ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ramp-op-ramp ... Die agtjarige Chaney staan voor die uitgebrande motorhuis en wrak van haar ouma, die 68-jarige Petro Weyers, se motor.

Ramp op ramp

Date: 25 April 2016 By: Andries van Zyl

“My senuwees is op breekpunt … ek het al twee keer gedink ek kan nie meer nie...” Emosionele woorde van die 68-jarige tannie Petro Weyers van Louis Trichardt, nadat ‘n vuur die afgelope week haar motorhuis en motor by die Kismet-kompleks verswelg het. Die ongeluk het haar omstreeks 17:00 op Donderdag, 14 April, getref.

“Wat nog!?” het tannie Petro uitgeroep. Haar frustrasie was tasbaar, want die afgelope paar jaar is sy deur ramp op ramp getref.

“Ons [sy, haar vriend oom Boet Kluin, haar kleindogter Chaney (8) en haar dogter] het hier gesit en aandete eet. Toe vra ek vir Chaney om vir my ‘n koppie tee te maak, want ek wil kamer toe gaan. Op pad kamer toe, by die agterdeur, ruik ek ‘n vreemde reuk. Ek vra toe dat hulle gou kom kyk wat stink so – wat gaan aan?” het tannie Petro ‘n dag ná die brand aan die Zoutpansberger vertel.

Toe haar dogter die agterdeur oopmaak, sien hulle net vlamme in die motorhuis.

“Oom Boet het probeer om met die tuinslang die vuur dood te maak. Ek het net gesê: 'Red die kar! Red die kar!'”

Oom Boet het dapper deur die sydeur van die motorhuis probeer om met die tuinslang die vlamme te blus. Die munisipale waterdrukking was egter so swak dat, as hy die tuinslang half toegedruk het om met 'n sterker straal te spuit, daar niks uitgekom het nie. “Was die waterdrukking sterk, kon ek die vuur geblus het,” oom Boet gesê.

Met die tuinslang wat nutteloos was, het oom Boet toe probeer om ten minste tannie Petro se klein Chevy Spark te red. In daardie stadium was die vlamme nog net voor die karretjie gewees, waar meublement en kartondose klere gestoor was. Hy het om gehardloop en die motorhuis se deur oopgeruk. “Maar nou ja, toe kom die vars lug in en toe is dit verby! Dit was in ‘n oogwink gewees…” het oom Boet gesê.

Met die skielike toename in suurstof het die hele motorhuis in vlamme uitgebars. “Sjoe, toe brand die kar en alles!” sê tannie Petro.

Met dié dat die hele motorhuis in vlamme verswelg is, het die vuur oorgespring na die dak van tannie Petro se woonstel skaars twee meter verder. Gelukkig het omstanders nader gestorm en twee jong mans (tannie Petro sê sy weet nie eers wie hulle was nie) het brandblussers gegryp en die vlamme in toom probeer hou. “Hier het mans gekom en nog mans gekom. Toe kry ons water hier agter van die hoek af. In daardie stadium was die motorhuis en kar daarmee heen en het ons net gekonsentreer om die huis te red,” het oom Boet gesê.

Te midde van hul stryd om die huis te probeer red, het die brandweer gearriveer. “Ons moet hulle werklikwaar loof. Hulle was baie vinnig hier,” het oom Boet gesê. Vandat hulle die vuur opgemerk het, totdat die brandweer opgedaag het, het daar nie eers ‘n halfuur verstryk nie. Die motorhuis was toe reeds in puin, maar gelukkig kon hulle die huis red.

“Chaney was histeries! Sy het hier buite rondgehardloop en aanhoudend geskreeu. Ek kon niks doen nie met my sukkel-sukkel blindheid. Op die ou end het hulle my op ‘n stoel hier in die oop veld. Almal sê net ‘Ag shame Petro’ terwyl hulle my drukkies gee. Dit was vir my oorweldigend en ek het inmekaar gesak,” het tannie Petro gesê, terwyl sy probeer om die trane terug te hou.

Haar trane is verstaanbaar. Lesers sal onthou van die wrede aanval op tannie Petro en klein Chaney in die middernagtelike ure van 6 Februarie 2014 by dieselfde woonstelkompleks. Hulle het geslaap. Toe hul oë oopgaan, het twee mans op hulle gesit, een op Petro en een op Chaney. Wat gevolg het was ‘n twee-uur-lange marteling waartydens Chaney gewurg en vir dood eenkant in die kamer se hoek gegooi is. Petro selfs is ses keer gewurg tot kort voor sy haar bewussyn verloor het, net om weer toegelaat te word om asem te skep, sodat die marteling kon voortgaan. Die booswigte wou geld hê. Ook Petro is later vir dood gelos, nadat sy in ‘n bewustelose toestand vasgebind en onder beddegoed toegepak is. Dit was ‘n Godswonder dat Chaney haar bewussyn herwin het, waarna sy haar ouma kon losmaak en hulle hulp kon ontbied. Die brutale aanval het die hele land geskok.

Twee jaar nadat hulle aangeval is, worstel die twee steeds met die geestelike en fisiese letsels van die aanval. Tannie Petro tob juis dat die brand dalk verband kan hou met die aanval en opsetlik gestig is. Sedert die aanval is nog niemand aangekeer nie en volgens tannie Petro het die polisie besluit om die saak bloot te sluit. Weens die ernstige skade wat aan haar oë aangerig is tydens die aanval, is sy ook stadig maar seker besig om totaal blind te word. Aan die begin van die maand het die Zoutpansberger gerapporteer dat sy R50 000 nodig het om ‘n operasie aan beide oë te kry wat haar sig sal herstel. Op ‘n karige ouderdomspensioen sukkel tannie Petro egter om kop bo water te hou. Om bietjie te help met die finansies het sy en Chaney begin om springmielies te verkoop. “Jy weet, die popcorn het net mooi begin optel die laaste week,” het tannie Petro gesê. Nou sit sy met die situasie dat sy nie meer ‘n kar het om die springmielies wat hulle maak af te lewer nie. “Hoe gaan ons dit nou doen?” het tannie Petro gevra.

Te midde van al hierdie dinge is daar darem een of twee ligstraaltjies. Die manne van Tafelronde Zoutpansberg 66 het ingespring en aangebied om ‘n fondsinsameling te administreer waar mense donasies kan maak vir tannie Petro se oogoperasies. Vir meer inligting hieroor, kan mense Tafelronde se voorsitter, Dirk Meissenheimer, skakel by tel. 082 897 8807. Tannie Petro het darem ook versekering op haar motor, maar te midde van ‘n polisie-ondersoek na die oorsaak van die brand sal sy eers moet wag vir die uitslag voordat ‘n betaling gemaak kan word. 

 
 
 

Viewed: 1404

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Vuur het Donderdag, 14 April, tannie Petro Weyers (68) se motorhuis in puin gelê. In ‘n stadium was die vlamme so intens dat die vuur oorgespring het na die dak van haar woonstel. Gelukkig kon die vuur in die dak geblus word en haar huis is gered.

‘n Dramatiese selfoonfoto van die brand verlede Donderdag (14de) by tannie Petro Weyers se woonstel in die Kismet-kompleks. Lesers kan ook www.zoutpansberger.co.za besoek vir ‘n kort videogreep van die brand. Foto en videomateriaal: Christa Otto.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT