ADVERTISEMENT:

 

 
 

Baba Leo het die naweek by die huis lekker gekuier saam met ouboet Alexander. Foto verskaf.

“Liewe Jesus het hierdie mense na ons gestuur!”

Date: 25 June 2016 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se mense het hulle harte en beursies oopgemaak vir klein Leo Botha (16 maande).

Dié pragtige jong kankerleiertjie het diep in die gemeenskap se harte ingekruip, en hulle het nie gehuiwer om hom te help nie. KleuterKampus, waar Leo se ouboet Alexander skool gaan, het verlede Donderdag ‘n spesiale fondsinsameling gereël. Die skool se hoof, Liezel Botha, was aangedaan oor die oorweldigende ondersteuning wat die projek ontvang het. “Dit was net die Genade van Bo ... ons moes later daar by Spar inhardloop om nog bestanddele te koop,” het Liezel Woensdag gesê.  

Sy en die mamma’s van die skool het gedink sowat 100 stokworse en 10 liter pannekoekdeeg sou genoeg wees – toe nie. “Liewe Jesus het die mense gestuur ... hulle het na ons gestroom en ons is dankbaar vir elkeen wat ons kom ondersteun het, sodat ons vir Leo kan uithelp,” het Liezel gesê.

Met die dag se verkope het die span mammas nagenoeg R20 000 ingevorder. So met die verloop van die naweek het dié bedrag gegroei tot net meer as R30 000. Al die fondse sal gaan om Leo en sy familie se lewensuitgawes te help betaal.

Meeste van Leo se mediese onkostes en chemoterapie word betaal deur ‘n mediese fonds, maar dit is veral die reiskostes elke week na Pretoria wat nou ‘n swaar las geword het. “Dit is maar moeilik op Leo se gesin – hulle moet nou vir ‘n gesin sorg wat in twee gedeel is. In die week is Leo en sy ma alleen in Pretoria en sy pa en boetie moet agterbly in Louis Trichardt,” het Liezel gesê.

Behalwe vir almal wat die projek kom ondersteun het, het Liezel ook groot lof gehad vir al die skool se ouers wat nie geskroom het om te help nie. “Ek is ongelooflik baie geseën met al die mammas van die skool; hulle het nie gehuiwer om te help nie en was vol geesdrif gewees,” het Liezel gesê.

Cherise, Leo se ma, het hierdie week die volgende op Facebook geskryf:  “Ons as ‘n familie, Jaydee en ek en ons seuns, is sprakeloos. Al wat ons kan sê is dankie. Uit die diepte van ons harte, dankie vir elke persoon wat ons baba se fondsinsameling ondersteun het. Dit is absoluut ongelooflik hoeveel mense vandag nog harte van goud het.”

 
 
 

Viewed: 1268

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Al die mammas van die KleuterKampus het verlede Donderdag reggestaan met die panne by 'n kosstalletjie wat hulle beman het langs die parkeerarea van Spar Soutpansberg om fondse in te samel vir baba Leo. Die ondersteuning van die dorp, het die skoolhoof Liezel gesê, was oorweldigend. Foto verskaf.

Al die mammas van die KleuterKampus het verlede Donderdag reggestaan met die panne by 'n kosstalletjie wat hulle beman het langs die parkeerarea van Spar Soutpansberg om fondse in te samel vir baba Leo. Die ondersteuning van die dorp, het die skoolhoof Liezel gesê, was oorweldigend. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT