ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Bekende Musina-boer oorleef wrede plaasaanval

Date: 30 April 2016 By: Andries van Zyl

Die land se boerderygemeenskap is Maandag weer geskok deur die nuus van nog ‘n wrede plaasaanval.

Die aanval op ‘n plaas buite Musina het die 69-jarige boer en voormalige stadsklerk van Musina, mnr. Johan Kok, ernstig gewond gelaat, terwyl een aanvaller doodgeskiet is en ‘n tweede gewond is.

Die aanval het omstreeks 06:00 plaasgevind. Aanvanklik is berig dat sowat ses aanvallers Kok by sy plaaswoning langs die Venetiamyn-pad oorrompel het. Die polisie het egter later die dag bevestig dat slegs vier aanvallers by die voorval betrokke was.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder luitenant kolonel Malesela Ledwaba het die vier gewapende mans Kok se plaaswoning binnegestorm en vuurwapens geëis. Kok se vriendin, me. Ina Genis, asook haar seun Danie, was ten tye van die voorval ook in die huis gewees. Me. Genis kon blykbaar daarin slaag om weg te kruip vir die aanvallers, terwyl Danie vasgebind is.

Ledwaba het gesê dat Kok die kluis se sleutels aan die aanvallers oorhandig het, waarna hulle twee wapens daaruit verwyder het. Volgens Ledwaba was die aanvallers egter nie hiermee tevrede nie en het nog wapens geëis. Uit woede het hulle na bewering verskeie skote in Kok se rigting geskiet, waarna Kok teruggeskiet het. (Aanvanklik is berig dat dit Danie was wat op die aanvallers geskiet het, nadat sy ma daarin kon slaag om hom te bevry).

Ledwaba het bevestig dat een aanvaller tydens die skietgeveg in die huis doodgeskiet is. ‘n Tweede aanvaller is in die been gewond, waarna die gewonde man en oorblywende twee aanvallers op die vlug geslaan het.

‘n Massiewe soektog deur die polisie en gemeenskap is kort ná die aanval geloods. Intussen is Kok met onder meer ‘n skietwond in die kop en linkerarm per helikopter oorgeplaas na Polokwane vir mediese behandeling. Me. Genis en haar seun was klaarblyklik ongedeerd, maar het aan skok gely.

Ledwaba het later die dag bevestig dat die polisie daarin kon slaag om die gewonde verdagte, met die steun van onder meer ‘n privaat helikopter, vas te trek en te arresteer. Hy is ook oorgeplaas Polokwane toe vir mediese behandeling.

Teen laat Maandagmiddag het die Zoutpansberger met Kok se seun, Phillip, kontak gemaak. Phillip het bevestig dat sy pa wel ‘n kopwond opgedoen het, maar ná behandeling het dit geblyk dat sy pa darem nie enige breinskade opgedoen het nie en buite gevaar was. Meer ernstige skade is agter aan sy linkerarm aangerig vanweë nog ‘n skietwond. Die arm was op twee plekke gebreek en ‘n dringende operasie was nodig om die skade te herstel.

Woensdagoggend het Phillip bevestig dat sy pa in die teater was om die skade aan sy linkerarm te herstel. Sy toestand is steeds beskryf as stabiel. Dieselfde oggend was daar nog geen aanduiding dat enige verdere arrestasies in verband met die aanval gemaak is nie, behalwe Ledwaba wat Dinsdagmiddag aangedui het dat twee van die aanvallers nog op vrye voet was.

Die aanval op Kok-hulle volg skaars ‘n week ná nog ‘n wrede en noodlottige aanval op ‘n plaas buite Vryheid, waartydens die 38-jarige boer mnr. Billy van Rooyen en sy skoonpa, die 62-jarige mnr. Ronnie Lombard, doodgeskiet is. Tussen 10 en 15 aanvallers, gewapen met onder meer AK 47s, het Van Rooyen se woning omsingel voordat hulle op die huis losgebrand het. Van Rooyen se vrou, Karlien, en hul twee seuntjies (ouderdom 4 en 7) was by die huis ten tye van die aanval. Lombard, wat in die huis aangrensend tot sy skoonseun gebly het, is noodlottig gewond toe hy nader gestorm het om te help. Hierdie aanval het ook skokgolwe in Louis Trichardt veroorsaak, met Lombard en sy familie wat bekende oud-inwoners van die dorp is.

 
 
 

Viewed: 1604

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT