ADVERTISEMENT:

 

 
 

Verdagtes in renostersaak het geskiedenis van botsings met die gereg

Date: 16 January 2017 By: Isabel Venter

Twee van die drie beweerde renosterstropers wat Maandag hier in Louis Trichardt se Distrikshof verskyn het, is glo al voorheen skuldig bevind op soortgelyke klagte.

Die twee verdagtes, Nicolas Barend van Deventer (51) en sy broer Gideon “Deon” Gerhardus van Deventer (48) het Maandag saam met Onward Muchladngdna (41) verskyn op ‘n klag van die onwettige besit van ‘n renosterhoring.

Albei broers, wat glo in die Alldays-omgewing woon, is al voorheen skuldig bevind op klagte wat verband hou met onwettige aktiwiteite op renosters en is tronkstraf opgelê.

Die twee broers en Muchladngdna is verlede Vrydag gearresteer nadat hulle na bewering ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tyde van ‘n polisiejaagtog op die Vivo-pad by hulle bakkie se venster uitgegooi het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, die hoof van die provinsiale polisie se kommunikasie-afdeling, word die moontlikheid ondersoek dat die horing afkomstig is van ‘n voorval waarin ‘n renosterkoei en haar kalf op ‘n wildplaas naby Lephalale doodgeskiet is en van hul horings gestroop is.

Die polisie het inligting gekry oor waar die drie mans Vrydagmiddag was en die bakkie waarin hulle was, is omstreeks 14:00 op die Vivo-pad buite Louis Trichardt gesien. Van die polisielede het die sak opgetel en die afgesaagde renosterhoring daarin gekry. Ander lede van die ondersoekspan het die drie kort daarna aangekeer.

Die inhegtenisname, veral van die twee Van Deventer-broers, het opslae gemaak in die nasionale sowel as internasionale media. Die broers is na bewering berug vir hul beweerde betrokkenheid in verskeie voorvalle van renosterstropery oor die land heen.

Albei het ‘n hele lang lys van vorige oortredings. Dit sluit in, buiten vir die onwettige aktiwiteite op renosters, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, en wild- en veediefstal.

In ‘n artikel van Tony Carnie wat in die Mercury koerant van 8 Junie 2010 verskyn het, word daar beweer dat die Van Deventer-broers verbind kan word met ‘n landwye renosterhoringsindikaat wat glo verantwoordelik was vir voorvalle van stropery in die Krugerwildtuin, Bela-Bela, en Komatipoort.

Gedurende 2006 is daar beweer dat die twee verbind kan word met die onwettige dood van soveel as 22 renosters. In daardie stadium was Gideon uit op parool nadat hy in Kroonstad gevang is en skuldig bevind is op ‘n klag van die onwettige besit van renosterhorings wat hy naby Bela-Bela gestroop het.

Gedurende Augustus dieselfde jaar is hy en Nicolaas op heterdaad betrap in die Hluhluwe/Imfolozi Natuurreservaat (KwaZulu Natal). Hulle is onderskeidelik 10 en vyf jaar gevangenisstraf opgelê in terme van ‘n pleitooreenkoms wat hulle met die staat aangegaan het. In terme van dié ooreenkoms het die mans name verskaf van die sogenaamde “Fletcher Renoster Mafia” wat agente regoor die land het wat renosterhorings stroop en aan hulle verkoop.

Intussen sal die Van Deventers en Muchladngdna in aanhouding bly, terwyl die polisie die saak verder ondersoek. Al drie sal volgende Maandag, 16 Januarie, weer in die hof verskyn waarna hulle na verwagting ‘n borgaansoek sal bring.

 
 
 

Viewed: 658

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Deon van Deventer kort na sy arrestasie verlede Vrydag. Foto verskaf.

Die renosterhoring wat die drie verdagtes glo by die venster van hulle bakkie uitgegooi het terwyl hulle van die polisie probeer vlug het. Foto verskaf.

Nicolaas van Deventer kort na sy arrestasie verlede Vrydag. Foto verskaf.

Onward Muchladngdna, afgeneem kort na hy saam met die twee Van Deventer-broers naby Louis Trichardt in hegtenis geneem is verlede Vrydag. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT