ADVERTISEMENT:

 

 
 

Skelms is bedrywig

Date: 28 November 2016 By: Isabel Venter

Inwoners word gemaan om dié komende Kersseisoen hul veiligheid op te skerp en paraat te wees ten opsigte van huisbrake.

Dit volg nadat daar in die laaste weke van November al hoe meer voertuigdiefstalle aangemeld is in en rondom Louis Trichardt. Te midde van dié nuwe aanslag is daar hierdie week ook berigte ontvang dat die vermeende TV-bende ook weer aktief in die area is.

Die plaaslike polisie het hierdie jaar sporadies hul hande volg gehad met ‘n bende diewe wat hulle daarop toegespits het om televisiestelle te steel. In die meeste van die gevalle (wat die koerant kon bevestig) het die bende hulle toegespits op kleinhoewes, gastehuise en hotelle in die area.

‘n Waarskuwing is hierdie week deur die streek se plaaswagstrukture uitgestuur teen hierdie vermeende bende, nadat daar verlede week by twee verskillende wonings ingebreek is.

By een van die wonings in die Mambedi-omgewing is daar onder meer ‘n TV-skerm en rekenaar gesteel. Daar word vermoed dat dit die werk kan wees van die TV-bende, omdat die modus operandi  dieselfde is as in die verlede - toegang word verkry deur diefwering en heiningsdrade te knip vroeg in die oggend. Op een van die tonele is daar ‘n geel boltcutter gevind.

Buiten vir dié bende is daar ook toenemend meer voertuie wat gesteel word. Presies hoeveel meer kon die koerant nie by die Makhado Polisie bevestig nie, omdat die polisie dit ag as die uitgee van misdaadstatistieke.

Sover die koerant kon vasstel is daar aan die begin van November vier bakkies in en om Louis Trichardt gesteel. Een van die bakkies, wat aan mnr. Sean Wolff behoort het, is vinnig weer opgespoor. Die ander drie bakkies word nog vermis, waarvan een behoort aan mnr. Johan van Rooyen.

Hierna is twee voertuie, ‘n Isuzu-bakkie in Eltivillas en ‘n BMW in Thohoyandou, gesteel. Net die BMW is teruggevind.

Verlede week is ‘n Nissan 1400 gesteel in die Mailula-omgewing.

Nog twee voertuie is deur die loop van die naweek gesteel, waarvan een die wit VW Jetta van mev. Alida Brits in Azaleastraat was. Maandag het die flinke optrede van die Soutpansberg Dorpswag gehelp om ‘n Toyota bakkie terug te kry wat vroeër dieselfde dag as gesteel aangemeld is in die Dzanani-area.

Bo en behalwe die bogenoemde het die provinsiale polisie ook inwoners hierdie week gemaan om meer paraat te wees hierdie Kersseisoen. Dit was deel van die polisie se provinsiale teenmisdaad- en voorkomingsoperasies wat Maandag van stapel gestuur is om die aanslag van kriminele oor Limpopo te verminder dié feesseisoen.

Die polisie het gevra dat inwoners hulle help in hul pogings deur nie gesteelde goedere te koop nie, nie rylopers op te tel langs die pad nie, hul voertuie behoorlik te sluit en nie waardevolle goedere daarin te los nie. Inwoners moet ook ekstra veiligheidsmaatreëls by hul huise instel as hulle met vakansie gaan.

 
 
 

Viewed: 841

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT