ADVERTISEMENT:

 

 
 

Stiefpa pleit skuldig op klag van bloedskande

Date: 21 May 2016 By: Isabel Venter

Die pa en besigheidsman van Louis Trichardt wat sy stiefdogter swanger gemaak het, het erken dat hy homself skuldig gemaak het aan bloedskande.

Die man het Woensdag in die Louis Trichardt Streekshof verskyn, waar hy skuldig gepleit het op die aanklag teen hom. Alhoewel die stiefdogter nou 18 is, kan die man nie geïdentifiseer word nie, omdat haar baba nog ‘n minderjarig is en beskerm moet word.

Die man het erken dat hy gedurende Oktober 2014 seks met sy stiefdogter gehad het. Dit was kort na die dogter se 16de verjaarsdag. Dit is juis om hierdie rede dat die Staat besluit het om ‘n klag van statutêre verkragting te laat vaar en eerder ‘n klag van bloedskande te bring. In terme van die Wet op Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede (Wysigingswet 32 van 2007), word ‘n stiefkind geag asof hy/sy die stiefouer se biologiese kind is.

Die man het, toe hy skuldig gepleit het, ook die hof om verskoning gevra dat hy en die dogter saamgebly het tot en met Februarie hierdie jaar. Hy het vir die hof gesê dat die dogter uit sy huis getrek het toe hy meegedeel is dat dit ‘n verdere oortreding is. Die dogter woon nou saam met haar ma.

Die man het erken dat hy en die dogter met mekaar se wedersydse toestemming seks gehad het. Hy het by monde van sy regsverteenwoordiger die hof gevra om hom genadig te wees, en eerder ‘n boetevonnis op te lê. Verder het die Staat aangedui dat die dogter en haar ma gevra het dat die man nie direkte tronkstraf opgelê word nie, omdat hulle afhanklik is van die onderhoudsgeld wat die man betaal aan hulle en sy baba.

Die Staat het gevra dat die hof die klaers se wens in ag neem, maar ook moet onthou dat die man se dade die gesin uitmekaar geskeur het. Volgens die man se prokureur is sy vrou besig om van hom te skei. Die Staat het ook aangedui dat die stiefdogter haar skoolloopbaan opgegee het om na haar baba om te sien.

Landdros PW Mudau het in vonnisoplegging gesê dat hy al dié faktore in ag geneem het. Hy het die man ‘n boete opgelê van R30 000 of direkte tronkstraf van agt jaar. Die hof het gelas dat die man sy boete maandeliks kan afbetaal. Die man is ook ‘n verdere vier jaar gevangenisstraf opgelê wat opgeskort is vir vyf jaar, mits hy homself nie skuldig maak aan ‘n soortgelyke oortreding nie. As deel van sy vonnis is die man se naam en besonderhede ook opgeneem in die nasionale register vir seksoortreders.     

 

 
 
 

Viewed: 987

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT