ADVERTISEMENT:

 

 
 

Stefan en sy meisie Chané soos hulle nou daarna uitsien, albei gerehabiliteer en gesond. 

Tweede kanse

Date: 15 August 2016 By: Isabel Venter

Jy voel nie as jy doodgaan nie... Dit was Stefan van den Heever (24) se ervaring gewees, nadat hy ‘n oordosis heroïne geneem het en sy hart gaan staan het. Dit was op 10 Julie 2014 - die dag wat hy nog ‘n kans gekry het nadat sy broer met hom hospitaal toe gejaag het.

Stefan was verslaaf aan dwelms sedert hy 15 jaar oud was. Hy het hierdie week prontuit en sonder om draaie te loop vertel van sy verslawing en die hel waardeur hy is. Hy het ook terselfdertyd die sluier gelig oor Louis Trichardt se dwelm-onderwêreld.

Nog nooit vantevore was iemand bereid om openlik te praat oor die dwelmhandelaars wat die jeug van die dorp vasvang in hulle giftige kloue nie. “Die drug probleem in Louis Trichardt is moerse groot,” sê Stefan met ‘n strak, ernstige gesig. Hy is nie skaam om daaroor te praat nie, want hy hoop dat sy verhaal ‘n omkeer sal bring.

Stefan is nie bewus van laerskoolkinders wat al dwelms gebruik nie, maar is seker daarvan dat daar ‘n groot probleem is onder veral hoërskoolleerlinge. “Hier is tans tussen 20 en 25 dealers in ons klein dorpie,” vertel Stefan. Hy noem sy handelaars een vir een by die naam - hulle is meer as tien.

En hierdie handelaars skroom nie om aan kinders te verkoop nie. Een handelaar, wat bekend is aan Stefan as Steve, het al bestellings vir kinders gaan aflaai by die skole. Hoërskoolkinders, sê Stefan, verkies dagga en crystal meth, want dis goedkoop. Hy het in sy dae R100 per gram betaal vir crystal en R150 vir heroïne.

Dit is moeilik om te glo dat die jong man wat voor jou sit, met die bultende spiere, al agter tralies was om sy dwelmverslawing aan die gang te hou. Langs om sit sy meisie, Chané Crous (18). Al twee is vandag gesond en nuwe mense – beide is nou al ‘n jaar en twee maande skoon.

“Ek was verslaaf aan heroïne, maar ek het ook cat, coke en crystal gebruik en zol gerook. Die heroïne het ek taai gesnuif, en toe later begin spuit ... vier tot vyf pakkies per dag,” vertel Stefan. Hy was deurmekaar met die verkeerde vriende, erken Stefan, en dis hoekom dit moeilik was om te breek met dwelms.

Hy het begin met dagga toe hy 15/16 jaar oud was, as gevolg van die verkeerde vriendekring waarin hy beweeg het. Dit was nie as gevolg van sy ouers nie. “Ek is die enigste een in my gesin wat ‘n verslaafde was. Niemand in ons gesin was alkoholiste of rokers nie ... dwelms kan met enige iemand gebeur.”

Stefan was by ‘n partytjie gewees van ‘n bekende dwelmhandelaar in die dorp, toe hy sonder sy medewete ingespuit is met heroïne. Ná hy van sy trip bygekom het, het die lus vir heroïne hom gepak. “Dit was so erg gewees dat, as ek my dealer gesien het, ek so begin bewe en in sweet uitgeslaan het ... so erg was die lus,” vertel Stefan.  

Hy en Chané het hulle besittings begin smous vir geld. "Eers jou foon, dan iets in die huis, later jou stoof,  ensovoorts, tot daar niks oor was nie. Ons het ons bed, ‘n hoekkassie, eetgerei en ‘n stukkende sitkamerstelletjie oorgehad," vertel Chané.

Later, na die rehabilitasie, het Stefan al dié goedjies bymekaar gemaak en verkwansel by ‘n tweedehandse winkel. “Ek het nie omgegee oor die geld nie ... ek wou net daai memories van myself doodmaak,” sê hy. “Daar is ‘n verskil tussen waar ek was en waar ek nou in my lewe is. Ek is nie meer daai mens nie,” sê Stefan met ‘n somber gesig. “Ek het nog ‘n kans gekry in my lewe ... as ek nie nog ‘n kans gekry het nie, was ek nou dood gewees.”

Dié kans was te danke aan die Here se genade en sy familie se ondersteuning, maar veral sy pa wat altyd op sy case was. Sy ouers het hom al amper ‘n paar keer afgeskryf - Stefan se stryd met dwelms was vir hulle ‘n donker tyd gewees. “My kind het groente by sy ma gesteel om te verkoop vir dwelmgeld,” het pa Conrad vertel. Hy was radeloos gewees, en sy gesin was uitmekaar geskeur.

Stefan was in die tronk, nadat hy in September 2013 gevang is vir sigarette smokkel. Terloops, vertel Conrad, dit is ‘n baie winsgewende vertakking van dwelms. Handelaars kry jong inwoners verslaaf en dwing hulle om te smokkel om hulle dwelmskuld af te betaal. Dit is ‘n bose kringloop en gebeur meer gereeld as wat enige iemand tans in Louis Trichardt wil erken.

Geld vir nog ‘n rehabilitasiesentrum was daar nie meer nie. Stefan was toe al drie keer in rehabilitasie gewees, en sy regskostes was ongelooflik duur. Ná hy uit die tronk gekom het, het hy weer begin gebruik, totdat hy en Chané in 2014 onderskeidelik ‘n oordosis dwelms geneem het. Dit was die keerpunt in albei se lewens. Die enigste bekostigbare manier om hulle te help, was om beide Stefan en Chané krimineel aan te kla. In ruil vir hulle samewerking is hulle na ‘n staatsinrigting gestuur vir rehabilitasie.  

Dit gaan nou voor die wind met al twee. Beide het ‘n vaste werk en bou weer aan ‘n lewe saam. Hulle vier nou mylpale wat party jeugdiges as vanselfsprekend ervaar, soos die slaag van ‘n bestuurslisensietoets. “Ek het nou al hierdie goed wat ek nooit sou gehad het as ek nog ‘n verslaafde was nie. Ek doen goed ... ek voel trots op myself,” het Stefan gesê.

 Hy en sy pa se droom is om ‘n ondersteuningsprogram op die been te bring, soos die Narcotics Anonymous program wat gerehabiliteerdes moet volg ná hulle ontslaan word uit ‘n sentrum. Buiten dat daar geen werk gemaak word van die inligting wat Stefan en Conrad aan die polisie oorhandig het vir ondersoek nie, is daar ook geen ondersteuningsnetwerke vir verslaafdes en hulle families in die dorp nie. Hulle hoop om dit te verander.

Stefan se raad aan kinders is om twee keer te dink voor hulle die high van dwelms najaag. “Dwelms gaan jou baas word. Jy gaan nie ‘n familie oor hê nie, ook nie ‘n toekoms nie en nooit niks met jou lewe bereik nie.”

  

 
 
 

Viewed: 16108

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Stefan, toe hy nog verslaaf was aan dwelms.

Stefan se ouers het hierdie foto van hom geneem, terwyl hy getrip het op heroïne. Dit was nie lank hierna dat Stefan homself met 'n oordosis heroïne ingespuit het nie.

Stefan het van die een fix na die volgende gelewe en met sigarette begin smokkel om geld te kry om nog dwelms te koop. Hy is in 2013 gearretseer en het 'n paar maande in die tronk deurgebring.

Stefan soos hy vandag daarna uitsien. Hy het sy lewe omgekeer, dwelms gelos en begin gym. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT