ADVERTISEMENT:

 

 
 

Muggie, omring deur haar gesin en van haar dierekinders. Van links na regs is Karin Olivier, Lyn-Marie Botha, Angelica Fourie, San-Mariet Botha en Muggie.

Onmin met die bure oor gesin se liefde vir katte

Date: 23 May 2016 By: Isabel Venter

‘n Louis Trichardt vrou is baie boos vir die Makhado Munisipaliteit omdat hulle gedreig het om haar en haar katte van mekaar te skei.

Me. Muggie van Tonder het verlede week die koerant gebel en van haar ontsteltenis ingelig, pas nadat sy ‘n oproep gekry dat die munisipale gesondheidsinspekteur beslag gaan lê op haar liefling katte. Sy en haar gesin woon in die padkamp saam met hul 19 katte. Meeste van hulle was voorheen straat- of weggooikatte wat sy aangeneem het.  

Munisipale gesondheidsinspekteur mnr. Daniel Mavhunga het by die saak betrokke geraak nadat Muggie se bure gekla het oor die katte wat lastig raak. Volgens Muggie het die buurvrou gekla dat die katte haar motor krap, maar, sê Muggie, dit is eintlik nonsens, want dit was die ape wat op die buurvou se kar geklim het.

Mavhunga het ses weke gelede vir die eerste keer Muggie se huis besoek. Hy het vir Muggie gesê die 19 katte is te veel en dat sy moet plan maak met die baie katte, anders sal die munisipaliteit vir haar ‘n plan maak. Volgens Muggie het hy haar ook gedreig en gesê as sy nie ontslae raak van die katte nie, hy haar uit haar huis gaan sit.

Muggie het toe, teen groot onkoste, ‘n spesiale heining om haar huis laat aanbring sodat haar katte nie meer kan uitkom nie. Dié draadheining is so ontwerp dat dit – net soos die gevangenis se omheining -  geboë is aan die bokant, sodat die katte nie daaroor kan klim tot binne die bure se erf nie.

Muggie het vir Mavhunga in kennis gestel van die heining en, volgens Muggie, het hy dit toe so aanvaar. Hulle het nie weer van hom gehoor tot laas Maandag (9de) nie.

Volgens Muggie het Mavhunga inspeksie gehou van die heining en ander veranderings wat sy aangebring het. “Maar hy het net gelag en gesê hy sal ons nog ‘n week gee om van die katte ontslae te raak of hy gaan hulle vat. Hy het toe in sy kar geklim en gery,” het Muggie gesê.

Muggie sê sy kan nie verstaan hoekom die munisipaliteit hulle koppe so breek oor haar katte nie, juis omdat sy in die padkamp bly. “Dit is nie dorpsgebied nie, maar buite die dorp, naby die sewerage plaas,’ het Muggie gesê. Die trane kom sit vlak agter Muggie se oë as sy Mavhunga se dreigemente om haar katte te verwyder in herinnering roep. “Hy kan mos nie dit doen nie ... dit is my kinders ... hoe kan enige mens vir my vra om te kies wie bly en wie gaan?”

Meeste van die katte het Muggie as babatjies gekry of opgetel en met die hand groot gemaak. Elke liewe een is vir haar spesiaal. Tammy, die gryskat, se verhaal is besonder hartseer; sy is met kookwater gegooi en vir dood gelos. Muggie en Karin het haar aangeneem en vir al haar veeartskostes betaal. Hulle het ook betaal dat al die katte gesteriliseer word. ‘n Gemiddelde maand se katkos jaag hulle ook sowat R3 000 uit die sak.

Plaaslike diere-inspekteur mnr. Lawrence Khodobo van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het by navraag bevestig dat hy Mavhunga vergesel het tydens die eerste inspeksie. Volgens Lawrence was dit van meet af duidelik dat Muggie baie lief is vir haar katte. “Sy het begin huil toe sy hoor die katte sal minder gemaak moet word,” het Lawrence gesê. In dieselfde asem het hy ook verduidelik dat die DBV slegs gemoeid is met die katte se welstand en nie verantwoordelik gehou kan word vir die afdwing van munisipale ordonnansies nie.

Lawrence was ook verbaas om te hoor dat die munisipaliteit toe wel besluit het om die katte te verwyder, selfs nadat Muggie ‘n heining opgerig het. Volgens Lawrence kan die munisipaliteit nie net links en regs beslag lê op diere nie; en veral nie in die geval van honde en katte nie. Die rede is omdat die munisipaliteit slegs ‘n skut het vir rondloperbeeste en -donkies. In die geval van katte en honde tree die DBV op as die munisipale skut, afhangende of hulle plek het.

Lawrence het toegegee dat 19 katte ietwat te veel kan wees, maar omdat hulle goed versorg en almal gesteriliseer is, kon hy nie die sin daarin sien om hulle te verwyder nie. Die koerant het sedert verlede Dinsdag probeer om Mavhunga telefoniese in die hande te kry, maar sonder enige sukses. Muggie het intussen aangedui dat sy nie maklik sal moed opgee nie, en sal veg vir haar katkinders.

 

 
 
 

Viewed: 1384

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT