ADVERTISEMENT:

 

 
 

Alexander Smail.

Smail 'n vry man, nadat hof moordvonnis herroep

Date: 18 June 2016 By: Isabel Venter

Die Hooggeregshof het bevind dat dit nie Alex Smail se bedoeling was om twee jong mans van Buysdorp koelbloedig dood te skiet nie.

Alexander Smail (67) is verlede jaar in die Louis Trichardt Streekshof direkte gevangenisstraf opgelê vir die dubbele moord op twee jong inwoners, Cornelius Bruce Joachim (20) en Sergio Buys (21). Buiten vir die twee klagte van moord waarop Smail skuldig bevind is, is hy ook skuldig bevind aan twee klagte van poging tot moord.

Regter E. M. Makgoba het op 6 Mei vanjaar Smail se skuldigbevinding van moord en poging tot moord vervang met ‘n skuldigbevinding van strafbare manslag. Die regter het bevind dat Smail nie bedoel het om vir Buys en Joachim dood te maak nie, maar eerder dat hy geglo het dat sy lewe in redelike gevaar was toe hy die eerste skote afgevuur het. Regter Makgoba het gesê dat dit eerder nalatig van Smail was toe hy op die twee mans en nog twee van hulle vriende geskiet het.

Smail het in Desember 2009, net voor die skietvoorval, gedreig om vir Joachim, Buys en hulle vriende, Levit Harris en Dominique Buys, te skiet. Smail het destyds getuig dat hy daarvan oortuig was dat die vier by sy onderneming, Smails Fountain op Buysdorp, by verskeie geleenthede ingebreek het. Sy verweer was dat hy Joachim se groep gekonfronteer het, maar nie bedoel het om hulle te skiet nie. Hy het die mans weggejaag van sy perseel kort voor die skietvoorval en gedreig dat hy hulle gaan "vrek skiet".

Die Buysdorp-polisie het getuig dat Joachim en sy vriende by die polisie gekla het oor Smail se dreigemente, en dat hulle aangeraai is om weg te bly van Smail se besigheid. “Dit is gemene saak dat hulle nie geluister het na die goeie raad van die polisie nie, teruggekeer het na Smail se besigheid, waar die skietvoorval daarna plaasgevind het,” het regter Makgoba gesê.

Smail het opgemerk dat Joachim-hulle teruggekeer het na sy perseel. Hulle was al vier in ‘n voertuig wat op die perseel van Smails Fountain geparkeer was. Smail het na hulle geloop en deur die venster gevra wat hulle daar soek en hulle aangesê om te ry. Sergio was die naaste aan Smail, in die bestuurdersitplek. Smail het getuig dat hy iets blink in Sergio se hand gesien wat in ‘n dreigende wyse oor die stuurwiel gekom het. Smail het geskrik en gedink dit is ‘n wapen of mes waarmee Sergio hom dalk wou seermaak. Smail het toe sy rewolwer (wat hy by hom gehad het) opgelig en blindelings skote afgevuur.

Sergio het dadelik inmekaar gesak, waarop Joachim gegryp het na die "wapen" wat Sergio laat val het. Smail het getuig dat hy bang was dat dit ‘n wapen was wat Joachim op hom sou gebruik en het toe skote gevuur in sy rigting.

Smail het toe sy aandag gevestig op Dominique en Harris, wat agterin die voertuig gesit het, omdat hy nie geweet het of hulle dalk ook wapens by hulle gehad het nie. Die twee het uit die voertuig gespring en op die vlug geslaan, waarop Smail ‘n waarskuwingskoot oor hulle koppe in die lug afgevuur het. Hierna het Smail homself dadelik oorgegee aan die polisie.

Makgoba het grootliks gesteun op hierdie getuienis van Smail, dat hy in ‘n angsbevange oomblik blindelings op die mans geskiet het. Buys is in die kop getref en Joachim in die bolyf. Harris en Dominique het ontsnap.

Makgoba het verduidelik dat hy Smail se verweer – dat hy opgetree het uit selfverdediging – moes opweeg en bepaal of Smail werklik gevrees het vir sy lewe of maar net gedink het sy lewe was in gevaar (beweerde selfverdediging). Die regter het tot die slotsom gekom dat Smail, alhoewel hy objektief gesien iemand se lewe geneem het, hy subjektief opgetree het omdat hy in daardie oomblik emosioneel was en geglo het sy lewe was in gevaar. “Gevolglik word Smail daaraan skuldig bevind dat hy die skote nalatiglik afgevuur het en daarom skuldig is aan die misdryf van strafbare manslag,” het Makgoba gesê.

Destyds is Smail skuldig bevind op twee moordklagte met betrekking tot Joachim en Buys, waarvoor hy agt jaar elk gevangenisstraf opgelê is. Smail is ook skuldig bevind op twee klagte van poging tot moord op Dominique en Harris, waarvoor hy gesamentlik vier jaar tronkstraf opgelê is.

Regter Makgoba het egter gesê dat landdros Pat Cloete, wat die straf uitgedeel het, gefouteer het deur te veel te steun op die getuienis van Harris en Dominique. “Hulle getuienis kan nie aanvaar word nie, want nie net weerspreek hulle mekaar se getuienis nie, maar het beide erken dat hulle dronk was [ten tye van die voorval],” het Makgoba gesê. Hy het verder bygevoeg dat Smail se weergawe van die voorval nie deur die Staat bevraagteken is nie en dat die hof dit as ‘n redelik geloofwaardige weergawe moes aanvaar.

Makgoba het derhalwe gesê dat hy Smail eerder skuldig bevind op twee klagte van strafbare manslag met betrekking tot die dood van Joachim en Sergio en onskuldig op die poging van moord klagte so ver dit Harris en Dominique aangaan. Hy het die twee nuwe klagte gekombineer en Smail ‘n vonnis van agt jaar gevangenisstraf opgelê, wat opgeskort is vir ‘n tydperk van vyf jaar.  

Smail het reeds ses maande van sy gevangenisstraf uitgedien voordat hy op parool vrygelaat is, hangende die uitslag van sy appèlsaak.

 

 
 
 

Viewed: 1324

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT