ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Gert van Zyl (75).

Avontuurlustige Gert “Suidwes” se stem word stil

Date: 20 August 2016 By: Andries van Zyl

Die alombekende Gert “Suidwes” van Zyl (75) het kort voor dagbreek Maandagoggend sy laaste asem oor die Soutpansberg uitgeblaas, skaars drie weke na sy geliefde vrou, Anna van Zyl (78), se dood op 26 Julie.

“My pa het na ma se dood herhaaldelik gesê hoe ontsaglik baie hy haar mis. Die hartseer van haar dood en die leemte in sy hart was vir hom net te groot. Hy het ons voorberei daarop dat hy nie lank na haar sal gaan nie. Dit was moeilik om te aanvaar en te sien hoe hy gereedmaak om ook uit te span. Ons is dankbaar vir die laaste week wat die Here ons gegun het om tyd saam met pa te spandeer. Ons kon praat oor die dood, berusting daarby vind en as goeie vriende van mekaar afskeid neem. Alhoewel die dood te verwagte was, bly dit steeds seer,”  het seun Andries gesê.

Gebore in die Noordkaap op ‘n plaas destyds genoem Leerkrans, gedoop op Pofadder en daarna na die eertydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië), was die jong lewe vir Gert maar karig en dikwels skraps aan lewensmiddele. Sy vader boor gesubsidieerde boorgate vir die boere en so trek die familie aanhoudend vanaf area tot area. Reeds so jonk as sewe jaar oud en kaalvoet, jaag en skuif die Van Zyl-seuns vee gedurende vakansietye. Tesame met die inheemse bevolkingsgroepe word die jong Gert ‘n kenner van Namibiese veldvrugte en lewer vele jare later praatjies hieroor op SWA Radio. Hy voltooi sy skoolloopbaan aan Windhoek Hoërskool in 1957.

Gert se oud-onderwyser, wyle mnr. Louis Burger, se afskeidswoorde ná skool het sy totale toekoms aangevuur: “Vorentoe, altyd vorentoe, want jy het die potensiaal.” Tog het Gert elke dag erkenning gegee dat die Hemel Vader alle pêrels in lieflike plekke laat val het. Elke geleentheid wat hy gekry het, was ten volle benut. Gert word op 24-jarige ouderdom die jongste konstruksievoorman in Namibië. Met sy dienstermyn in die Staatsdiens as senior inspekteur van werke, word hy vereer met ‘n spesiale salaris aanpassing ter erkenning van volgehoue prestasies van besonderse hoë gehalte.

As kenner van die Namibiese kus neem hy vele hengeltoere na die heilwaters en skryf Gert ook ‘n kosbare inligtingstuk daaroor. Hy bedryf jagkampe in Angola en was behalwe ‘n bedrewe jagter, ook by uitstek ‘n natuurkind. Hy woon vir drie weke saam met die Koi San mense in die Tsumkwe-omgewing, word vir twee dae en ‘n nag deur Unita op Mcuso in Angola gevangene gehou en bewerkstellig hierna kontak tussen kmdt. Lukas Kandjimi van Unita en kmdt. Flip du Preez van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (1973 tot 1975). Per geleentheid beland hy onverwags met sy voertuig tussen MPLA-magte en 13 koeëlgate deur die voertuig getuig hierna van Alhoë Genade. Die een aand laat in ‘n Portugese winkeltjie op Mcuso word hy omsingel deur ‘n SWAPO-seksie, maar slaag daarin om deur ‘n toonbankluik en agterdeur te ontsnap.

Gert het ‘n geweldige liefde vir jag gehad. Hy swerf soveel as twee weke per maand met sy spoorsnyers en Ford 4x4 deur Ovambo, die Okavango, Caprivi en Angola. “Voluit het die Skepper my gegun en ek het ‘n 24 uur dag herskep in ‘n 30 uur dag.” Dit, sê Andries, was sy pa se woorde aan hom per geleentheid.

Die benoudste oomblik in Gert se lewe was toe hy met ‘n vissersboot vir 17 ure lank, met die vissernet verstrengel in die aandrywing, vreesaanjaend en hulpeloos soos ‘n kurkprop op stormsee met vyf meter hoë golwe rondgeslinger is.

Gert was legendaries in die boubedryf en was bekend vir die hoë standaard wat hy as inspekteur van werke van kontrakteurs vereis het. Van die hoogtepunte in sy lewe in die boubedryf sluit in feitlik alle fases van die bou van die destydse Lugmagbasis Louis Trichardt; die bou van die brug oor die Okavango in 1975 om die Suid-Afrikaanse magte na Angola oor te sit; die elektrifisering en bou van die kanaal by Ruacana,  en eerste kragsentrale op Rundu in die Okavango in 1965;  Vondwe Gevangenis, asook verskeie groot behuisingsprojekte. Tot einde verlede jaar het Gert nog voluit gewerk as klerk van werke by die multi-miljoen-rand opgradering by Letaba Hospitaal.

Die welstand van kinders was eerste prioriteit vir Gert en het hy destyds veel ondersteuning aan die Eros Kindertehuis in Windhoek gegee. So ontmoet hy per geleentheid vir Anna (‘n nooi De Wet) vanaf Bredasdorp wat ‘n betrekking by die tehuis aanvaar het. Dit is skrikkeljaar en Anna vra hom om te trou. “My pa het altyd gesê as ma hom nie gevra het om te trou nie, sou hy seker nooit tot trou gekom het nie,” het Andries gesê.

Daardie selfde jaar wat Anna hom vra om te trou, trou Gert en Anna op 26 Oktober 1968. Twee-en-sestig weeskinders, asook ander familie en vriende, woon die seremonie as gaste by. Drie kinders word vir hulle gebore, waarvan die eerste seuntjie ná drie groot operasies sterf. Amelia en Andries geniet hierna saam met die egpaar vele jag- en hengelavonture.

“Vanaf die Okavango waar ek en my suster gebore is, na waar ons saam met pa en ma gehengel het op die weskus van Namibië, tot hier waar ons in die Bosveld se jagvelde geland het, was die lewe saam met pa ‘n avontuur. My pa was ‘n streng en harde man, maar altyd, altyd regverdig. In sy onwrikbare geloof in God was hy vir ons ‘n voorbeeld. Ons as kinders moet maar nou die fakkel optel waar pa en ma dit laat val het,” het Andries gesê.

‘n Roudiens vir wyle Gert vind eerskomende Saterdag, 20 Augustus, om 11:00 plaas vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente. Die diens sal waargeneem word deur ds. Etienne van Staden. Hy word oorleef deur sy dogter Amelia (met skoonseun Henri en kleinkind GP) en Andries (met skoondogter Ria en kleinkinders Marno en Karla). “Baie dankie vir al die mooi boodskappe van vertroosting. Dit is vir ons as kinders ‘n riem onder die hart om te weet dat pa so ‘n goeie indruk op mense se lewens gelaat het,” het Andries gesê.

18 August 2016 - Huldeblyk aan Gert van Zyl

 
 
 

Viewed: 1085

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Wyle Gert was baie lief vir jag – vanaf die ryk jagvelde van Angola en Namibië, tot hier in die Soutpansberg. Hy kon vir ure familie en vriende besig hou met sy jag- en hengelstories. Per geleentheid het hy in Angola die geleentheid gekry om 14 buffels in twee weke te skiet saam met sy Portugese vriende.

Tot sy gesondheid dit nie meer toegelaat het nie, het Gert elke jaar probeer om darem nog een keer na Namibië te toer vir ‘n lekker hengeltog.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT