ADVERTISEMENT:

 

 
 

Marcel van Niekerk sal vir net twee aande plaaslike te sien wees in sy eenmanvertoning van Amarikana. Foto verskaf.

Nog ‘n kans om Amarikana te sien

Date: 23 June 2016 By: Isabel Venter

Inwoners sal volgende week net twee kanse hê om die plaaslike teaterstuk, Amarikana, te sien.

Hierdie eenman-verhoogstuk, uit die pen van plaaslike skrywer Marcel van Niekerk, sal vanaf 11 tot 16 Julie op die planke wees by die gesogte Vrystaat Kunstefees.  Marcel het in Oktober verlede jaar vir die eerste keer Amarikana opgevoer hier in Louis Trichardt voor ‘n klein, intieme gehoor. Hy sal in die komende week, op Donderdag (30 Junie) en Vrydag (1 Julie), die stuk weer opvoer.   

In Amarikana vertolk Marcel die rol van die verteller-hoofkarakter Adam, wat sy storie deel met Jane en die gehoor. Die inspirasie vir die stuk was die bloedbad wat ontstaan het tydens stakings en protesoptogte by die Lonminmyn naby Rustenburg in Augustus 2012. Tydens dié opstand is 44 mense dood en nog heelwat meer mense beseer.

Die Amarikana wat Marcel in die Vrystaat sal opvoer, sal egter in ‘n heel ander gedaante opgevoer word as toe dit verlede jaar vir die eerste keer hier in die uPCafé te sien was.

Marcel verduidelik dat hy nie net geskaaf het aan die teks nie, maar ook letterlik aan die fisiese stel. “By die fees gaan ons op ‘n groot verhoog optree, wat ‘n stel vereis het,” sê Marcel. Tesame gee die nuwe teks, stel en regie meer diepte aan Adam en Jane se drama wat sentreer om die metafoor “tap” en trek sodoende die gehoor in. “Die koffie word getap uit ‘n boon, die myne tap uit die aarde en dag vir dag ook uit die myners wat ondergronds moet werk,” sê Marcel.

Terwyl Marcel besig is met al dié voorbereidings, maak hy ook tyd om saam met die toneelgroep van Hoërskool Louis Trichardt te oefen. Die skool se groep is uitgenooi om deel te neem aan die Reza de Wet Tienertoneelfees, wat aangebied word saam met die Vrystaat Kunstefees.

Kaartjies vir volgende week se vertonings kan by Marcel of die Agapé Kerkkantoor aangekoop word teen R30 per kaartjie. Hulle kan geskakel word by tel. 074 242 9984 of 015 516 3725. Beide aande se vertonings sal in die Agapé se kerksaal aangebied word om 19:00.

 
 
 

Viewed: 1020

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT