egpaar beveel om op te staan, en die ander boetie te gaan wakker maak. Hulle is almal saam geboender in een van die slaapkamers. “Ek weet nie hoe hulle my gekry tot daar by die kamer nie ... ek weet nie,” sê die ouma.

Wat toe in die kamer gebeur het, kan nie anders as barbaars beskryf word nie. Die gesin is maak sit op die vloer, waar hulle vir amper twee ure lank aanmekaar genadeloos gemartel is deur die rowers.

Eers is die seuns met bakstene geslaan, toe met die sambokke. Daarna het die rowers water in die kombuis gaan skep en al vier herhaaldelik natgegooi. Hulle het selfs water in die ketel gekook en dit oor die gesin uitgegooi. Deurentyd het die rowers geskreeu: “We want money, we want money! Give us money!”

In ‘n stadium het van die rowers die huis begin omkeer en plunder opsoek na kontant, juwele, selfone en die ouma se motorsleutels. Behalwe vir die DVD-speler en almal se selfone, was daar nie nog iets van waarde wat die rowers kon kry nie.

“Ons is arm, ons is nie ryk nie en kom met min klaar,” het die ouma gesê.

Dit het egter nie die rowers gekeer om die gesin se kruideniersware en vleis vir die maand te steel nie. “Hulle het al my waspoeier in die wasbak uitgegooi, my hekelwol gesteel en selfs my bloeddrukpille gevat,” het die ouma gesê.

Onderwyl die gesin gemartel is, het een rower die jong vroutjie uit die kamer gevat en verkrag. Dit het nog drie keer gebeur; elke keer deur ‘n ander rower. Tussendeur haar nagmerrie-ervaring het sy gehoor hoe haar man paniekerig skreeu, en toe begin skreeu-huil. Sy het eers later uitgevind dat hy toe met ‘n strykyster op sy bobeen gebrand is.

Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het dit die rowers skielik opgehou om hulle aan te rand. Die rowers het toe almal na die ouma se kamer gevat, en vir haar gevra waar die sleutel is sodat hulle die deur kan sluit. Sy het vir hulle gejok en gesê sy het nie ‘n sleutel nie. Die rowers het hulle toe beveel om nie uit die kamer te kom nie, of hulle sal doodgeskiet word. In ‘n stadium is daar op die familie geskiet, maar niemand is getref nie.

“Ek gee nie om om dood te gaan nie, as hulle net hierdie kinders gespaar het. Maar ek sê vir jou die Here was by ons gewees ... hy het sy engele gestuur om na ons te kyk. Al wat ek gedoen het, is ek het my oë toegemaak en Hom gevra om Sy engele van beskerming oor ons te stuur dat daar niks met ons gebeur nie. Toe sê ek: ‘Vader ek pleit by U,’ en toe Amen,” het die ouma gesê, dankbaar dat hulle lewe.

Toe dit weer stil word in die huis, kon die familie daarin slaag om hulp te ontbied. Tans woon hulle by familie en vriende uit vrees om terug te keer na die martel-huis.

Die voorval het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane het gesê die polisie beskou die voorval in ‘n baie ernstige en is besig met ‘n intensiewe ondersoek.

 
 
 

Viewed: 40203

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT