ADVERTISEMENT:

 

 
 

Van die dwelms, televisies, elektroniese ware en wapens waarop die provinsiale polisie se taakspan beslag gelê het. Foto's: Limpopo Provinsiale Polisie Kommunikasiekantoor.

Provinsiale polisie besluit om in te gryp op misdaadfront

Date: 25 September 2016 By: Isabel Venter

Te midde van ‘n hernude aanslag van kriminele op Louis Trichardt, het die provinsiale polisie ook nou toegetree tot die stryd om te verseker dat inwoners weer veilig kan slaap.

Die Makhado Polisiestasie is een van nege gebiede wat geïdentifiseer is waar daar drasties ingegryp moet word. Hierdie inligting is verlede week bekendgemaak deur provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Moatshe Ngoepe. Die ander polisiestasies is Polokwane, Thohoyandou, Modimolle, Tzaneen, Lephalale, Seshego, Tubatse en Groblersdal.

Vanaf die provinsiale tak is 'n intelligensie-gedrewe skoonmaakoperasie van stapel gestuur om hierdie areas “skoon te maak”. Eenhede wat deelgeneem het aan die operasie het ingesluit misdaadintelligensie, misdaadvoorkoming en speurders.

Ngoepe het die operasie as ‘n sukses beskryf. In totaal, het hy gesê, is daar 56 verdagtes in die geïdentifiseerde areas vasgekeer wat verbind kan word met oortredings wat verband hou met die besit van dwelms, dagga, onwettige vuurwapens en ammunisie, brandstigting, huisbraak en diefstal. ‘n Verskeidenheid van gesteelde en onwettige items is ook teruggevind. Dit het, onder andere ingesluit platskerm televisiestelle, selfone, verskeie vuurwapens, hoëtroustelle en agt voertuie. Volgens Ngoepe word die waarde van al die goedere geskat op R2.5 miljoen.

Alhoewel dié operasie wyd verwelkom word, voel plaaslike inwoners steeds nie veilig in hul eie huise nie. Dit wil voorkom asof booswigte hulle visiere verskuif het vanaf die buitewyke van Louis Trichardt na die residensiële areas van die dorp.

Verlede week het die Zoutpansberger berig oor inbrake rondom Louis Trichardt en in sommige gevalle is meer as een inbraak op dieselfde aand aangemeld. Makhado se polisiewoordvoerder het egter by navraag oor die vlaag misdaad die afgelope week gesê dat dit “redelik stil is” op die misdaadfront.

Dit is nie duidelik of kleiner misdade, soos inbraak by voertuie, of waar onderdele en wiele van geparkeerde voertuie afgesteel word, meer getel word as misdrywe nie en of inwoners dit dan bloot net nie aanmeld by die polisie nie. Die Zoutpansberger het verneem dat daar die afgelope week drie gevalle was waar inwoners se voertuie deurgeloop het. In die een geval is daar by ‘n voertuig by ‘n woning gedurende die aand ingebreek en ‘n beursie gesteel. In die ander twee gevalle het diewe die wiele van twee voertuie afgesteel, ook gedurende die aand by wonings. Al die voorvalle het in die woongebied oos van die N1 (die nuwe uitbreiding) plaasgevind. Die polisie kon nie die inligting teen druktyd bevestig nie.

Wat die plaaslike polisie se ondersoek betref van ander inbrake, spesifiek by hotelle en gastehuise, is daar nog geen arrestasies gemaak deur die spesiale taakmag nie. Daar word vermoed dat die verskillende inbrake, veral verlede week se huisbrake, die vuilwerk kan wees van een bende.

 

 
 
 

Viewed: 737

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Van die dwelms, televisies, elektroniese ware en wapens waarop die provinsiale polisie se taakspan beslag gelê het. Foto's: Limpopo Provinsiale Polisie Kommunikasiekantoor.

Van die dwelms, televisies, elektroniese ware en wapens waarop die provinsiale polisie se taakspan beslag gelê het. Foto's: Limpopo Provinsiale Polisie Kommunikasiekantoor.

Van die dwelms, televisies, elektroniese ware en wapens waarop die provinsiale polisie se taakspan beslag gelê het. Foto's: Limpopo Provinsiale Polisie Kommunikasiekantoor.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT